Maties twis voort oor rektor se bedanking

  • 0

Die president van die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie, Jan Heunis, sê hy het reeds met die US-administrasie geskakel oor moontlike datums en lokale gedurende die eerste twee weke van Junie om ’n mosie van wantroue in hom en sy dagbestuur te bespreek.

Dit volg op ’n oor-en-weer-woordestryd per korrespondensie tussen Heunis en een van die konvokasielede, Louise van Rhyn, wat namens 248 lede van die US-konvokasie ’n ultimatum aan Heunis gestel het dat hy teen vandag (Woensdag) moet antwoord wanneer hy so ’n vergadering sal belê.

In ’n brief van 2 Mei het Van Rhyn hom versoek om ’n buitengewone vergadering van die konvokasie te belê om ’n mosie van wantroue in die dagbestuur van die konvokasie te oorweeg, oënskynlik as gevolg van hulle besluit om die bedanking van die US visekanselier en rektor, Wim de Villiers, te eis.

Die konvokasie se uitvoerende komitee het onder meer ’n beroep op die rektor gedoen om te bedank in die lig van sy “onvermoë om sy betrokkenheid by ’n ernstige geval van nepotisme te ontken en aangesien sulke gedrag besonder onaanvaarbaar is, gegewe die hoë vlakke van korrupte leierskap in ons land”.

Die resolusie het ook ’n beroep op die US-raad gedoen om gepaste stappe te doen indien die rektor versuim het om te bedank voor die raadsvergadering wat op 17 April 2023 gehou is.

Van Rhyn en haar groep eis dat ’n buitengewone vergadering van die  konvokasie op Woensdag 24 Mei gehou word. Heunis sê egter die kern van die saak is die ondersoek oor De Villiers se beweerde nepotisme en dit moet eers afgehandel word voordat hy ’n buitengewone konvokasievergadering sal belê.

Heunis het Van Rhyn Dinsdag per brief ingelig dat hy so ’n vergadering “binne ’n redelike tyd” sal belê. “Indien die vergadering gedurende die eerste of tweede week van Junie 2023 gehou sou word, wanneer die uitslag van die ondersoek beskikbaar sou wees, sou dit binne ’n redelike tyd gehou gewees het,” sê Heunis in sy antwoord.

Hy sê aangesien al die kwessies teen daardie tyd behoorlik uitgesorteer behoort te wees, dit dan ’n ingeligte bespreking en daaropvolgende besluit ten opsigte van so ’n mosie sal bevoordeel.

In haar brief aan Heunis sê Van Rhyn hulle dring daarop aan dat die konvokasie se bestuur onverwyld vergader om te besluit op ’n datum vir ’n spesiale konvokasievergadering, anders behou hulle die reg voor om verdere stappe te doen.

Heunis sê in sy antwoord haar mees onlangse brief “getuig in sy geheel van [haar] angs oor die vooruitsig van ’n buitengewone konvokasievergadering met die voordeel van kennis van die uitslag van die US-raad se ondersoek na die nepotisme-aanklagte teen die rektor”.

Hy sê hy het reeds onomwonde onderneem om ’n buitengewone vergadering van die konvokasie te belê. Niemand sal volgens hom Van Rhyn se bewering ernstig opneem dat die mosie wat hulle wil indien, nie spesifiek verband hou met die rektor se optrede en die dagbestuur se besluit oor die rektor se bedanking nie, want almal weet dit is die rede.

Intussen is beide die groepe besig om deur middel van petisies op die internet steun by alumni vir hulle onderskeie standpunte te probeer werf. 

Die groep wat die US-konvokasie se besluit steun dat De Villiers moet bedank se petisie by change.org het tans sowat 2 560 handtekeninge. Daarin word alle lede van die US-konvokasie versoek om enige vorm van nepotisme aan die US te verwerp en hul steun te toon vir die mosie wat deur die dagbestuur van die US-konvokasie aanvaar is, waardeur die rektor versoek is om te bedank.

Die ander petisie, op dieselfde platform, van die groep wat die rektor steun, het reeds 4 636 handtekeninge.

Hulle voer aan dat die besluit deur die konvokasie se bestuur dat De Villiers en die registrateur, Ronel Retief, moet bedank, nie aanvaarbaar is nie. Hulle sê dit verteenwoordig nie die mening van die meerderheid van die studenteliggaam, personeel of alumni nie, en is nie in die US se beste belang nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top