Matrieks van 2024 se uitslae bekend

  • 0

Duisende leerders van die 2024-matriekjaar regoor Suid-Afrika sal vandag toegang tot hulle eksamenuitslae hê.

Die Umalusi-raad vir gehalteversekering in die onderwys het gister (Maandag)  die land ingelig oor die 2024-matriekuitslae, wat vandag (Dinsdag) bekendgemaak word. Umalusi stel en monitor standaarde vir algemene en verdere onderwys en opleiding in Suid-Afrika.

Umalusi sê hulle is uiters bly dat daar geen gevalle was van vraestelle wat uitgelek het, of dat enige ander onreëlmatighede opgespoor is wat die eksamen se geloofwaardigheid in die gedrang bring nie.

Umalusi se voorsitter, Yunus Ballim, het gesê daar is geen sistemiese onreëlmatighede aangemeld wat die algehele geloofwaardigheid en integriteit van die eksamens kon benadeel het nie.

Mafu Rakometsi, uitvoerende hoof van Umalusi, het Maandag tydens die media-inligtingsessie in Pretoria gesê die liggaam bly egter “ernstig bekommerd dat KwaZulu-Natal en Mpumalanga weer boaan die lys is” van gevalle van leerlinge wat in die eksamens uitgevang is dat hulle afskryf.

Terwyl die aantal aangemelde gevalle van leerlinge met skelm notas nasionaal van 945 in 2023 tot 407 in 2024 afgeneem het, was altesaam 195 kandidate in KwaZulu-Natal en 74 in Mpumalanga by afskryf betrokke.

Hy het ook gesê dat ’n verslag van die Departement van Basiese Onderwys aandui dat ’n onafhanklike skool 30 kandidate wat nie graad 11 geslaag het nie, toegelaat het om vir die graad 12-eksamen te registreer.

“Dit is hoogs onreëlmatig. Umalusi is tevrede met die stappe wat gedoen is om die registrasiestatus van die betrokke skool terug te trek.”

Daar is ook gevind dat die 2024-matriekuitslae aanlyn vir R100 verkoop is. Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het Maandag tydens ʼn nuuskonferensie gesê ondersoeke daaroor is aan die gang.

Meer as 870 000 leerders het verlede jaar die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen afgelê.

Die algemene uitslae is gister deur Gwarube bekendgemaak en individuele resultate sal vandag aan die media bekendgemaak word. Die top 20 presteerders het Maandagoggend ’n ministeriële ontbyt saam met Gwarube geniet. 

Die uitslae sal in die media gepubliseer word. Dit volg nadat die Inligtingsreguleerder verlede week ’n hofstryd verloor het om die publisering van die resultate in koerante te keer. Hulle het aangevoer dat dit in stryd is met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPI).

Leerders wat nie tevrede is met hulle matriekuitslae nie, kan volgens die Departement van Basiese Onderwys aansoek doen om hulle eksamenskrifte teen ’n fooi te laat hersien of herkontroleer. Registrasie kan by die betrokke skool of distrikskantoor in die provinsie gedoen word, of aanlyn by www.eservices.gov.za.

Hierdie hersiene uitslae sal vanaf 7 Maart vrygestel word en sal beskikbaar wees by die skool of eksamensentrum waar die finale vraestelle geskryf is.

Diegene wat hulle eksamenuitslae wil verbeter, kan in Mei of Junie vanjaar die eksamen herskryf. Die sluitingsdatum om hiervoor te registreer is 7 Februarie. Die hereksamen in Februarie/Maart is uitgefaseer en is dus nie meer beskikbaar nie.

Umalusi het die matrieks van 2024 wat in die eksamens geslaag het, gelukgewens en alle rolspelers bedank wat die matrieks van 2024 tot hierdie belangrike dag gelei het. Hulle boodskap aan dié leerders wat nie geslaag het nie, is om nie moed op te gee nie, harder te werk en aan te hou probeer.

Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, David Maynier, het diegene wat nie geslaag het nie, aangeraai om ander opsies te volg om te verseker dat hulle hul matriekkwalifikasie voltooi.

“Terwyl die slaagpersentasie ’n belangrike aanwyser is wanneer die matriekuitslae geassesseer word, moet ons ook ander aanwysers oorweeg, soos die aantal kandidate wat ’n baccalaureuslaagpunt behaal het, die aantal kandidate wat skryf en slaag, en die afname in die aantal skole wat onderpresteer.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top