Matriekuitslae: selfs net "deurgekom" wil gedoen wees

  • 0

Die bekendmaking van Suid-Afrika se matriek- of graad 12-uitslae word jaarliks deur groot afwagting voorafgegaan: dit is nie net vir die leerders ’n spanningsvolle periode nie, maar ook vir hul families, vir skoolpersoneel – én vir politici.

Pas het ons by Angie Motshekga, nasionale minister van basiese onderwys, gehoor dat die 2018-slaagsyfer 78,2% was. Dit is ’n 3,1%-verbetering op 2017 se 75,1%.

Wat vooraf op die spel is vir die leerders is, eenvoudig gestel, of hulle inderdaad hul skoolloopbaan ná 12 jaar (of dalk meer indien hulle van die grade moes herhaal) vaarwel kan toeroep, of hulle die transformasie sal kan maak na naskoolse onderrig en of hulle sekere vakke of die hele jaar sal moet herhaal.

Ouers sal wil weet of hulle kind geslaag het sodat hulle nie meer die onkoste vir ’n skoolgaande kind hoef aan te gaan nie: die kind kan nou gaan studeer, wat weliswaar sy eie uitgawes het, maar darem ook die vooruitsig van studiebeurse en staatsgesubsidieerde gratis onderrig.

Die uitslae sal ’n aanduiding vir die skoolpersoneel wees of hulle eie harde werk vrugte afwerp en of hulle dalk met ’n hele paar van dieselfde gesigte in hul reeds oorvol klaskamers te make sal hê. Dit is die situasie vir openbare skole; in private skole vind jy aansienlik kleiner, meer hanteerbare, leerdergetalle per klas – en in die algemeen báie beter uitslae.

En dan wat die politici betref: ’n Goeie slaagsyfer word deur die politici beskou as ’n aanduiding dat hulle hulself goed van hul taak kwyt in terme van die hantering van die onderwysportefeulje en die wyse waarop hulle leierskap toon.

In hierdie opsig sou die provinsiale ministers van onderwys in die provinsies waar die beste resultate behaal is, Gauteng, die Vrystaat en die Wes-Kaap, breëbors kon stap.

Wanneer dit ’n swak slaagsyfer is, plaas die opposisie en kenners druk op die bepaalde politikus wat as provinsiale of nasionale minister van onderwys dien. Jy hoor dikwels ook ’n aandrang op die bedanking van sodanige politikus – soos nou weer.

Die amptelike opposisie, die DA, het reeds versoek dat ’n dringende vergadering gehou word met Motshekga en die provinsiale ministers van die “swakste” provinsies – Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal, Vrystaat en Oos-Kaap – sodra die parlement oor sowat ’n maand heropen.

’n Ander aspek word deur die DA en onderwyskenners te berde gebring, naamlik hoe “volledig” die 2018-uitslae is. Hierdie argument word gebou op die vergelyking van die aantal leerders wat graad 8 in 2016 gedoen het met hoeveel uiteindelik twee jaar later die matriekeindeksamen afgelê het – 1 067 075 teenoor slegs 512 735 wat in 2018 matriek geskryf het.

Dit is wat maak dat die DA daarop aandring dat die “regte” matriekslaagsyfer vir 2018 in werklikheid slegs 37,6% is.

Op grond hiervan maak die Wes-Kaap ook daarop aanspraak dat dié provinsie eintlik die beste gevaar het – en dus nie die derde plek ná Gauteng en die Vrystaat behoort te beklee nie: gemiddeld 60% van die provinsie se graad 10’s het in die stelsel gebly tot in matriek, wat beter as enige van die ander provinsies is, het die Wes-Kaapse provinsiale regering verklaar.

Nagenoeg 400 000 kinders wat saam met 2018 se matrieks in 2007 begin skoolgaan het, het ook die stelsel verlaat voordat hulle matriek gehaal het, dui die onderwyskenner en navorser Nic Spaull van die Universiteit Stellenbosch aan. Het hierdie skoolverlaters enige verdere onderrig of opleiding sedertdien ontvang? wil Spaull by Motshekga weet.

Wat is dan die oorsake van die uitvalkoers?

Die antwoord is ’n mengelmoes van faktore: In die stelsel self is dit aspekte soos skole wat met onvoldoende geriewe moet klaarkom, die negatiewe invloed van vakbonde op die bestuur van skole, en daarmee saam onderwysers wat swak opgelei is of nie vir hul spesifieke poste geskik is nie.

In Chase Rhys se novelle Kinnes word die situasie geïllustreer deur die karakter Nicole se vertelling: “Die skole hier by ons issie die beste nie. (...) Daar is ’n paar teachers van my ma-hulle se tyd wat nog altyd daar is. They’re good, but daar is ’n paar vannie nuwe teachers wat rêrag nie educators moet wees nie. I mean, hulle sê Mrs Davis het gestudy om ’n hairdresser te word but sy leer dan die kinders Natural Science.”

En dan is die uitvalkoers veral ook te wyte aan maatskaplike uitdagings in die breër samelewing, soos tienerswangerskappe (soms meegebring deur onderwysers wat seksuele verhoudings met leerders aanknoop), dwelmmisbruik, ouerlose huishoudings (waar die oudste kind moet omsien na die jongstes nadat die ouers gesterf het) en altyd maar ook die alomteenwoordige armoede.

Maar ongeag wat die belangrikste oorsaak vir die uitvalkoers ook al mag wees, dra dit ongetwyfeld by tot die verklaring vir Suid-Afrika se werkloosheidsyfer van rondom 30%. Erger nog: dit is duidelik een van die faktore wat die werkloosheid onder die jeug (ouderdomme 15 tot 34) op 38,2% te staan bring, aldus syfers van Statistieke Suid-Afrika (Stats SA).

Hier is die kommerwekkende aspek, soos aangehaal vanaf die Stats SA-webwerf: “Sommige van hierdie jong mense is ontmoedig deur die arbeidsmark en hulle is ook nie besig om hulself met broodnodige vaardighede deur opvoeding en opleiding toe te rus nie.”

Om dan terug te keer na die debat oor die geloofwaardigheid van die uitslae, wat ook aangemoedig word deur kritiek op wat beskou word as ’n belaglik lae vereiste slaagpersentasie van 30%. Wat oënskynlik nie in hierdie debat in ag geneem word nie, is dat ’n slaagrapport in matriek vir baie (minder gegoede of laaggeskoolde) gesinne dikwels nog, glo dit of nie, die beste skolastiese prestasie in die onmiddellike familie beteken.

Die gehamer op die geldigheid van die uitslae skyn ook nie die harde werk van die leerders en onderwysers voldoende in berekening te bring nie, daaraan erkenning te gee nie, en kan daarom alte maklik as ’n elitistiese, indien nie eintlik maar politieke nie, debat beskou word.

’n Punt is ook die afgelope week geopper waarvan elke tersiêre instelling sal kan getuig, te wete dat ’n goeie slaagsyfer in matriek – en verskeie onderskeidings – geen waarborg vir goeie prestasie op hoëronderwysvlak is nie. Of vir ’n suksesvolle loopbaan posttersiêre onderrig nie. Omgekeerd sou ’n mens seker ook kon sê dat dit tog moontlik is dat sommige van die leerders wat sedert 2007 tussen graad 1 en graad 12 uitgeval het, of matriek gedruip het, wél vandag goeie loopbane of besighede kan hê.

Het ek dan nie self matriek maar met ’n D-simbool geslaag nie? D, skerts ek altyd, vir genadiglik “Deurgekom” of deur Genade “Deurgedra”.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top