Matriekuitslae wel in media na appèlaansoek 

  • 0

Vanjaar se matriekuitslae sal vanjaar net soos in die verlede in die media gepubliseer word. Dit is ten spyte van ’n opdrag deur Suid-Afrika se Inligtingsreguleerder (IR) aan die Departement van Basiese Onderwys (DBO) om nie die 2024-matriekuitslae in koerante te publiseer nie, weens die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPI).

Die DBO het appèl aangeteken teen die opdrag van die IR dat die uitslae nie in die media openbaar gemaak mag word nie.

Die DBO het verlede Vrydag dokumente by die hof ingedien in ’n poging om die afdwingingskennisgewing ter syde te laat stel.

Die Pretoriase Hooggeregshof het beslis dat die DBO die 2024-matriekuitslae hangende die uitslag van die appèl in die media mag publiseer, ondanks die IR se opdrag daarteen.

“Die appèl beteken dat die afdwingingskennisgewing opgeskort is en dat die departement voortgaan en uitslae aan mediahuise bekend maak wat dit ingevolge die gevestigde praktyk sal publiseer waarin slegs eksamennommers gebruik word,” het die DBO se woordvoerder, Elijah Mhlanga, gesê.

Die DBO sê in ’n verklaring hulle het nog nooit klagtes ontvang oor die publisering van Nasionale Senior Sertifikaateksamen-uitslae in koerante nie.

Rufus Poliah, die DBO se direkteur van assessering en eksamens, het gesê volgens regsadvies wat die departement ontvang het, moet die DBO leerders akkommodeer deur die uitslae in die media bekend te maak. Dit is omdat baie leerders nie naby hul skole is op die tyd dat die uitslae beskikbaar is nie.

Poliah het aangevoer dat die uitslae anoniem verskyn met slegs die leerders se unieke eksamennommers en dus nie in stryd met die POPI-wet is nie.

AfriForum het die nuus verwelkom.

In ’n verklaring wat deur die DBO uitgereik is, sê hulle dat die besluit om wel die uitslae in die media te publiseer, gegrond is op ’n hofuitspraak van 2022 wat die departement verplig het om die uitslae te publiseer.

Die hofuitspraak waarna verwys word, is dié in die saak van AfriForum en ander partye van 2022 wat verseker het dat die matrikulante van 2021 se resultate gepubliseer kon word. Die regter het bevind dat die aard van die uitslae wat gepubliseer word, niemand se privaatheid skend nie. Hy het die departement destyds opdrag gegee om met die publikasie voort te gaan. Die sukses van 2022 het dus ook ’n deurslaggewende rol vir die matrieks van 2024 gespeel.

AfriForum sê in ’n verklaring hulle hou vol dat dit in openbare belang is dat hierdie inligting in die media gedeel word. “Dit is een van die redes waarom ons destyds hierdie aansoek gebring het en vanjaar weer gereed was om met regsaksie teen die IR voort te gaan. Ons is verheug dat die hof ons in 2022 gelyk gegee het in hierdie argument en nog meer bly dat die matrieks vanjaar weer hulle uitslae op hierdie wyse sal kan bekom,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.

Totdat die appèlproses afgehandel is, is die IR se opdrag dus op ys en sal dit moontlik wees om uitslae te publiseer.

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het vroeër tydens ’n media-inligtingsessie gesê dat die amptelike vrystellingsdatum vir die matriekuitslae op 13 Januarie 2025 vasgestel is wanneer sy die uitslag van die eksamens sal aankondig.

Uitslae sal die volgende dag op 14 Januarie 2025 aan kandidate bekendgemaak word.

Die minister het die departement se verbintenis tot akkuraatheid en regverdigheid beklemtoon.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top