Max du Preez en Helen Zille pak mekaar oor ’n koppie tee vir twee

  • 0

Die veteraanjoernalis Max du Preez en die ewe gesoute politikus Helen Zille pak mekaar volgende maand kaalvuis in ’n openbare debat nadat hulle mekaar op Twitter in die hare gevlieg het.

Du Preez het hom vir Zille vervies toe sy verlede week skerp kritiek op die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) uitgespreek het. Dit was nadat Sanef die hof genader het om die EFF-leierskap te verplig om hul veldtog van intimidasie en dreigemente van geweld teen joernaliste te staak.

Max du Preez en Helen Zille (Foto’s: LitNet)

Sy meen dit sal ’n kwade dag wees as Sanef die saak teen die EFF wen, want volgens haar sal dit vryheid net verder inperk.

Zille se twiet het ’n yslike storm ontketen waarin sy en Du Preez mekaar oor en weer sleggesê het. Later het sy gesê dit help nie om mekaar op Twitter aan te vat nie, aangesien mens slegs ’n sekere aantal karakters het om jou saak te stel. Sy het Du Preez tot ’n openbare debat uitgedaag, wat hy aanvaar het.

Die debat sal op 2 September deur middel van ’n potgooi geskied. 

Du Preez sê hy aanvaar die uitnodiging om met haar in debat te tree, maar vertrou haar nie na haar “batshit-crazy Zuma/Trump”-optrede op Twitter nie. Hy sê hy sal met haar in debat tree mits daar niks aan die gesprek geredigeer word nie, en geen onderwerp mag taboe wees nie. Daar moet ook nie ’n tydbeperking op die gesprek wees nie.

Vroeër in hulle bekgeveg op Twitter het Zille na Du Preez verwys as “sweety” toe sy hom vir tee genooi het om die debat verder te voer. Du Preez het teruggekap en gesê hy sal sy eie tee bring en sal nie eers omgee as sy hom weer “sweety” noem nie.

Die geveg tussen die twee het begin toe Zille verwys het na ’n stuk deur die oudredakteur Ferial Haffajee waarin sy vertel hoe sy deur die EFF geteiken en gedreig word. Zille het ietwat sarkasties geskryf dat dit vir haar wat Helen is, soos ’n normale dag op kantoor klink. Haffajee het geantwoord deur te verduidelik dat die Sanef-aansoek nie die EFF se mond wou snoer nie, maar om ’n veldtog van die EFF te stuit wat ten doel het om die vrye beweging van en verslaggewing deur joernaliste stop te sit.

Zille se twiet wat die vonk in die kruitvat was, lui soos volg: “For the longest time, the ‘woke’ media actually built up the EFF with what can only be described as ‘fawning’ coverage. Now that the EFF has turned on them, they do not like it. That explains a lot.”

Du Preez het in Vrye Weekblad geskryf dit lyk vir hom of Zille sukkel om vrede te maak daarmee dat sy nie meer politieke mag het nie. “Of is dit net ’n geval van ’n woeste midlife crisis? Dis tragies, want ek dink sy het eens ’n baie groot en positiewe rol in ons politiek gespeel. Sy was altyd reguit en onintimideerbaar, ’n harde werker en goeie administrateur.”

Volgens hom het sy nou in ’n wraaksugtige, reaksionêre en onverdraagsame aandagsoeker ontaard. “Sy gee blykbaar nie om watter skade sy aanrig nie, solank sy klappe kan uitdeel en aandag trek, is sy tevrede. En sy is so toondoof soos ’n erdwurm. Sy het meer as enigiemand anders gedoen om die DA die amptelike opposisie te maak, maar nou is sy ’n verleentheid vir die party,” het Du Preez in Vrye Weekblad geskryf.

Zille sê egter joernaliste behoort nie groter beskerming as ander mense te geniet nie en volgens haar is dit die kruks van die saak.

........

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top