Mbeki kap na Zuma en vry na Afrikaners

  • 0

Oudpresident Thabo Mbeki het ’n paar harde klappe na sy opvolger Jacob Zuma uitgedeel terwyl hy Afrikaners wat wil help om die land te herbou, geprys het.

Mbeki het die uitlatings die afgelope week gemaak tydens ’n toespraak ter viering van die herdenking van en besinning oor Suid-Afrika se 30 jaar van vryheid en demokrasie by Freedom Park in Tshwane.

Mbeki het Zuma beskryf as ’n bedrieglike figuur deur hom as ’n “wolf in skaapsklere” te bestempel weens sy beweerde rol in die pogings om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te destabiliseer.

Oor die Afrikaner Verklaring het hy gesê hy beskou dit as ’n uiters belangrike dokument wat by ’n nasionale dialoog bespreek moet word.

Die Afrikaner Verklaring het sedert die uitreiking daarvan uiteenlopende reaksies onder Afrikaners sowel as ander Suid-Afrikaners uitgelok.

Dit is die eerste verklaring van sy soort sedert die aanbreek van demokrasie 30 jaar gelede. ’n Handvol organisasies, waaronder die Solidariteit-beweging en die Afrikanerbond, het die verklaring onderteken.

Die organisasies sê hulle verteenwoordig nie elke Afrikaner nie, maar hulle verteenwoordig sowat twee miljoen lede.

Die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, is een van die Afrikaners wat die verklaring verwelkom het, hoewel hy sê hy sal dit nie onderteken nie. Baie ander Afrikaners het hulle daarvan gedistansieer.

Volgens Mbeki het die verklaring hom diep getref. Hy sê die verklaring praat oor ’n uiters belangrike saak wat alle Suid-Afrikaners behoort te deel, naamlik dat almal moet bydra tot die welstand van die land en al sy mense.

Van die kwessies wat in die verklaring aangepreek word en wat Mbeki veral opgeval het, is dat die ondertekenaars daarvan dit duidelik maak hulle is hier om te bly en ’n bydrae wil lewer vir die land en sy mense en dat die verlede nie almal se toekoms moet vernietig nie. 

Mbeki sê dit is presies die gees en edele gesindheid wat waarborg dat die land sy probleme kan oorkom indien almal saamwerk.

Oor Zuma, wat hom as president onttroon het, het Mbeki minder vleiende woorde gehad.

Volgens Mbeki is die enigste logiese gevolgtrekking van Zuma se presidentskap dat dit daarop gemik was om die nasie te mislei, en het dit as teenrevolusionêr bestempel.

Mbeki het Zuma se optrede as strydig met die revolusionêre gees beskryf, wat impliseer dat hy moontlik kop in een mus was met voormalige apartheidsagente wat die ANC na 1994 geïnfiltreer het.

Volgens Mbeki het hierdie verskuiwing in 2002 begin toe daar besluit is om die leierskapstruktuur onder sy leierskap destyds te verander.

Met verwysing na bevindings van beide die Nugent-kommissie oor SAID en die Zondo-kommissie het Mbeki beklemtoon dat hulle kennis geneem het van Zuma se betrokkenheid by pogings om die SAID tydens sy presidentskap te ondermyn.

Hy sê die Nugent-kommissie het onthul dat Zuma regstreekse verbintenisse gehad het met Bain & Company, ’n firma wat betrokke was by pogings om die SAID te vernietig.

“Hoe verklaar ons ​​hierdie legkaart? Die enigste logiese manier om dit te verklaar is dat, hoe moeilik dit ook al mag wees om te begryp, ons hier te doen het met ’n wolf in skaapsklere,” Mbeki gesê.

Mbeki het Zuma ook vir Eskom se verval blameer. Hy het gesê ’n verslag van die spesiale ondersoekeenheid wat in 2017 aan Zuma oorhandig is, het bevind dat Eskom se uitvoerende bestuur en direksie nie ag geslaan het op waarskuwings van werknemers dat die maatskappy teen Desember 2007 ’n potensiële tekort aan steenkool in die gesig staar nie.

“Die Eskom-bestuurders het eenvoudig instruksies oortree om hul steenkoolvoorraad aan te vul totdat hulle letterlik sonder steenkool by baie van die kragstasies gesit het. Dit was ’n doelbewuste poging om die voorsiening van elektrisiteit in die gedrang te bring,” het hy gesê.

Volgens Mbeki sal dit oneerlik wees om nie te erken dat van die negatiewe ontwikkelings in die land se bestuur oor die 30 jaar van demokrasie die gevolg was van negatiewe optrede deur lede van die regerende ANC nie, en dat die party dit self moet erken.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top