Foto: YouTube
Suid-Afrika se nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, het Suid-Afrikaners gister met ’n dolleë beursie en ’n gekaapte staat wat tot op die hoogste vlak deur korrupsie gekenmerk word, probeer oortuig die land is op ’n nuwe koers.
Mboweni het tydens sy nooiensoptrede as minister van finansies sy mediumtermynbegrotingstoespraak in die parlement gehou.
Die minister het toegegee die land bevind hom op ’n kruispad. Hy het korrupsie uitgesonder as een van die groot struikelblokke wat uit die weg geruim moet word as die land ekonomies wil oorleef.
Met sy hande as’t ware agter sy rug vasgemaak, het die minister alles in sy vermoë gedoen om die land se ekonomiese wiele weer aan die rol te probeer kry.
Hy het diegene wat verantwoordelik is vir korrupsie en die plundering van die staatskas gewaarsku dat hulle sonder skroom vervolg sal word en tronk toe sal gaan as hulle skuldig bevind word.
Mboweni sê die geld wat munisipaliteite weens die ineenstorting van VBS Mutual Bank verloor het, bied ’n dramatiese blik op die uitwerking van gulsigheid en korrupsie in die land se ontwikkelingsdoelwitte.
Gewone Suid-Afrikaners kan hulle darem daaraan troos dat geen nuwe belastings binnekort in die vooruitsig gestel word nie. Die armstes van die armes sal volgende jaar ook ’n paar sent meer in die sak hê wanneer enkele basiese items soos meel en sanitêre doekies van 1 April vrygestel word van BTW.
Die minister het ook ’n gunstiger klimaat probeer skep vir plaaslike en buitelandse beleggers. Hy het klem gelê op die belangrikheid van die privaatsektor se rol in die ekonomie en die herstel van beleggersvertroue.
Staatsbeheerde korporasies soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat tans in ’n finansiële chaos gedompel is, moet dramaties reggeruk word, het die minister gesê. Hy het gesê ’n oopkopbenadering is nodig om al die sukkelende staatsondernemings te red. Private beleggers moet gevind word en as ondernemings nie gered kan word nie, moet oorweeg word om dit te sluit. Dit was ’n ooglopende verwysing na die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat gister weereens ’n reddingsboei van R5 miljard beloof is.
Uit sy eerste toespraak as minister van finansies was dit duidelik Mboweni is deeglik daarvan bewus dat ’n groot deel van die land se ekonomiese agteruitgang voor die Zuma-regering se deur gelê kan word.
Hy het sy toespraak begin met ’n aanhaling uit Charles Dickens se bekende verhaal, A tale of two cities met ’n kwalik bedekte skimp na die Zuma-era:
It was the best of times, it was the worst of times, it was the age of wisdom, it was the age of foolishness, it was the epoch of belief, it was the epoch of incredulity, it was the season of Light, it was the season of Darkness, it was the spring of hope, it was the winter of despair, we had everything before us, we had nothing before us, we were all going direct to Heaven, we were all going direct the other way—in short, the period was so far like the present period, that some of its noisiest authorities insisted on its being received, for good or for evil, in the superlative degree of comparison only.
Daar sal daadwerklik en verbeeldingryk opgetree moet word om te red wat daar te red is maar dit gaan beslis nie oornag gebeur nie.
Buro: NB