McKenzie ontken hy het die soustrein gery Olimpiese Spele toe 

  • 0

Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, is boos omdat hy daarvan beskuldig word dat hy op die soustrein ry nadat dit aan die lig gekom het sy reis na die Olimpiese Spele vroeër vanjaar het die belastingbetalers sowat R800 000 gekos.

Hy het op Facebook uitgevaar teen die media en hulle daarvan beskuldig dat hulle lieg.

“Media lieg weer. Ek het nie die Olimpiese Spele bygewoon nie; ek het vir vergaderings met ander ministers van ander lande gegaan.

“Ek het eers die openingsdag bygewoon en die volgende dag vertrek omdat ek my portefeulje wou leer ken. Hou op lieg dat ek die Olimpiese Spele bygewoon het; ek het nie. Ons media het geen skaamte nie,” het McKenzie geskryf.

Daar is verlede week berig belastingbetalers het R804 597 betaal vir McKenzie se reis na Frankryk.

Dit het R215 976 vir vlugte, R113 271 vir verblyf en R454 005 vir grondvervoer ingesluit.   

Die begroting wat goedgekeur is vir amptenare om die Olimpiese Spele by te woon, was R1 805 355.

Die inligting oor die koste van McKenzie se besoek aan Parys het aan die lig gekom in antwoord op ’n vraag van die DA-parlementslid Liam Jacobs in die parlement. Hy wou by McKenzie weet of hy die Olimpiese Spele bygewoon het en wat die totale koste verbonde aan die reis was.

Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur sê hulle het R27,9 miljoen bestee om Span Suid-Afrika na die Olimpiese Spele te stuur. Daarvan was byna R1 miljoen vir McKenzie se reis.

Dit het kritiek uit sekere oorde ontlok, gegewe McKenzie se eie kommer oor departementsbesteding aan die begin van sy ampstermyn, toe hy belowe het dat hy op kunste en sportmense sal fokus.

Michael Beaumont, nasionale voorsitter van ActionSA, het McKenzie daarvan beskuldig dat hy superaanhangers tot sy eie voordeel “verruil” het.

“Het ons bloot een superfan vir ’n ander minister verruil @GaytonMcK?” het Beaumont op X gevra.

McKenzie het op X gesê hy het ses byeenkomste in Parys bygewoon voor die begin van die Spele. “Ek het na die atletiekvilla gegaan om ons atlete te groet, ek het die openingseremonie bygewoon en die hokkie-, gimnastiek- en seweswedstryd gekyk, ek het die Ekhaya-dorpie geopen en die res van die Olimpiese Spele op TV gekyk. Watter joyride?” het hy op X geskryf en foto's van sy reis na Frankryk verskaf.

Hy het superaanhangerreise gekanselleer kort nadat hy in Julie aangestel is, met verwysing na die noodsaaklikheid om koste te besnoei.

Die Departement het verlede jaar R1,3 miljoen van belastingbetalers se geld bestee om superaanhangers Mama Joy Chauke en Botha Msila na die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk te stuur, maar McKenzie het ’n stokkie daarvoor gesteek toe hy as minister oorneem.

Hy sê hy het die Olimpiese Spele dieselfde dag verlaat nadat hy die Ekhaya-dorpie geopen het waar die Suid-Afrikaanse atlete tuisgegaan het. Die res van die tyd in Frankryk het hy regeringsvergaderings met ministers van ander lande gehad, sê hy.

“Ek kon gebly het, maar wou my nuwe portefeulje leer ken. Hou op om vir mense te lieg.”

McKenzie se ondersteuners op sosiale media staan bankvas agter hom. Steven Jacobus Jacobs het op Facebook gesê die media moet ophou met hulle smeertaktiek teen mense. Hy meen die “poniekoerante” maak nie geld nie, daarom doen hulle alles in hul vermoë om mense swart te smeer ongeag die posisie wat hulle beklee.

Devon Hofmeyr, wat vir die omstrede diamanthandelaar Louis Liebenberg werk, het op McKenzie se Facebook-blad gesê hy stem saam met hom en dat die media daarvan hou om snert aan die publiek te verkondig om mense te diskrediteer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top