Mediavrystelling: Afrikaans kook, sê die Afrikaanse Taalraad se Kokerwenners

  • 0

Aksie van die burgerlike samelewing: Saam die toekoms in met Afrikaans


Mediavrystelling: Afrikaans kook, sê Taalraad se Kokerwenners

’n Joernalis en omroeper, ’n uitvoerende direkteur en hoofredakteur, ’n dosent en taalpraktisyn, ’n uitvoerende voorsitter en skrywer, ’n uitvoerende direkteur en taalaktivis, ’n nuusanker en joernalis, ’n taalaktivis en tydelike dosent vir Afrikaanse Taalverwerwing en ’n projekbestuurder wat op haar gelukkigste is wanneer sy stories deel met jong kinders, ontvang almal vanjaar Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad.

Die Kokertoekennings gee erkenning aan mense vir hulle bydraes tot die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook praktiese bemagtiging deur die taal. Spesiale jeugtoekennings word gemaak, asook toekennings wat lewenslange bydraes erken.

“Ons wil sien dat mense wat agter die skerms vir Afrikaans werk erkenning kry, iets wat veral van toepassing is op vanjaar se Kokertoekennings vir lewenslange bydraes. Jonger Kokerwenners dien weer as inspirasie vir die jonger generasie moedig hulle aan om meer vir hulle taal te doen,” sê Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR.

Volgens Steenkamp wys die wenners dat Afrikaans meer as een gewaad dra. “Afrikaans verbind al sy sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat. En onderliggend aan alles is natuurlik nog altyd die beginsel dat Afrikaans nie eenkant op ’n mishoop sit nie, maar aktief met die sprekers van die ander inheemse tale saamwerk om die sukses van ’n ware meertalige bestel te verseker.”

“Die Kokertoekennings is ’n geleentheid om die verskilmakers in die Afrikaanse taalgemeenskap te vereer vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen. Kokerwenners dra direk by die tot ryke erfenis van die Afrikaanse taalgemeenskap in sy geheel en daarvoor salueer ons hulle”, sê Annelise de Vries, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

Willem Botha word vereer met ’n Koker vir Lewenslange bydrae. Onder sy planmatige bestuur het die Buro van die WAT te midde van ’n toenemende vermindering van staatsbefondsing gegroei tot ’n finansieel gesonde maatskappy. Dít het hy onder andere vermag deur intensiewe fondswerwing en die implementering van innoverende projekte soos Borg ’n Woord, asook vennootskappe soos die Sluk jou woorde-wynreeks. Sy weeklikse praatjies op die radiostasie RSG het van hom ’n bekende stem in menige Afrikaanse huishouding gemaak. Danksy wye mediablootstelling en projekte soos die WAT se jaarlikse Nuutskeppingskompetisie in samewerking met RSG en die ATKV, asook die Treffendste Afrikaanse Handelsnaam-kompetisie, het die WAT deur Botha se toewyding ’n huishoudelike naam geword. Met die WAT het Willem Botha verseker dat Afrikaans in den brede, sy regmatige plek naas die ander amptelike tale in Suid-Afrika inneem. 

Mariëtta Kruger ontvang die Koker vir Lewenslange Bydrae. Sy begin haar 42 jaar lange loopbaan in 1980 by die toenmalige Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK, later slegs SABC) waar sy tot in 1984 werksaam is as joernalis en omroeper by die nuusdiens en Radio Suid-Afrika. Sy is ook die regisseur en aanbieder van die radionuusprogramme Monitor en Spitstyd. Mariëtta is nie net een van die bekendste gesigte en stemme in Afrikaanse TV- en radiokringe nie; sy is ook en beskermvrou van Afrikaans. Sy het haar lewe gewy aan Afrikaans – in die uitsaaiwese, maar ook in die doen-en-late van haar persoonlike lewe. Gegewe haar liefde vir die taal, kry sy hiermee  erkenning vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans.

Chareldine van der Merwe (Koker vir bemagtiging deur Afrikaans), is projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans. Haar werk behels onder meer leesontwikkelingsprojekte, voorlesings aan kinders, en die uitdeel van boektrommels. “Geletterdheid is die brug van ellende na hoop, geletterdheid beteken dat jy moet kan lees. Dit is daarom my missie in die lewe om aan elke kind die geleentheid te bied om uit hul/ons ellende te kom deur gesonde leesgewoontes, veral onder leerders aan primêre skole, aan te wakker,” sê sy. Sy is ook betrokke by ’n boekklub waar sy volwassenes aanmoedig om as aktiewe lesers voorbeelde vir hulle kinders te wees en stories aan hul kinders voor te lees. Chareldine tree ook op as beoordelaar van taal- en leesontwikkelingsprojekte, o.a. Woorde open Wêrelde (WOW), verskeie leeskompetisies en die ATKV se Woordveertjies.

Karien Brits ontvang ’n Koker vir die bevordering van Afrikaans. Sy is ’n dosent en taalpraktisyn by Akademia. Sy het onder meer ’n meestersgraad (cum laude) in Setswana aan Noordwes-Universiteit verwerf. Karien se navorsingsfokus is meertaligheid en taalbeplanning, maar sy stel ook belang in taalverwerwing, morfologie, taaltegnologie en onomastiek. Haar groot liefde vir taalaanleer vind neerslag in die praktyk en sy het die volgende tale op haar kerfstok: Duits, Pools, Spaans, Frans, asook van die Sotho- en Ngunitale. Sy is tans besig om Turks en Russies aan te leer. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is ’n artikel in die South African Journal of African Languages oor taalstereotipering en meertaligheid. Sy bevorder ook Afrikaans in haar rol as hoof van die Akademia Uitgewery. Die uitgewery mik op die uitbou van die Akademia se akademiese reputasie en geloofwaardigheid en het ’n pligs- en roepingsbesef teenoor Afrikaans as kultuur- en navorsingstaal. Hiermee doen Karien baie om die taal se lewenskragtigheid te bevorder.

Danie van Wyk, taalaktivis, ontvang ’n Kokertoekenning vir sy rol in die beskerming van Afrikaans. Sy missie, as voorsitter van die DAK-netwerk, is om die belange van agtergestelde Afrikaanse spraakgemeenskappe te bevorder ten einde te help om ’n ekonomies inklusiewe samelewing daar te stel. “Ons het bewus geword van die behoeftes van bruin en swart Afrikaanssprekers en spreek die nalatenskap van apartheid aan en die nadelige effekte van daarvan op hierdie spesifieke gemeenskappe’” sê Danie. Hy beywer hom vir bewusmaking van die belangrikheid van moedertaalonderrig en was in gesprek hieroor met die Wes-Kaapse onderwysdepartement asook die Universiteit Stellenbosch. Danie was ook deel van die protesoptog na Minister Blade Nzimande se kantoor om druk uit te oefen om Afrikaans as inheemse taal te erken. Hy roer gereeld aktuele taalsake aan in artikels op LitNet en probeer sodoende die debat te verryk.

Barron Hufkie, ontvanger van ’n Jeugkoker,  is gebore en getoë in die Oos-Kaapse dorpie Somerset-Oos en is tans in Johannesburg woonagtig. Hy is 'n perfekte voorbeeld van iemand wat nie net trots op sy Afrikaanse erfenis is nie, maar ook ’n punt daarvan maak om Afrikaans in Engels-gedomineerde media-omgewings te vier. Hufkie, ’n nuusanker op kykNET se eNuus asook eNCA, het vanaf sy kampusradiodae doelbewus mediaruimtes en platforms gesoek om die komplekse veelsydigheid van Afrikaans uit te lig en te ondersoek. Tydens die taaldebat op die Matie-kampus in 2015, het Hukfie sy ontbytprogram op MFM 92.6 vir taalgesprekke gebruik om mense bewus te maak van die inklusiewe en nie-rassige aard van Afrikaans. Hy dien as aansporing vir die jeug om vreesloos Afrikaans te wees.

Marlie Coetzee, tans uitvoerende direkteur van VivA, ontvang ook ’n Jeugkoker. Sy het ’n BA in kommunikasiekunde verwerf, waarna sy haar nagraadse diploma in besigheidsbestuur voltooi het. Daarna het sy as projekbestuurder gewerk by VivA en die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®) van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat taaltegnologieprodukte vir Suid-Afrikaanse tale ontwikkel. Sy het onlangs haar meestersgraad in Besigheidsadministrasie (MBA) by die NWU verwerf. Marlie is ook aan stuur van sake van VivA se Lees-en-luisterbiblioteek en -toepassing wat twee jaar gelede bekend gestel is. Marlie werk ook om die relevansie van Afrikaans internasionaal te bevorder. Volgende jaar begin VivA se taal- en tegnologietoer, waartydens Marlie en ’n aantal hoërskoolleerders op toer sal gaan om oor kwessies soos Afrikaans se herkoms en die belangrike rol wat Afrikaans vandag nog in Europa speel te gaan praat en leer.

Kanja van der Merwe, nog ’n ontvanger van ’n Jeugkoker, is tans die hoof operasionele beampte by Studenteplein en bevorder Afrikaans op verskeie terreine. Sy is ’n PhD-kandidaat in Vertaling aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het ook haar meesterstesis in Afrikaans geskryf en in die proses verskeie nuwe terme geskep. Sy het die term “pedagogiese tolking” geskep om na die gebruik van tolking as ’n tegniek in taalonderrig te verwys. In haar meesterstesis het sy die praktiese uitvoerbaarheid van die tegniek met tweedetaal-Afrikaansstudente getoets. Die deelnemers het genoem dat die tegniek waarde vir Afrikaanse begrip, woordeskat, uitspraak en selfvertroue in Afrikaanse spraakvaardighede inhou. Sy ondersoek tans die nut van taalaanleerstrategieë om ’n model van tolkaanleerstrategieë vir prosesgerigte tolkopleiding skep. Op die ouderdom van 25, verrig sy baanbrekerswerk.

  • Die agt wenners van vanjaar se Kokertoekennings is Willem Botha (Lewenslange bydrae), Mariëtta Kruger (Lewenslange bydrae), Chareldine van der Merwe (bemagtiging deur Afrikaans), Karien Brits (bevordering van Afrikaans), Danie van Wyk (beskerming van Afrikaans), Barron Hufkie (jeugkoker), Marlie Coetzee (Jeugkoker) en Kanja van der Merwe (Jeugkoker).
Buro: MvH
  • 0
Top