Meer as 1 000 soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is in Mosambiek ontplooi ter ondersteuning van die land se veiligheidsmagte.
Dit hou verband met die bedreiging wat die terreurgroep Isis en ander ekstremistiese Moslemgroepe vir die streek inhou.
Die Suid-Afrikaanse regering het Donderdag in ’n verklaring amptelik bevestig dat Ramaphosa die ontplooiing van die soldate in Suid-Afrika se buurland gemagtig het.
Die speaker van die parlement, Thandi Modise, en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se voorsitter, Amos Masondo, het ’n brief van Ramaphosa ontvang waarin hulle in kennis gestel is dat hy 1 495 lede van die SANW beskikbaar gestel het ter ondersteuning van ’n internasionale verpligting van Suid-Afrika teenoor die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).
PRESIDENT INFORMS PRESIDING OFFICERS OF EMPLOYMENT OF 1 495 SANDF MEMBERS TO SUPPORT MOZAMBIQUE pic.twitter.com/32uQ9AZDxy
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) July 28, 2021
SAOG-leiers het verlede maand in Maputo vergader en ooreengekom om ’n bystandsmag te ontplooi. Duisende mense in Mosambiek se Cabo Delgado-provinsie is dood en honderde sonder heenkome weens aanvalle van ’n militante groep wat met die Islamitiese Staat bande het.
Luidens verskeie nuusberigte was daar ’n aantal Suid-Afrikaners betrokke in die aanval op die dorp Palma in die noorde van Mosambiek vroeër vanjaar. Dit strook met verskeie berigte oor die laaste jare dat die groep aktief lede in Suid-Afrika werf (Instituut vir Sekerheidstudies, 23 Julie 2020: “How serious is the Islamic State threat to attack South Africa?”).
Die joernalis De Wet Potgieter, wat geruime tyd gelede reeds berig het oor die Isis-insurgente uit Tanzanië wat in Mosambiek se Cabo Delgado-provinsie ingesypel het, sê hy is besig om ’n omvattende verslag daaroor saam te stel. Van sy intelligensiebronne was eerste met die inligting.
“Gaan dit Suid-Afrika se eie Viëtnam word en gaan ons, vanweë ons militêre hulp, nou binnelands ’n terreurteiken word?” het Potgieter op die Facebook-groep Nagkantoor gevra waar joernaliste en oudjoernaliste gereeld stories en inligting met mekaar deel.
Volgens die Suid-Afrikaanse regering se verklaring wat Donderdag uitgereik is, is die soldate se ontplooiing in ooreenstemming met die bepalings van artikel 201(2) van die Grondwet van Suid-Afrika en artikel 93 van die land se Verdedigingswet van 2002.
Die parlement se woordvoeder, Moloto Mothapo, sê die ontplooiing geld van 15 Julie tot 15 Oktober.
Die ontplooiing sal sowat R984 368 057 beloop. Ramaphosa het gesê hy sal sy besluit ook aan die voorsitters van die parlement se gesamentlike staande komitee oor verdediging oordra en die speaker en voorsitter van die NRP vra om dit aan die onderskei huise van die parlement oor te dra.
Die DA sê in ’n verklaring die party het kennis geneem van die uiteindelike magtigingsbriewe vir die ontplooiing van die soldate. Die party se woordvoerder oor verdediging, Kobus Marais, sê die DA dring daarop aan om te weet presies wat die mandaat van die Suid-Afrikaanse soldate in Mosambiek is en hoe die fondse wat vir die ontplooiing bewillig is, bestee gaan word.
Luister hier na ’n stemsnit van die DA se skaduminister van verdediging, Kobus Marais, oor die ontplooiing.
Die Vryheidsfront Plus het reeds in Maart vanjaar in ’n verklaring gewaarsku teen ’n moontlike bedreiging wat Isis en ander ekstremistiese Moslemgroepe kan inhou as hulle ’n vastrapplek in die streek kry.
Corné Mulder het destyds in ’n verklaring gesê die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, moet Mosambiek versoek om sy huis in orde te kry en op te tree teen die bedreiging voordat die hele Suider-Afrika gedestabiliseer word.
Mulder het gesê dit sou uiters onverantwoordelik van die ANC-regering wees om nie daadwerklike stappe te doen teen die bedreiging nie. “Dit sou naïef wees om te dink dat Isis mense werf in Suid-Afrika, maar nie daadwerklike pogings aanwend om sy invloed en ideologie op georganiseerde wyse uit te brei in die land nie. Die bedreiging is dwingend en werklik. Elke Suid-Afrikaner moet hiervan kennis neem,” het Mulder in Maart vanjaar gewaarsku.