Meer as 50 busse brand uit in oornagaanvalle

  • 0

Die polisie sê hulle werk 24 uur per dag om die skuldiges, wat meer as 50 busse van die Putco-busmaatskappy aan die brand gesteek het, vas te trek.

Die polisie in Mpumalanga ondersoek opsetlike saakbeskadiging, poging tot moord en aanranding ná die afgelope week se aanvalle op sommige van Putco se depots.

Putco vermoed Maandag se oornagaanvalle spruit uit spanning met taxi-operateurs. Minstens 51 busse is by vier depots in Mpumalanga aan die brand gesteek en twee werknemers is beseer.

Die busmaatskappy sê hy het te doen gehad met toenemende spanning in die taxibedryf. Vir nou gaan die maatskappy voort om dienste te lewer met ’n verhoogde sekuriteitsteenwoordigheid.

Volgens ’n polisieverklaring het ’n onbekende groep mense veiligheidspersoneel by die Moloto-depot in ’n lokval gelei, waarna hulle busse aan die brand gesteek het.

Volgens die polisie het ongeveer 15 verdagtes, wat swart klere en klapmusse aangehad het, ’n busdepot by Moloto (KwaMhlanga-omgewing) binnegestorm en die werknemers met ’n vuurwapen aangehou. Daar word gesê dat die verdagtes een veiligheidswag geskiet en gewond het. Dit was gedurende hierdie tydperk dat 16 van die busse verbrand is.

Die beseerde veiligheidsbeampte is hospitaal toe geneem, waar hy mediese behandeling ontvang.

Sowat 10 verdagtes het ’n veiligheidswag by Maphotla (Siyabuswa-omgewing) aangeval en aangerand; daarna is nog 18 busse afgebrand. Die veiligheidswag is ook hospitaal toe geneem vir mediese behandeling.

By Thabana in Siyabuswa het sowat 10 verdagtes na die busdepot gegaan, waar glo 17 busse afgebrand is.

Die koste wat die 51 uitgebrande busse beloop word op sowat R150 miljoen geraam, want een bus kos sowat R2,5 miljoen sonder enige ekstras. Van die busse was gedigitaliseer en met kameras toegerus, wat hulle nog duurder maak.

Die polisie in Mpumalanga sê in ’n verklaring hulle het sigbaarheid verhoog na die voorval. Hulle soek na bewering ’n groep gewapende verdagtes wat in ’n wit Toyota Quantum gery het.

Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, Zeph Mkhwanazi, het die voorval ten sterkste veroordeel en onmiddellik ’n span ondersoekers saamgestel om ondersoek in te stel “met die hoop om oortreders van hierdie gruwelike kriminele optrede in hegtenis te neem”.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie, en die motief vir die misdade sal volgens die polisie deel vorm van die ondersoek. Die polisie het ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes vas te trek, om die Stop Misdaad-nommer 08600 10111 te skakel of inligting via MYSAPSAPP te stuur. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word, en mense wat inbel, kan kies om anoniem te bly.

Mkhwanazi sê die span sal onverpoosd werk om te verseker dat die oortreders vinnig aangekla word. “Van die inligting wat ons tot dusver ingesamel het, is dat hierdie voorval blykbaar goed georkestreer was. Ons het alle vertroue in die span wat saamgestel is,” het Mkhwanazi gesê.

Donald Mdhluli, die provinsiale polisiewoordvoerder, sê die ondersoekers werk onverpoosd daaraan om die oortreders vas te trek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top