Meer as ’n halfmiljard bestee aan toerismeprojekte met min om te wys

  • 0

Infrastruktuur wat bedoel is om Suid-Afrika se toerismebedryf te versterk, bly onvoltooid, verlate of gaan gebuk onder vandalisme wat deur begrotingsteenstrydighede vererger word.

So sê die DA se woordvoerder oor toerisme, Haseena Ismail, in ’n verklaring.

Dit volg nadat die minister van toerisme, Patricia de Lille, verlede week gespog het met haar departement se infrastruktuurontwikkeling en instandhoudingsprojekte.

Sy het verslag gelewer oor die prestasie van die toerismesektor vir 2023 en het gesê daar was aansienlike vordering.

’n Verskeidenheid van die infrastruktuurprojekte deur die departement, wat wissel van instandhouding tot konstruksie, is volgens De Lille oor die land versprei, en fokus op gemeenskapsprojekte en in minder besoekte gebiede om geografiese verspreiding te verbeter. 

Ses konstruksieprojekte ter waarde van byna R140 miljoen en 27 instandhoudingsprojekte ter waarde van byna R128 miljoen is afgehandel, het sy gesê. 

Van die projekte wat in die eerste 100 dae voltooi is, sluit in die Mapate-toerismefasiliteit in Limpopo wat ’n restaurant, ’n swembad, braaigeriewe, kampeerterrein en ander geriewe ingesluit het. Hierdie projek ter waarde van meer as R25,6 miljoen is in September voltooi.

Die DA meen egter daar is ook ’n ander kant van die munt. Ismail het ’n beroep op De Lille gedoen om ’n omvattende oudit te doen van alle toerismeprojekte wat oor die afgelope 10 boekjare begin is, ongeag hul voltooiingstatus.

Dit volg op onlangse toesigbesoeke aan talle toerismeprojekte regoor die land, tesame met verslae van die Departement van Toerisme en die ouditeur-generaal wat dit baie duidelik gemaak het dat baie van hierdie inisiatiewe in ’n toestand van verwaarlosing is.

Hierdie projekte sluit in Muzi Pan, wat in Meimaand vanjaar voltooi moes gewees het. Die werk op die terrein is egter slegs 15% voltooi. Werk het in November 2023 by Monyane Lodge begin, maar teen Maart 2024 was die projek reeds agter.

Die geld vir die chalets is in die beginfase betaal, maar die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) moes ingeroep word om te help betaal. Nou word bykomende belastingbetalersgeld benodig om dieselfde chalets op te knap. Verder is R4,1 miljoen aan ’n diensverskaffer betaal vir The Dome-projek, maar geen werk is nog gedoen nie.

Dit beklemtoon volgens die DA die omvang van onreëlmatige uitgawes.

Ten spyte van die miljoene wat reeds betaal is, bly die verwagte voordele ontwykend, sê die DA.

De Lille het verskeie redes aangevoer vir die nievoltooiing van hierdie projekte, insluitend geotegniese onstabiliteit, begrotingstekorte en strukturele gebreke wat deur substandaard vakmanskap veroorsaak word.

Die werklike probleem is volgens die DA egter gebrek aan toesig deur projekbestuurseenhede wat verantwoordelik is om te verseker dat hierdie projekte behoorlik uitgevoer word.

Die kernvraag is volgens die DA waarom daar nie sterk interne ouditmeganismes geïmplementeer is nie.

“Ons ryk erfenis, verteenwoordig deur ontelbare nabygeleë terreine, bly onontgin en ontoeganklik. Dit kan toerisme aansienlik bevorder, maar hul potensiaal word deur swak bestuur verkwis,” sê Ismail.

In antwoord op ’n skriftelike vraag in die parlement het De Lille bevestig dat ’n verbysterende R284 566 547,67 reeds aan verskeie projekte regoor die land bestee is, met ’n bykomende R289 681 700,65 wat vir die voltooiing daarvan geoormerk is.

Volgens die ouditeur-generaal het vyf van 17 (29%) infrastruktuurprojekte in De Lille se departement agter geraak.

Wat volgens die DA selfs meer kommerwekkend is, is dat minstens sewe kontrakteurs nog aangestel moet word, wat die begroting ongetwyfeld verder sal laat styg.

“Ons doen ’n beroep op minister De Lille om hierdie dringende bekommernisse aan te spreek en haarself tot groter deursigtigheid en aanspreeklikheid te verbind. Dit is tyd dat hierdie toerismeprojekte die aansienlike beleggings wat gemaak is, weerspieël en Suid-Afrika se toerismepotensiaal werklik verbeter om werk te skep,” sê die DA in hulle verklaring.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top