Suid-Afrikaners kan daarna uitsien dat die land se kragnetwerk teen die einde van die maand verder versterk sal word, maar dit beteken nie dat beurtkrag iets van die verlede is nie.
Die minister van elektrisiteit en energie, Kgosientsho Ramokgopa, sê die land se kragnetwerk sal na verwagting versterk word met opwekkingseenhede wat waarskynlik teen die einde van Augustus weer in werking sal wees.
Hy het Maandagoggend tydens ’n media-inligtingsessie in Pretoria gepraat. Volgens die minister word ’n verdere 2 500 megawatt (MW) teen einde Augustus terug verwag op die kragnetwerk.
[Media Briefing] Minister Kgosientsho Ramokgopa briefs the media on #energy and #electricity. pic.twitter.com/Z6f2ARnMle
— South African Government (@GovernmentZA) August 12, 2024
“Ons verwag dat Medupi-eenheid 4 vir ons 800 MW sal verskaf en dat Kusile-eenheid 6 ’n verdere 800 MW sal byvoeg. Ons hoop om ’n verlenging van die lewe van Koeberg-eenheid 2 te kry. Ons is nie selfvoldaan nie. Ons doen alles volgens die boek en ons is steeds optimisties om daardie lewensverlenging te kry, en dit sal ons ’n bykomende 980 MW gee,” het die minister gesê.
Hy sê daar word verwag dat daar teen die einde van Augustus vanjaar, net uit die Eskom-opwekkers alleen, ’n bykomende 2 500 MW krag beskikbaar sal wees.
Die minister het egter gewaarsku dat, alhoewel hy bly is oor Eskom se prestasie, beurtkrag steeds nie iets van die verlede is nie.
Dit was Maandag die 138ste dag sonder beurtkrag vir Suid-Afrikaners.
“Ek wil egter waarsku dat beurtkrag nie agter die rug is nie. In die volgende drie weke of wat sal Eskom bekend maak wat die somervooruitsigte is. Ons is opgewonde oor die prestasie van hierdie opwekkingseenhede. Dit gesê, moet ons waarsku teen enige vroeë verwagting dat beurtkrag iets van die verlede is. Ons doen egter alles moontlik om die vraagstuk op te los en alles dui daarop dat ons binne trefafstand is om dit te vermag,” het Ramokgopa gesê.
— South African Government (@GovernmentZA) August 12, 2024
Die minister het spesiale melding gemaak van Tutuka-, Kendal- en Kriel-kragstasie.
Hy sê Tutuka het ’n aansienlike hoeveelheid uitdagings oor ’n tydperk ervaar, maar ons sien nou goeie resultate. Net in die tydperk van Maart tot Augustus alleen het die onbeplande kapasiteitsverliesfaktor met 29% verminder. Dis betekenisvol as in ag geneem word waar Tutuka was en dat die verlies gedaal het van 2 411 MW na 949 MW.
By Kendal was daar groot probleme met betrekking tot die oorskryding van die emissiestandaarde en daar was ’n aantal ingrepe wat gemaak moes word. Tans is die kapasiteitsverliesfaktor van 2 500 MW verminder na ongeveer 919 MW.
“Ons het uitsonderlike resultate by Kriel gesien, met die verliesfaktor wat met 53% gedaal het, van 1 400 MW tot sowat 508 MW,” het die minister gesê.
Hy het verduidelik dat verandering in leierskap die trajek van daardie stasies heeltemal verander het.
Hy sê Eskom se leierskap het in ag geneem hoe noodsaaklik dit is om die mees gesoute, lojale en betroubare individue aan die stuur van daardie kragstasies te plaas en dit verskaf nou die resultate wat vereis word.
Hy sê sy departement werk ook onvermoeid daaraan om oplossings te vind vir ladingvermindering wat geïmplementeer moet word in gebiede waar daar aansienlike oorlading is as gevolg van onwettige verbindings of ander oorsake.
Ramokgopa het gesê die grootste rede vir hierdie vorm van kragonderbrekings bly die skuld wat munisipaliteite aan Eskom verskuldig is.
Hy het gesê sommige plaaslike regerings versuim selfs om gratis elektrisiteit aan kwalifiserende huishoudings te verskaf.
“Ons weet ook dat daar sowat 10 miljoen huishoudings is wat kwalifiseer, maar net 2 miljoen ontvang dit weens uitdagings op munisipale vlak.”