Voornemende besoekers aan Suid-Afrika vanuit die Lae Lande sal binnekort ’n hele aantal bykomende vlugte hê om uit te kies. Weens die verslapping van COVID-19-regulasies sal reisigers ook baie minder probleme hê om na en van Suid-Afrika te reis.
KLM (die Koninklijke Luchtvaart Maatschappij) van Nederland het ook aankondig dat hy sy vlugskedule tussen Kaapstad en Amsterdam vergroot.
Die lugredery het Dinsdag in ’n verklaring gesê die skedulevergroting is die gevolg van ’n groter vraag na vlugte tussen Amsterdam en Kaapstad wat steeds gewild onder toeriste is.
Die lugredery het sy vlugskedule van Kaapstad na Amsterdam tot ses vlugte per week verhoog en daaglikse vlugte vanaf Kaapstad sal vanaf 11 Julie 2022 ’n aanvang neem.
Dit sal nou vir ten volle ingeënte reisigers van Suid-Afrika moontlik wees om Nederland binne te gaan sonder kwarantynbeperkings of toetsvereistes.
Ingeënte reisigers kan Nederland nou binnegaan met bewys van inenting, onderhewig aan visumvereistes. Hulle moet ook ’n entstofverklaring-COVID-19-vorm voltooi.
Reisigers word ook aangeraai om ’n selftoets met aankoms en weer na dag vyf te doen.
Die EU-toegangsverbod geld steeds vir ongeënte reisigers wat Nederland mag binnekom net as hulle binne een van die vrystellingskategorieë val, onderhewig aan visumvereistes, en ’n gesondheidsverklaring word ook steeds vereis.
Daar is geen spesifieke vereistes vir passasiers wat deur die Amsterdamse Lughawe Schiphol vervoer word nie. Die in- en uitreisregulasies van die betrokke eindbestemmingsland moet nagekom word. Dié kan nagegaan word by https://klm.traveldoc.aero. Reisigers word ook aangemoedig om toegangsvereistes op die regeringswebwerf na te gaan voordat hulle in Nederland aankom.
Air Belgium beplan om vanaf September 2022 seisoenale vlugte na Suid-Afrika te bedryf met tot drie vlugte elke week wat gelyktydig na Kaapstad en Johannesburg vlieg.
PRESS RELEASE 🗞️| Cape Town Air Access welcomes @Airbelgium's plans to launch flights to Cape Town in September ✈️
Read the full press release here 👉🏽: https://t.co/yfj8Tkb0H1 #CTAA #CapeConfidence #PlaceOfMore pic.twitter.com/eNuBAtRJDa
— Wesgro - Cape Town & the Western Cape (@Wesgro) April 4, 2022
Air Belgium se Johannesburg- en Kaapstad-roetes is tans die lugredery se enigste kontinentale-Afrika-vlugte.
Die Wes-Kaapse toerisme- en beleggingsorganisasie Wesgro sê op hulle webwerf Kaapstad en die Wes-Kaap verwelkom Air Belgium se plan om twee vlugte per week na Kaapstad te skeduleer.
Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese aangeleenthede, David Maynier, het gesê Air Belgium se aankondiging om ’n driehoekige roete tussen Brussel, Johannesburg en Kaapstad te begin is nog ’n teken van herstel vir die Wes-Kaap se toerisme- en gasvryheidsektor.
Air Belgium’s flights to Cape Town signal recovery | Southern & East African Tourism Update https://t.co/LWMeW7lP04
— David Maynier (@DavidMaynier) April 5, 2022
Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei, James Vos, sê dit is wonderlike nuus vir Kaapstad. “Die bykomende kapasiteit wat tussen België en Kaapstad verskaf word, sal uitstekende potensiaal bied vir groei in sake- en ontspanningsreise tussen hierdie bestemmings vir internasionale besoekers en plaaslike inwoners. As die stad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese groei is ek deeglik bewus van die voordele vir die plaaslike ekonomie om meer passasiers en vlugte na Kaapstad te bring.”
In conversation with the Belgium Consul-General Mathias Bogaert. Launch of direct flights between Belgium and Cape Town in September. This would offer massive potential for growth in business and leisure travel between these destinations. Cape Town is Open for Business. pic.twitter.com/ifVchhmhCx
— James Vos (@VosJames) April 4, 2022
Wesgro se uitvoerende hoof, Wrenelle Stander, sê Air Belgium se planne voeg nog ’n straaltjie hoop by die provinsie se toerismebedryf wat honderde duisende werkgeleenthede ondersteun en geweldig tot die ekonomie van die Wes-Kaap bydra.
“Die afgelope tyd het Kaapstad en die Wes-Kaap ’n aansienlike toename in plaaslike en internasionale vlugte ervaar en ons is hoopvol dat daar ’n opwaartse trajek sal wees vir reis na Kaapstad en die Wes-Kaap.”
In 2019 het tweerigting- internasionale passasiersvolumes op die BEL-CPT-roete 35 000 passasiers oortref, wat neerkom op ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 10% elke jaar tussen 2015 en 2019.
Wat uitvoer betref, is België die Wes-Kaap se sewende grootste Europese uitvoermark, met goedere ter waarde van R2,61 miljard wat in 2021 uitgevoer is.