Meer vrae as antwoorde oor Palestynse vlugtelinge in Suid-Afrika

  • 0

Daar is talle onbeantwoorde vrae oor die 153 Palestynse vlugtelinge wat verlede week op raaiselagtige wyse met ’n private huurvlug in Suid-Afrika aangekom het.

Ondanks ondersoeke deur inligtingsdienste en ministers is daar nog talle los drade.

Die vlug word gekoppel aan Al-Majd Europe, ’n obskure Jerusalem-gebaseerde organisasie waarvan daar weinig bekend is. Hulle werk glo saam met Israeliese owerhede, insluitend hulle weermag se sogenaamde Vrywillige-emigrasie-buro. Passasiers moes glo tussen $1 500 en $5 000 betaal. Die Suid-Afrikaanse regering beskou dit as ’n “ongeregistreerde en misleidende organisasie” wat mense mislei het.

Die storie oor die “misterieuse” vlug met Palestyne na Suid-Afrika het die afgelope week wêreldwyd opskrifte gehaal. Soos ondersoekbeamptes dieper delf, word verwag dat meer besonderhede oor Al-Majd Europa en sy bedrywighede na vore sal kom.

Suid-Afrika het intussen alle huurvlugte met Palestyne gestaak. Die regering het alle verdere vlugte uit Israel/Gaza verbied nadat die Palestyne die afgelope week hier aangekom het. Die ministers van binnelandse sake, sowel as van internasionale betrekkinge, het die vlug as uiters agterdogtig bestempel en sê dit lyk na ’n “duidelike agenda om Palestyne uit Gaza te verwyder”.

Die passasiers het blykbaar nie eers geweet hulle kom Suid-Afrika toe nie. Dit was glo ’n geheimsinnige operasie wat deur ’n obskure organisasie gereël is. ’n Volle ondersoek is aan die gang en die regering wil nie verder betrek word by sulke vlugte nie.

Sedert hulle aankoms in die land was daar probleme gewees. Die groep was vir byna 12 uur op die vliegtuig vasgekeer omdat hulle nie die nodige dokumente  gehad het om die land binne te kom nie, en ook geen vertrekstempels in hul paspoorte om te wys waarvandaan hulle kom nie. Daar was ook geen verblyfbesonderhede of enige asielaansoek voor die tyd nie.

Die humanitêre organisasie, Gift of the Givers het ingegryp en onderneem om voorlopige verblyf en ondersteuning te verskaf. Uiteindelik is 130 van die passasiers toegelaat onder die standaard 90-dae-visumvrystelling vir Palestyne. Die oorblywende 23 het intussen na ander lande gereis.

Israeliese owerhede het volgens mediaberigte gesê hulle het goedkeuring gegee vir die groep se vertrek as deel van ’n beleid om Gaza-inwoners te laat emigreer, met goedkeuring van ’n derde land (in hierdie geval Suid-Afrika). Hulle ontken enige agenda vir etniese suiwering en sê dit help mense om van die oorlog te ontvlug. Suid-Afrika ontken enige betrokkenheid by die saak.

Tydens ’n media-inligtingsessie oor Suid-Afrika se gereedheid om die G20-leiersberaad aan te bied wat eerskomende naweek plaasvind, het die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, gesê verlede Donderdag se vlug lyk asof dit deel is van ’n “breër agenda om Palestyne uit Palestina na baie verskillende dele van die wêreld te verwyder”.

“[Dit] is duidelik ’n georkestreerde operasie, want hulle word nie net na Suid-Afrika gestuur nie. Daar is ook ander lande waarheen sulke vlugte gestuur is,” het hy gesê, sonder om enige besonderhede te gee.

Die Palestynse ambassadeur in Suid-Afrika, Hanan Jarrar, wat die passasiers ontmoet het, sê hulle weet nie eens waarheen hulle gaan nie. Baie hoop om vir asiel aansoek te doen, maar die gebrek aan stempels maak dit moeilik.

Burgerlike groepe prys die regering se pro-Palestynse houding, maar kritiseer die vertraagde hantering. Sommige sien dit weer as ’n nasionaleveiligheidsrisiko weens die gebrek aan inligting.

Al Jazeera-ondersoeke het ook twyfel laat ontstaan ​​oor Al-Majd Europe se bedrywighede. Verslaggewers kon nie die gelyste kantoor verifieer nie, het onaktiewe internetskakels en teenstrydige webwerfinhoud gevind, en het na bewering bewyse dat mense gevra is om geld in persoonlike bankrekeninge in te betaal eerder as in ’n geverifieerde organisasie se rekening.

Daar kon ook geen duidelike rekord gevind word wat ooreenstem met die liefdadigheidsorganisasie se bewerings van die plekke waar dit geregistreer is nie. Die operasie word in mediaberigte gekoppel aan ’n persoon met Israelies-Estlandse konneksies. Die groep word as “skaduagtig” beskryf.

Ander media, soos Palestine Chronicle, SunnaFiles, Ynet, Daily Sabah, Kenya Times, ZNet en dies meer, weerspieël dieselfde probleme, naamlik ’n onvermoë om fisiese kantore te verifieer, asook verslae van geld wat na persoonlike rekeninge oorgedra is, KI-beelde wat vir personeel-/begunstigdefoto's gebruik word, en baie ander vrae rondom die organisasie.

In dié stadium is dit onduidelik wat met die vlugtelinge in Suid-Afrika gaan gebeur en of hulle asiel gaan kry. Daar is ook nog geen duidelikheid hoe hul langtermynondersteuning lyk en of daar sekuriteitsondersoeke gaan wees nie. Baie het families agtergelaat en ken niemand hier nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top