Mej Heelal-kompetisie ontketen politieke storm in Suid-Afrika oor Israel

  • 0

Vanjaar se Mej Heelal-kompetisie het in ’n politieke speelbal ontaard. Die regering het hulle steun aan die Mej Suid-Afrika-kompetisie onttrek omdat die organiseerders weier om vanjaar se Mej Heelal-kompetisie te boikot omdat dit in Israel plaasvind.

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het Maandag in ’n sterkbewoorde verklaring gesê hy kon nie daarin slaag om die organiseerders van die Mej Suid-Afrika-kompetisie te oorreed om hulle deelname aan die kompetisie te heroorweeg weens die “gruweldade en rassisme” van Israel teen die Palestyne nie.

Die ANC het die Minister se besluit dat die regering hom aan die Mej Suid-Afrika-kompetisie onttrek, verwelkom.

Die VF Plus sê egter die ministerie het met die besluit sy rug op Mej Suid-Afrika, Lalela Mswane, gekeer.

Die Minister sê in sy verklaring dat wat aanvanklik gelyk het na konstruktiewe en progressiewe besprekings met die organiseerders van die Mej Suid-Afrika-kompetisie, later gevolg is deur ’n onaangename houding van onversetlikheid en ’n gebrek aan waardering vir die potensiële negatiewe impak van so ’n besluit op die reputasie en toekoms van ’n jong swart vrou.

“Ons eerste voorkeur was om mekaar te probeer vind om ’n gesamentlike mediaverklaring uit te reik. Dit was ongelukkig onsuksesvol, vandaar die besluit om nou die regering en die mense van Suid-Afrika in die openbaar te distansieer van die Mej SA-kompetisie-organiseerder se standpunt oor hierdie aangeleentheid,” het Mthethwa gesê. “Maar desondanks hoop ons steeds dat ’n bietjie gesonde verstand sal seëvier in belang van die regerende koningin, Lalela Mswane; en ons bly oop vir besprekings in daardie verband.”

Die ANC sê die “aaklige geskiedenis van rassisme van die Mej SA-handelsmerk” maak die boikot van die Mej Heelal-kompetisie nog belangriker en noodsaakliker.

Die VF Plus sê op hulle beurt in hulle verklaring hulle betreur die feit dat die ANC-regering op “ongevoelige wyse” die drome van Suid-Afrika se skoonheidskoningin wil verydel, net soos wat politieke inmenging onlangs onbehoorlike druk op die land se krieketspan geplaas het met die T20-Wêreldbekertoernooi.

“Soos met krieket se Black Lives Matter-rasse-agenda maak die regering en organisasies soos die Palestynse politieke party Fatah ’n rasse-aangeleentheid van die internasionale skoonheidskompetisie omdat dit in Israel aangebied word.”

Die Suid-Afrikaanse regering se buitelandse beleid teenoor Israel is volgens die VF Plus werklikheidsvreemd en argaïes. Die party het ’n beroep gedoen op die land se voorste maatskappye en die publiek om hulle agter Mswane te skaar en haar na die kompetisie te stuur om sodoende ’n boodskap aan die ANC te stuur dat politieke inmenging in sport en kompetisies soos hierdie moet ophou.

Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD) het ook teen die Minister uitgevaar.

Die SAJBD het in ’n verklaring gesê Mthethwa was die afgelope 18 maande "opvallend afwesig" en was "stil oor kunstenaars wat ’n beroep op hom gedoen het vir hulp tydens die Covid-inperking".

"Sy reaksie op die sluiting van nasionale erfenisskatte soos die Apartheidsmuseum en Liliesleaf Farm was afgryslik. Sy gebrek aan belangstelling in die handhawing van die werklike kwessies wat ons kuns en kulturele erfenis in die gesig staar, was tasbaar. Wanneer dit egter kom by die kalmering van die radikale anti-Israel drukgroep wat eis dat Mej Suid-Afrika onttrek aan die Mej Heelal-kompetisie in Eilat, vind minister Mthetwa skielik sy stem,” het die organisasie gesê.

Die SAJBD sê dit is baie duidelik dat minister Mthethwa se siening ’n minderheidsiening is. In ’n peiling wat Donderdagaand deur Newzroom Afrika gedoen is, het byna twee teen een ten gunste van haar deelname aan die kompetisie gestem.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top