Memphis – geboorteplek van rock ’n roll en tuiste van die blues

  • 0

Wat maak ’n middeljarige dissipel van die blues en ’n verkondiger van die helende krag van rock ’n roll wanneer die drang hom oorval om sy helde te ontmoet?

Hy gaan op ’n pelgrimstog na waar dit alles begin het …

Put on my blue suede shoes
And I boarded the plane.

Touched down in the land of the Delta Blues
in the middle of the pouring rain …

Marc Cohn *

Ek het nou wel nie ’n paar “blue suede shoes” nie, maar my veldskoene sou moes doen vir hierdie reis wat al sedert my jeugjare op my wenslys is. Daar gaan ek toe aan boord van American Airlines met Memphis, Tennessee as eindbestemming.

My reis het eintlik al in Parow, Kaapstad van alle plekke begin. Die platewinkel Melody Inn in Voortrekkerweg was my kerk. ’n Byna magiese plek waar ek op twaalfjarige ouderdom die eerste keer “You shook me” van Led Zeppelin gehoor het.

........
My reis het eintlik al in Parow, Kaapstad van alle plekke begin. Die platewinkel, Melody Inn in Voortrekkerweg, was my kerk. ’n Byna magiese plek waar ek op twaalfjarige ouderdom die eerste keer “You shook me” van Led Zeppelin gehoor het.
........

Dit was asof ’n skakelaar iewers diep binne my aangeskakel het en sedertdien nooit weer afgeskakel het nie. Ek sou later eers hoor dat dit oorspronklik ’n Willie Dixon-komposisie is. Dit het my op ’n ontdekkingstog gelei na die legendariese blues-musikante van Memphis en omstreke.

Woning in die binnestad van Memphis

Memphis in die somermaande is ’n sauna met temperature naby 40 ˚C en die humiditeit in die 90’s. Destyds het die slawe op die katoenplantasies ’n baie kort lewensverwagting gehad. Dit is hier waar die blues sy oorsprong gehad het. Iewers ná die Amerikaanse Burgeroorlog (1861–1865) het dit uit die mondelinge tradisie van die Afrika-Amerikaanse slawe en werkers ontwikkel.

Die roep-en-reageer-patrone is vandag nog prominent in die genre. Later ná 1920 het dit wyer gewildheid begin geniet. Dit was hoofsaaklik as gevolg van WC Handy wat alombekend is as die vader van die blues. Hy was die eerste komponis wat musiek in die blues-formaat gepubliseer het. Daarmee het hy aan die blues van ’n streekmusiekstyl, die sogenaamde Delta Blues, wat maar ’n beperkte aanhang geniet het, groter gewildheid besorg. Gedurende 1909 vestig Handy en sy orkes hulle in Memphis en speel in die klubs en kroeë rondom Beale Street.

Ingang na Beale Street

Daarna volg die groot en mees bekende blues-musikante – Ma Rainey, Bessie Smith, Robert Johnson, Lightnin’ Hopkins, Willie Dixon, Chester Burnett (Howlin’ Wolf), Muddy Waters en natuurlik BB King en nog vele meer. Die gehore het egter feitlik eksklusief Afrika-Amerikaners gebly. Later ontwikkel subgenres uit die blues – rhythm and blues, rock ’n roll, rockabilly (’n vorm van country and western en rhythm and blues) en later blues rock en selfs psigedeliese rock.

........
Dit was eers werklik met die meteoriese opgang van Elvis Presley in die middel 1950’s dat blues en rock ’n roll meer toeganklik geword het vir Europese gehore. Elvis het nie rock ’n roll ontdek nie. Daar is reeds ten minste ’n dekade vroeër al rock ’n roll-liedjies opgeneem en versprei.
........

Dit was eers werklik met die meteoriese opgang van Elvis Presley in die middel 1950’s dat blues en rock ’n roll meer toeganklik geword het vir Europese gehore. Elvis het nie rock ’n roll ontdek nie. Daar is reeds ten minste ’n dekade vroeër al rock ’n roll-liedjies opgeneem en versprei. Alan Freed, die radio-omroeper, het ook glad nie die term rock ’n roll geskep nie, daarvoor was daar vele voor hom. Hy het wel bygedra dat dit gewilder geword het in die laat vyftigerjare.

Met die verskyning van Sam Phillips in Memphis het dinge behoorlik begin rol. Hy is oorspronklik van Alabama waar sy ouers geboer het. As kind het hy en sy ouers saam met die swart arbeiders katoen gepluk. Die ervaring van die singende arbeiders op die katoenvelde het ’n permanente indruk op die jong Phillips gelaat.

Gedurende 1939 met ’n reis deur Memphis om ’n prediker in Dallas te gaan ontmoet, sluip hy weg na Beale Street, wat toe die hart van die stad se musiektoneel was. Dit was liefde met eerste oogopslag. “I fell totally in love,” sou hy later opmerk.

Sun Studio op ’n warm dag in Memphis

Dit was liefde met eerste oogopslag. “I fell totally in love,” sou hy later opmerk.

Phillips werk vir jare as omroeper by verskeie radiostasies in Alabama en later as omroeper en klankingenieur by WREC-radiostasie in Memphis. In 1950 open hy Memphis Recording Services by 706 Union Avenue en dit sluit sy eie platemaatskappy Sun Records in. Op die dag van my besoek aan Sun Studio stap ek deur die buurte en die sonbesies skree reeds oorverdowend agtuur in die oggend. Dis bakoond warm en my kamera wasem toe wanneer ek uit ’n lugverkoelde omgewing kom. ’n Mens sien niemand op straat nie. Die swart woonbuurte is verwaarloos. Vir my lyk dit of daar meer kerke in Memphis is as kafees en kroeë! En almal word goed onderhou …

Nadat ek die toegangsfooi van 15 dollar betaal het, staan ek in die voorportaal van Sun Studio omring deur blues- en rock ’n roll-memorabilia. Daar is ’n lewensgrootte foto van die “Million Dollar Quartet” teen die muur – Elvis Presley agter ’n klavier omring deur Johnny Cash, Jerry Lee Lewis en Carl Perkins. Dieselfde foto is buite teen die muur van die ateljee. Drew Mason, ons toergids deur die ateljee, roep almal bymekaar en ons stap in waar al die klanktoerusting uitgestal word. My hele lyf word hoendervleis toe hy vir ons die oorspronklike krakerige kopie van Howlin’ Wolf se “How many more years” oor ’n luidspreker speel. Dit was die jaar 1951 en daarna volg die grotes – BB King (King of the Blues), Bobby Blue Bland, Little Milton, James Cotton en vele meer.

Later daardie jaar neem Phillips “Rocket 88” deur Jackie Brenston en sy Delta Cats op. Sommige beskou dit as die eerste rock ’n roll-plaat ooit. Die Delta Cats was onder leiding van die negentienjarige Ike Turner, wat ook die liedjie geskryf het. Hy en Tina Turner sou later ’n duo vorm en ’n stormagtige huwelik het gevolg. Maar die beroemdste van die klomp was Elvis Presley – “The boy from Tupelo”. Dié vragmotorbestuurder sou een van die belangrikste kultusfigure van die 20ste eeu word.

Ontvangslokaal en Marion Keisker se lessenaar, die vrou wat Elvis se eerste kortspelerplaat opgeneem het

Gebore in ’n “shotgun house” (maak die voor- en agterdeur oop en ’n haelgeweerskoot gaan regdeur) in Tupelo, maar op dertienjarige ouderdom verhuis hulle na Memphis. Hy kry sy eerste kitaar op elfjarige ouderdom, maar kan nie ’n noot musiek lees nie en leer sy kuns in die “juke joints” op Beale Street. In Julie 1953 betaal Elvis 3 dollar 98 sent om twee liedjies gedurende sy middagete by Sun Studio op te neem. Sam Phillips was daardie dag nie daar nie, maar Marion Keisker, die ontvangsdame, het geweet hoe die opnamemasjien werk en neem ’n popliedjie “My Happiness” op. Daardie dae is die opname onmiddellik op viniel gesny, reg vir verspreiding. Elvis sou later verklaar dit was ’n verjaarsdaggeskenk vir sy ma. Marion was beïndruk deur Elvis, maar Phillips wou niks weet nie. Eers ’n jaar later toe hy op soek was na nuwe talent om die skeiding tussen swart en wit musiek te oorbrug, is Elvis weer gekontak.

Vooraansig van die oorspronklike ingang van Sun Studio

Die eerste demonstrasie-opnames in Julie 1954 het nie goed verloop nie. Tydens ’n verposing in die opnamesessie neem Elvis, Scotty Moore (kitaar) en Bill Black (kontrabas) ’n bekende blues-liedjie en improviseer die aanslag. Elvis wikkel sy bene en Bill volg sy voorbeeld. Verder gee hulle die liedjie ’n rockabilly- (sg jump blues-) ritme. Phillips storm uit die klankkamer en beveel hulle om dit presies weer so te doen. Dit was “That’s all right” van Arthur Crudup, ’n plaaslike blues-musikant wat die liedjie reeds in 1946 opgeneem het.

Elvis se optredes volg hierna en ’n dromspeler, DJ Fontana, word bygevoeg en saam sorg hulle vir van die grootste treffers in die geskiedenis van rock ’n roll – “Heartbreak Hotel”, “Hound Dog” en “Don’t be cruel”.

Elvis se nalatenskap lê in sy energieke interpretasie van die blues- en country-liedjies, sy uitlokkende seksuele optredes en gekombineer met al sy inspirasies oor die kleurlyne heen. Die Britte sou dit later met die sogenaamde British Invasion verder voer met Alexis Korner, die vader van Britse blues, en John Mayall en die Bluesbreakers (met Eric Clapton op kitaar). In die tweede helfte van die 60’s kry die blues ’n nuwe baadjie met die opkoms van Cream as supergroep en Led Zeppelin wat later die blues transformeer met swaar ritmes en oorverdowende elektriese blues rock.

........
In die tweede helfte van die 60’s kry die blues ’n nuwe baadjie met die opkoms van Cream as supergroep en Led Zeppelin wat later die blues transformeer met swaar ritmes en oorverdowende elektriese blues rock.
.......

In 1955 verkoop Phillips Elvis Presley se kontrak aan RCA vir $35,000 om Sun Studio se haglike kontantvloei te red en om aandele in die nuwe Holiday Inn-hotelgroep in Amerika te koop.

Voorportaal van Stax Records Museum

Met ’n kop wat draai, stap ek uit Sun Studio na die Uber wat wag om my na die Stax Records Museum te neem, ’n entjie daarvandaan. Dit is oorspronklik deur Jim Stewart in 1957 gestig en sou groot sukses in die 1960’s met die sogenaamde soul-musiek behaal. Dit was ’n spesifieke vorm van R&B wat sy oorsprong in swart gospelmusiek gehad het.

Stax Records sou gedurende 1960–1974 sorg vir van die grootste kunstenaars in die soul-musiekgenre – Otis Redding, Albert King, The Staple Singers, Al Green, Aretha Franklin, Isaac Hayes en Booker T & the MG’s. Die rol van soul-musiek in die Amerikaanse Civil Rights Movement kan ook nie onderskat word nie. Met die einde van die Viëtnam-oorlog, die moord op Martin Luther King en veranderende tye eindig Stax Records in 1975 in bankrotskap. Later in die 80’s dien dit as ’n sopkombuis voordat dit gesloop is.

Die bier in BB King se klub in Beale Street is koud, maar die smaak in my mond is bitter. Ek voel nie lekker nie. Inteendeel ek voel goor. Ek het die blues! Die helfte van Beale Street se klubs en kroeë is gesluit – letterlik met houtpanele voor die deure en vensters. Die ou by die deur sê dis as gevolg van Covid-19 en ook “people don’t come here anymore”. Die blues wat speel, klink na karaoke en lyk ook net nie reg nie.

Dis hartseer om te besef dat die blues en rock ’n roll, die musiek van my jeug, deesdae nie meer groei nie. Sommige gaan sover om te sê dis dood. Dis ondenkbaar vir my. Wat het geword van ons helde? Jimmy Page, Eric Clapton, Stevie Ray Vaughan, Peter Green et al? Die meeste is al dood. Die ander is ou toppies wat nog steeds hier en daar toer. Die nuwe generasie blues-musikante is net so goed indien nie beter as hul voorlopers nie. Joe Bonamassa, Kenny Wayne Shepherd, Gary Clark Jr, Marcus King, Larkin Poe, Jared James Nichols, Tyler Bryant en vele meer dra die vaandel voort, maar is dit genoeg?

........
Dis hartseer om te besef dat die blues en rock ’n roll, die musiek van my jeug, deesdae nie meer groei nie. Sommige gaan sover om te sê dis dood. Dis ondenkbaar vir my. Wat het geword van ons helde?
........

Die taxi stop op die hoek van Beale en Lauderdale. Die bestuurder is ’n jong Nigeriër en die rapper, Denzel Curry, se “Ultimate” speel saggies oor die motor se luidsprekers. Ek vra hom om my te verskoon, want ek moet gou ’n oproep maak. Ek plaas my selfoon se oorfone in my ore en navigeer na my gunstelingspeellys op Spotify met die titel “Only the blues”. Albert King sing …

If you’re down an’ out
an’ you feel real hurt
Come on over,
to the place where I work
An’ all your loneliness,
I’ll try and
soothe
I’ll play the blues for you

Lees ook:

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top