Menere, is julle in staat om die "bullet" vir ons te vat?

  • 0

Diana Ferrus (Foto: Naomi Bruwer)

Ek was amper drie jaar oud toe die Women’s March op 9 Augustus 1956 plaasgevind het. Ek verjaar op die 29ste. Dit was die onstuimige 1950’s. My oudste broer was nege jaar oud, my suster vyf en die broer na my een jaar oud. My ma was amper al weer verwagtend. Die Tweede Wêreldoorlog was verby en die soldate terug van gevangenskap en besig om aan te gaan met hulle lewe, ongeag. My pa was een van hulle.

Voor dit het die Nasionale Party, wat in 1948 aan bewind gekom het, stadig maar seker hulle apartheidswette ingestel. Een van die wette, die Paswet, wat vereis het dat swart mense ’n pasboekie moes dra, het groot woede ontketen. Verskeie vroue het hulself georganiseer en het die Federation of South African Women (Fedsaw) op 17 April 1954 gestig om ’n nasionale aanslag te hê, ’n organisasie wat alle vroue van Suid-Afrika sou verteenwoordig.

Vroue van Worcester onder leiding van auntie Bibi Dawood het aan die organisasie behoort. So het die vlaag van onstuimigheid ook oor Worcester gewaai. ’n Jaar na die opmars van die vroue na die Uniegebou, waar hulle aan JG Strijdom, die eerste minister, gesê het: “You strike a woman, you strike a rock”, was daar ’n busboikot op Worcester. My ma het geboorte geskenk aan haar vyfde kind.

Onstuimigheid het voortgeduur in huise en in die land. Vrouens met manne geaffekteer deur die oorlog was aan die stuur van huishoudings, het sin probeer maak van wat om hulle aangaan. Ander vrouens het verskillende rolle vervul. Auntie Bibi Dawood het by die ANC aangesluit en was ’n verhoorafwagtende gedurende die hoogverraadverhoor in 1963. In een van die protesoptogte in Worcester het auntie Vermeulen haar arm verloor. Volgens my ma het die polisie haar arm afgeskiet. Sy het haar ander arm in die lug opgesteek en gesê: “Nou kan julle my ander arm ook afskiet.”

Ek het nie soveel onthou oor wat eintlik aangegaan het nie. Wat my as ’n vyf- of sesjarige opgeval het, was dat die mense om my vele male in fluistertoon met mekaar gepraat het. Ek kon aanvoel dat hulle versigtig was, half bang. En toe word auntie Bibi “opgetel” en die mense om my praat harder. Steeds het ek nie verstaan hoekom auntie Bibi tronk toe moes gaan nie. Ek kon nie vrae vra nie, ook nie toe my neef, Hennie Ferrus, “opgetel” is deur die Veiligheidspolisie en my pa gehuil het en my ma vir hom gesê het “Toemaar jong, hulle sal hulle dag kry” nie. Terloops, Hennie het as klein seuntjie saam met sy ma, my pa se suster, politieke vergaderings bygewoon.

Vandag verstaan ek goed. Ek verstaan dat dit vroue was wat eintlik aan die stuur van die stang was. Vroue het hulself “geoffer” om ’n regverdige samelewing te weeg te bring. Hulle het in 1956 vreesloos teen die apartheidsregime opgetrek terwyl hulle ook huishoudings behartig het en “gewonde” manne probeer genees het.

Vandag vra ek myself vele vrae. Waar is daardie dapper vroue se stories? Hoekom reflekteer die samelewing nie ’n dankbaarheid teenoor vroue wat stil-stil sterk gestaan het teenoor ’n onmenslike stelsel nie? Hoekom moet vroue baklei vir ’n regverdige verteenwoordiging in die besluitnemingsprosesse van die regering?

Ek vra myself die vraag af: As vrouens daar was om manne te beskerm, om die spreekwoordelike “bullet” vir hulle te vat, hoekom is manne nie daar om die bullet vir vrouens te vat nie? Hoekom is ons land een van dié met die hoogste syfers van geslagsgebaseerde geweld? Hoekom word jong meisietjies verkrag en vermoor? Hoekom voel die manlike geslag dat hulle vroue “besit” en dat hulle hul intieme maat na willekeur kan martel, vermoor? Hoekom het ons ’n president gehad wat tereg gestaan het op ’n verkragtingsaanklag, het ons ’n adjunkminister wat gewelddadig teenoor vroue opgetree het en steeds sy pos in die parlement kon beklee? Let wel, hy was welkom daar totdat hy homself verskoon en bedank het. En so kan ek duisende name noem van mans oor ras-, ouderdom-, klasgrense heen wat hulleself die reg toe-eien om vrouens te verneder, te beskou as ’n kommoditeit. 

Verwys na hierdie artikel: Manana moet dalk opdok oor tugverhoor

 

Vandag met die aanvang van Vrouedag 2018 is dit ’t einde niet! ’n 23-jarige student, ’n aktivis wat baklei het vir ’n regverdige samelewing, het selfdood gepleeg. Haar intieme vriend, haar kêrel, het na bewering dit goed geag om haar te verkrag. Selfs al het sy die bullet vir hom ook gevat, het hy, soos sommige van sy voorgangers, geen waarde in haar heldedade gesien nie.

Verwys na hierdie artikels: Society failed Khensani by raising men who don't know how to respect women - Rhodes VC; Khensani Maseko, Rhodes student allegedly raped by her boyfriend, commits suicide

 

Durf ons van mans vra dat hulle die bullet vir ons ook moet vat? Is hulle in staat om in hulle duisende die strate in te vaar en aan dié wat geweld teenoor vroue beoefen te sê dat hulle dit nie sal toelaat nie? Kan hulle gedurende hulle “men’s talk” en “geheime praatjies” die geweldenaars die stryd aansê? Sal hulle wat die geweld sien, maar niks doen of sê nie, uiteindelik opstaan en sê: “Ek sal die bullet vat? Die geweld stop nou, hier by my”?

Menere, is julle in staat om die bullet vir ons te vat?

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top