Menseregtedag: mét en sónder regte

  • 0

Dit is een van Suid-Afrika se hande vol openbare vakansiedae: Menseregtedag, wat sedert die land se eerste demokratiese verkiesing in 1994 jaarliks op 21 Maart gevier word, soos ook hierdie jaar en verlede week.

Die dag is ’n herdenking van die Sharpeville-slagting van 1960 waartydens 69 mense deur die polisie doodgeskiet is in dié gebied in die Johannesburg-omgewing en nog 180 gewond is. Hul oortreding was hul deelname aan protesaksies teen die “dompas”, ’n identiteitskaart waarmee swart mense se woon- en werkbewegings gereguleer is.

Die digter Ingrid Jonker het die Sharpeville-gebeure aan Afrikaanse mense tuisgebring met haar ikoniese gedig “Die kind is nie dood nie”, ’n gedig wat deur Nelson Mandela in sy presidensiële intreerede in die parlement aangehaal is.

Dis in dieselfde parlement waar die nuwe Grondwet in 1996 aanvaar is – met ’n aanhef wat die onregte van die verlede (kolonialisme, apartheid, skending van menseregte, vernedering op grond van jou velkleur, ens) erken en die regering en landsburgers daartoe verbind om te keer dat dié onregte hulself nie herhaal nie.

En verlede week was die tonge los en het die twitterduime saamgesels oor die kreatiewe wyse waarop die vernaamste voorbeelde van menseregteskendings van die verlede deur die Joe Public-bemarkingsagentskap en die Apartheidmuseum uitgebeeld is. Hulle het die skendings in die vorm van ’n restaurant- of supermarkstrokie gelys om aan te dui wat die “prys” is wat betaal is – in die vorm van menselewens – gedurende die stryd teen apartheid.

Dit sluit in 3,5 miljoen (hoofsaaklik bruin) mense wat ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif is na gebiede wat vir hul spesifieke rasgroepe gereserveer was; die 1 302 Robbeneiland-aangehoudenes, soos Mandela, Walter Sisulu, Cecyl Esau en die taalkundige Neville Alexander; 134 mense wat gehang is; 73 wat in aanhouding dood is; 700 wat in die Soweto-opstande teen die gedwonge gebruik van Afrikaans in swart skole gesterf het; en, vanselfsprekend, die Sharpeville-slagoffers.

In sy toespraak verlede Woensdag om Menseregtedag te herdenk, het adjunkpresident David Mabuza egter vertel hoe geskok hy was toe hy Sharpeville binnery en sien hoe vervalle – en toegegroei onder die onkruid – dié slagoffers se grafte is.

Mabuza het ook verwys na die versugting van mense met wie hy gepraat het na die verwesenliking van die beloofde beter lewe vir almal waarvoor die Sharpeville-stryders met hul lewens betaal het. Om dié beter lewe te kan bereik, het Mabuza benadruk, vereis dat spesifiek staatsamptenare sokkies moet optrek en ’n beter diens aan die publiek moet lewer.

Wat my bring by hierdie persoonlike ervaring óp Menseregtedag, naamlik ’n besoek aan my suster in ’n groot staatshospitaal nadat sy die naweek voor Menseregtedag ’n beroerte-aanval gehad het. Hoë bloeddruk, té veel rook en die spanning van die lewe van ’n sukkelende enkelouer het dit meegebring.

Nou, opgekrimp in die fetusstyl waarin die Khoisan begrawe word, lê sy daar, ’n skadu van wie sy voorheen was: haar linkerkant verlam; blou kolle op die deel van haar liggaam waar die bloed nie deurvloei nie; haar spraak aangetas.

Op die trollie by haar voete staan ’n bord met ’n sny brood, botter langsaan, ’n halwe koppie koue tee, ’n harde groen appel. Hoe is die kos hier, vra ek haar, wel wetend dat die openbaregesondheidsorgdienste een van die sektore is waaroor van die meeste klagtes oor swak, onprofessionele (indien nie onmenslike nie) diens gehoor word. Dis dié dat die land se derde grootste politieke party, die Economic Freedom Fighters (EFF), ’n spesiale hulplyn hieroor begin het. “Nee,” sê my suster, ietwat sleeptong, “hulle kom plak dit net hier neer en maak jou nie eens wakker [daarvoor] nie.”

Teen die tyd dat die pasiënt die kos oplet, is die tee natuurlik yskoud – en my suster hou van haar tee. En hoe, wonder ek, eet mens ’n appel op jou eie nadat jy pas ’n beroerte oorleef het?

Behoed ons dat swak diens vir die swakstes in ons samelewing, die mees behoeftiges, die siekstes, nie in ’n nuwe, eiesoortige vorm van protes ontaard het deur sommige staatsdienswerkers omdat hulle op openbare vakansiedae, soos Menseregtedag, moet werk nie.

Indien so, trap hulle hierdeur op die grafte van die miljoene wat geveg en gesterf het dat ook hulle werk in die staatsdiens kan kry – en daardeur ’n ordentlike, ménslike bestaan kan voer.

  • Heindrich Wyngaard bied binnekort ’n nuwe geselsprogram op die Afrikaanse kanaal kykNet&kie aan. Die naam van die program, KLOP! (Kô, lat ons praat), is afgelei van die Kaaps-digter Adam Small se bekende gedig “Kô, lat ons sing”.
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top