Menseregtekommissie kom voor stok oor Malema se haatspraak

  • 0

Julius Malema (Foto: Joernalis van eNCA, CC BY 3.0, via Wikimedia Commons)

Die burgerregteorganisasie AfriForum wil weet waarom die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) nog nie die EFF-leier, Julius Malema, voor die hof gedaag oor sy beweerde haatspraak soos wat hulle verlede jaar belowe het om te doen nie.

Die MRK het op 8 November verlede jaar aan Malema skriftelike kennis gegee om sekere stellings wat volgens hulle op haatspraak en aanhitsing van geweld neerkom, terug te trek en verskoning te vra.

Sou Malema versuim het om aan hierdie eise te voldoen, het die MRK belowe om Malema na die Gelykheidshof te neem om ’n tussentydse interdik te verkry.

AfriForum, duisende van sy lede, sowel as lede van die publiek het klagtes by die MRK ingedien oor uitlatings wat Malema gemaak het tydens ’n EFF-vergadering op 16 Oktober 2022 in Kaapstad.

AfriForum sê in ’n verklaring die MRK se belofte het blykbaar nie gerealiseer nie.

Die kommissie het gedreig om die party en Malema binne 10 dae na die Gelykheidshof te neem as hulle nie om verskoning vra en verklarings wat tydens die party se Wes-Kaapse verkiesingskonferensie gemaak is, terugtrek nie.

“Jy moet nooit bang wees om dood te maak nie. ’n Revolusie vereis dat daar een of ander tyd moord moet wees, want die moord is deel van ’n revolusionêre daad,” het Malema tydens die konferensie aan sy ondersteuners gesê.

Die kommissie het gesê die stellings kom neer op haatspraak. Die EFF het tot dusver volstrek geweier om die gewraakte woorde terug te trek of verskoning daarvoor te vra.

“Weens die aard van sommige van die betrokke verklarings is dit deur die kommissie nodig geag om dringende regstappe vir dringende interdiktiewe verligting aanhangig te maak,” het die MRK gesê. Die kommissie het toe ’n brief aan die EFF en Malema gerig wat hulle die geleentheid gebied het om die verklarings terug te trek, om verskoning te vra en sekere ondernemings te gee oor hul toekomstige optrede met die hoop dat 'n positiewe reaksie die behoefte aan dringende tussentydse interdiktiewe verligting van die hof onnodig sou maak.

“In die lig van die EFF en mnr Malema se weiering om saam te werk, sal die kommissie egter nou dringende hofverrigtinge vir dringende tussentydse regshulp aanhangig maak. Hierdie besluit om te litigeer eerder as om ondersoek in te stel is geneem uit die Kommissie se besorgdheid oor wat op die oog af baie ernstige dreigemente van geweld in die verklarings blyk te wees,” het die MRK verlede jaar reeds in hulle verklaring gesê.

Sinawo Thambo, nasionale woordvoerder van die EFF, het daarop gesê die ondersoek is ’n “heksejag”.

“Ons sal hulle in die hof ontmoet, en hulle sal verloor soos AfriForum, wat hierdie saak saam met hulle geborg het, verloor het. Hulle het toegelaat dat hulle deur AfriForum gebruik word om ’n saak wat hulle verloor het [...] weer op te haal en hul geledere is gevul met mense wat geen waardering vir geskiedenis en politieke spraak het nie,” het Thambo gesê.

In die lig van Malema en die EFF se weiering om verskoning te vra en geen oënskynlike teken dat die MRK by hul woord gehou het om Malema en die EFF hof toe te vat nie, eis AfriForum nou in ’n prokureursbrief dat die MRK skriftelike terugvoer oor verskeie sake gee.

Hulle wil weet of Malema die verlangde verskoning verskaf het en indien wel, versoek AfriForum ’n elektroniese afskrif daarvan. Die organisasie wil ook weet of die MRK die Gelykheidshof genader het vir die toepaslike tussentydse interdik en/of ander verligting. Indien wel, versoek AfriForum elektroniese afskrifte van al die hofstukke wat tot op datum ingedien is.

Indien die MRK nog nie die Gelykheidshof genader het soos hy onderneem het om te doen nie, moet die MRK verduidelik waarom nie.

“As die Menseregtekommissie nie sy beloftes nakom nie, hoe kan diegene wat deur haatspraak of aanhitsing tot geweld geteiken word, enige versekering in sy toekomstige beloftes vind? Is Julius Malema bo die wet verhewe? Het hy te hoë profiel geword vir die MRK om aan te vat in die hof? Beskou die MRK haatspraak teenoor sekere minderheidsgroepe as minder ernstig as ander? Hopelik sal AfriForum, ons lede en die breër publiek binnekort duidelike antwoorde hê,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top