Die Menseregtekommissie (MRK) het die afgelope week weer uiteenlopende standpunte aangehoor oor die status van Afrikaans op die Universiteit Stellenbosch se kampus.
Die universiteit sê daar word nie teen Afrikaans gediskrimineer nie. Daar is egter steeds individue, belangegroepe en politieke partye wat volhou Afrikaans word stelselmatig en doelbewus uitrangeer op die kampus.
Die MRK se ondersoek spruit uit gebeure in Maart vanjaar by van die universiteit se koshuise waar die gebruik van Afrikaans in openbare ruimtes glo verbied is.
Volgens die universiteit se rektor, Wim de Villiers, is die suggestie dat studente oor die hele kampus heen in enige stadium ingevolge universiteitsbeleid verbied is om in Afrikaans te kommunikeer, onwaar.
“Daar is geen verbod op Afrikaans by die US nie – nie in lesinglokale, in koshuise of op enige ander plek op kampus nie. Dit is nié ons beleid nie," het De Villiers verlede maand in sy voorlegging aan die MRK gesê.
De Villiers se volledige voorlegging aan die MRK kan hier gelees word.
Twee politieke partye, naamlik die Demokratiese Alliansie (DA) en die Vryheidsfront Plus, het die universiteit by die Menseregtekommissie aangekla en vir ʼn ondersoek gevra.
Volgens die universiteit se eie onafhanklike ondersoek deur die ouditeursfirma Deloitte kon hulle geen bewys vind van enige verbod om Afrikaans in die kampus se koshuise te praat nie. Deloitte beveel egter in hulle verslag onder meer aan dat koshuisleiers dit veral tydens die studente se verwelkomingstyd duidelik moet stel dat die gebruik van ʼn gedeelde taal soos Engels “ʼn versoek van inklusiwiteit” is en nie ʼn opdrag met die doel om die regte van enige ander taal te ontken nie.
There was no instruction by Stellenbosch University management or student leaders to prohibit the use of Afrikaans in residences during the welcoming period in March 2021, Deloitte found in an independent forensic investigation. Read more:https://t.co/SpUylIsoJB
— Stellenbosch Univ (@StellenboschUni) June 14, 2021
Die universiteit se rektoraat sê in ʼn verklaring hulle het kennis geneem van die bevindinge en aanbevelings in die Deloitte-verslag. Hulle het reeds onderneem dat daar meer opleiding sal plaasvind oor die universiteit se taalbeleid sodat studente presies weet wat die universiteit met meertaligheid bedoel.
Deloitte se aanbevelings en die US se reaksie daarop kan hier gelees word.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het egter in sy voorlegging aan die MRK gesê die ondersoek na die onderdrukking van Afrikaans by die US moet ook die beweerde kultuur van vyandigheid teenoor Afrikaanssprekendes en die universiteitsbestuur se beweerde bevordering daarvan deur die lakse hantering van klagtes in dié verband insluit.
Groenewald sê in sy voorlegging aan die MRK daar sal op geen ander manier waarlik vasgestel kan word wat die aard en omvang van die verbod op die gebruik van Afrikaans by dié instelling is nie.
“Die VF Plus se standpunt is dat die erns van enige stappe wat in die belang van Afrikaanssprekende studente geneem word, nie tot politiekery gereduseer mag word nie. Afrikaans behoort nie aan die VF Plus of aan ʼn ander politieke party of organisasie nie. Dit behoort aan die mense wat dit praat.”
Die VF Plus se standpunt is dat die erns van enige stappe wat in die belang van Afrikaanssprekende studente geneem word, nie tot politiekery gereduseer mag word nie. @GroenewaldPJ https://t.co/lj5rvVxpaa
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) June 14, 2021
Volgens Groenewald het die US se aanvanklike reaksie ondubbelsinnig aangedui hoe min erg die universiteit het oor die gebruik van Afrikaans en die regte van Afrikaanssprekende studente by die universiteit.
Hy sê die miskenning van Afrikaners en Afrikaans onder die nuwe ANC-bedeling is diep gewortel en geïnstitusionaliseer. “Die VF Plus hoop daarom dat die onafhanklike ondersoek van die MRK ook die kultuur van vyandigheid teenoor Afrikaanssprekendes by die US en die oorsprong daarvan sal behels.”
Nog een van die belangegroepe wat die afgelope week ʼn voorlegging aan die MRK gedoen het, is die sogenaamde bruinbelangegroep, DAK Netwerk. DAK Netwerk se voorsitter, Danie van Wyk, sê DAK se voorlegging het dit duidelik gestel dat hulle glo in meertaligheid, wat Afrikaans, Engels en Xhosa insluit.
Van Wyk sê hulle is promeertaligheid en nie anti-Engels nie. Hy sê DAK het die posisie van alle Afrikaanstaliges aangespreek, maar spesifiek die posisie van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe.
“Afrikaans as inheemse taal was ook op die voorgrond geplaas en DAK sal alle geleenthede aangryp om deur middel van gesprek alle sake aan te spreek waar ons ʼn verskil kan maak,” het Van Wyk gesê.