Menseslagtings, asielsoekers, betogers en ’n brand

  • 0
Nederland sê jammer oor slagting in Srebrenica

Srebrenica is by die rooi kol geleë. (Skermgreep van Google Maps, gebruik volgens Google se diensvoorwaardes)

Die Nederlandse regering het by monde van die minister van verdediging, Kasja Ollongren, Maandag sy opregte verskoning aangebied vir sy betrokkenheid by die slagting in Srebrenica in die jare ’90, berig nu.nl. Ollongren het gepraat tydens die 27ste herdenking van die moordtog op duisende Bosniese Moslemmans en -seuns gedurende die oorlog in die voormalige Joego-Slawië. Sy sê die leed van die naasbestaandes kan nie weggeneem word nie. “Maar wat we wel kunnen doen, is de herinnering recht in de ogen kijken.”

Die minister sê: “De afschuwelijke genocide is de schuld van slechts één partij: het Bosnisch-Servische leger. En gelukkig zijn belangrijke verantwoordelijken inmiddels berecht door het Internationale Joegoslaviëtribunaal in Den Haag.” Sy sê voorts dat sy die verskoning gepas vind in die lig van die gedeelde internasionale verantwoordelikheid van Nederland “voor de situatie waarin dit kon gebeuren”.

Die gebeure in Srebrenica word beskou as die grootste oorlogsmisdaad in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog. Met die opbreek van die voormalige Joego-Slawië en gepaardgaande burgeroorlog het die VN die gebied rondom Srebrenica as veilige enklawe verklaar. ’n Nederlandse militêre teenwoordigheid onder die vaandel van die VN genaamd Dutchbat is gevra om die burgers te beskerm. Hulle was egter swak bewapen en het opdrag gekry om geweld te gebruik slegs om hulself te beskerm. Bosnies-Serwiese troepe het egter na die gebied opgeruk en die Nederlanders kon weinig hond haaraf maak. Versoeke om lugsteun is nie beantwoord nie. Toe die Serwiërs die gebied oorneem, is die vroue en kinders van die mans en seuns geskei, waarna hulle stelselmatig vermoor is. Minstens 8 000 Moslemmans en -seuns is in die slagting dood.

Antwerpse universiteitsgebou in ligte laaie

Een persoon is gewond toe ’n brand verlede Woensdagmiddag in een van die historiese geboue van die Universiteit van Antwerpen uitgebreek het. Die brand het tydens werk aan die dak van die gebou uitgebreek. Die gebou is geleë in die historiese Hof van Liere van die universiteit. “Rond de mooie, centrale binnenplaats staan twee gebouwen uit de 16e en 17e eeuw, maar ook een gebouw uit 1929 dat in dezelfde stijl is gebouwd,” sê die rektor Herman Van Goethem. “Het is dat gebouw dat is getroffen en niet de twee oudere gebouwen. Maar het plein is wel erg geraakt.”

Die brandweer het eers teen 03:00 Donderdagoggend daarin geslaag om die brand te blus, berig die VRT. Die dak van die boonste verdieping van gebou B in Prinsstraat het volledig uitgebrand. Die omvang van die skade moet nog bepaal word. Die twee naasliggende geboue wat nie uitgebrand het nie, bly voorlopig gesluit. Die staatsaanklaer in Antwerpen vermoed in dié stadium dat die brand deur ’n menslike fout tydens die werk aan die dak veroorsaak is.

Asielsentrum vol – migrante slaap buite

Nederland het al maande te kampe met die toestroming van vlugtelinge waarvoor daar net nie meer plek is nie. Die situasie word vererger deur die behuisingstekort. Dit veroorsaak dat asielsoekers wat wel reg op verblyf gekry het en normaal gesproke huisvesting moet kry, dit nie kry nie en langer in asielsentrums moet bly. Dit veroorsaak weer dat daar nie plek vir nuwe migrante is wat nog nuus van hul status afwag nie. Verlede week Woensdag moes sowat 30 asielsoekers buite die aanmeldsentrum in Ter Apel buite slaap omdat daar binne nie meer plek was nie. ’n Woordvoerder van die vlugtelingorganisasie die COA het aan die nuusdiens RTV Noord gesê daar was busse gereël om die asielsoekers na ander plekke te neem, maar hulle het die vervoer om verskillende redes geweier. Sommige het byvoorbeeld reeds ’n afspraak by die Immigrasiediens gehad en was bang dat hulle nie betyds vir hul afspraak sou wees nie.

Intussen het staatsekretaris Erik van der Burg bekend gemaak dat ’n wetsvoorstel ná die somer ingedien gaan word om plaaslike owerhede in Nederland te dwing om ’n heenkome aan asielsoekers te verskaf om die geriewe by Ter Apel te verlig. Volgens Van der Burg maak sowat die helfte van alle munisipaliteite in Nederland geen voorsiening vir asielsoekers nie. Die NOS berig dat ’n plek vir ’n tweede aanmeldsentrum vir asielsoekers in die Noordoostpolder geïdentifiseer is. Die nuwe aanmeldsentrum sal plek hê vir tussen 250 en 300 asielsoekers. Die munisipaliteit is egter minder entoesiasties oor die idee. “In het verleden hebben wij altijd draagvlak gezocht en gekregen voor de huidige opvang. Die draagkracht is niet oneindig,” berig die munisipaliteit.

Verslaggewer Martijn Klungel van RTV Noord berig Dinsdagaand op Twitter dat daar weer sowat 400 asielsoekers in Ter Apel vir slaapplek wag.

Boerebetogings: Polisie skiet glo op 16-jarige

Tydens die landwye betogings verlede week van boere oor die moontlikheid dat hulle hul werksaamhede drasties sal moet inkort weens die stikstofkrisis, het sake handuit geruk toe die polisie na wat berig word gerigte skote op betogers afgevuur het. Die voorval het op die A32-deurpad naby Heerenveen ’n Friesland gebeur. Volgens die polisie was daar sprake van ’n gevaarlike situasie, berig die NOS. Niemand is beseer nie, maar die boereaksiegroep Farmers Defence Force meld dat ’n 16-jarige bestuurder van ’n trekker byna raakgeskiet is. Volgens die polisie het trekkerbestuurders probeer om oor polisiebeamptes en hul diensvoertuie te ry. Een trekker wat probeer wegry het, is voorgekeer. Drie ander verdagtes is ook aangekeer. Die 16-jarige trekkerbestuurder is vir poging tot moord in hegtenis geneem. Maar Farmers Defence Force meen dit is die polisiebeampte wat agter tralies moet wees. Die seun en die twee ander betogers is intussen vrygelaat.

Nóg ’n skraagdosis wink in die Lae Lande

België het bekend gemaak dat hy met ’n nuwe inentingsveldtog teen COVID-19 gaan begin, berig die VRT. Alle volwassenes van 18 jaar en ouer kan vanaf die begin van September hulle opvolginenting vir die herfs kry. België gaan tans gebuk onder ’n sewende golf van infeksies, met hospitaalopnames wat elke dag styg. Die veldtog skop op 12 September in Vlaandere af en mense ouer as 65, diegene met ’n verswakte immuunstelsel en verpleegpersoneel sal eerste uitgenooi word vir ’n inenting.

Intussen berig die NOS dat Nederland ook besig is met voorbereidings vir ’n nuwe ronde inentings in die najaar. Die munisipale gesondheidsdiens in Nederland werk tans aan ’n plan om te begin met 300 000 inentings per week en om dit uit te brei na sowat 1,5 miljoen per week.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top