Ongeveer ’n derde van die land se middelklashuishoudings sal waarskynlik as gevolg van COVID-19 in armoede verval.
Dit is deel van die donker prentjie wat deur ’n navorsingsprogram van die Verenigde Nasies aan die lig gekom het. Die navorsingsresultate toon ook dat dit ongeveer vyf jaar sal neem voordat die land se bruto binnelandse produk (BBP) weer op dieselfde vlak is as wat dit in 2019 was.
Armoede, werkloosheid en ongelykheid word al hoe groter en herstel langsamerhand. Volgens die verslag word huishoudings waar die broodwinner ’n vrou is, mense met ’n laer onderwyskwalifikasie en die informele sektor die swaarste getref deur die negatiewe ekonomiese gevolge van COVID-19.
Diegene wat toegang het tot tegnologie, vaar beter. Die opstellers van die verslag sê om te herstel van die ekonomiese gat waarin die land beland het, moet daar ’n verbeeldingryke ekonomiese beleid wees. Daadwerklike aksie is nodig om te sorg dat dit uitgevoer word. COVID-19 het ’n uiters negatiewe impak op volhoubare ontwikkelingsdoelwitte gehad.
UNDP RELEASES STUDY ON THE SOCIO-ECONOMIC IMPACT OF COVID-19 IN SOUTH AFRICA@GDCoGTA @UNinSouthAfrica @SolidarityRSA @DpmeOfficial @HSRCza @UNFPASA @HealthZA @ohchr_sa @DepartmentPWI @UNDPAfrica
| UNDP in South Africa https://t.co/K67qwdpafV— UNDP South Africa (@UNDPSouthAfrica) August 20, 2020
Die studie fokus veral daarop hoe COVID-19 die tydelike en langtermyndoelwitte van die land se armoede-vlakke sal beïnvloed.
Suid-Afrika se algemene BBP sal na verwagting met tot byna agt persent afneem in 2020 en stadig herstel tot 2024, waarsku die verslag.
Die koronavirus en die nagevolge daarvan sal lei tot groot terugslae om armoede, werkloosheid en ongelykheid te verlig. Meer as die helfte van alle huishoudings (54%) waarvan die broodwinners hul permanente werk kwyt is en gedwing is om as gevolg van COVID-19 informele of tydelike kontrakwerk te bekom, loop die gevaar om binne ses maande in armoede te verval nadat al die hulppakkette opgedroog het.
“Ongelykhede tussen lande en ook onderling binne volke word deur COVID-19 onderstreep aangesien die kwesbare en armes nie in staat is om hulself daarteen te beskerm nie,” sê een van die VN se koördineerders, Nardos Bekele-Thomas.
Terwyl die regering se maatskaplike toelaes die armstes probeer help, meen die navorsingstudie daar behoort ook hulp verleen te word aan die gevalle wat aan armoede grens, soos die kwesbare middelklas, om te keer dat hulle nie ook in totale armoede verval nie.
Volgens die jongste data oor salarisse soos verskaf deur BankservAfrica, wat die grootste geoutomatiseerde betaalstelsel in die land is, is die gemiddelde bedrag wat salaristrekkers in die land huis toe neem, tans ongeveer R14 000.
Die meeste Suid-Afrikaners werk egter in die informele sektor waar hul inkomste nader aan R6 000 per maand is, terwyl die land se minimumsalaris in die omgewing van R3 500 per maand vasgestel is.
Die studie wys verder daarop dat die ekonomiese sektore wat die swaarste deur die uitbreek van COVID-19 getref is, die tekstielbedryf, onderwysdienste, onthaal- en akkommodasiebedrywe (insluitend toerisme), drankhandel, die tabakbedryf, plaasprodukte en skoenprodukte is. Klein en mediumondernemings word die meeste geraak.
’n Paneelbespreking wat uit verteenwoordigers van die WNNR, die VN en die Nasionale Beplanningskommissie bestaan, het tydens die bespreking van die verslag daarop gewys dat daar geen kitsoplossing is om die krisis op te los nie. Hulle sê dit verg gekombineerde beleidsaksies wat moet fokus op daardie dele van die bevolking wat die swaarste getref is deur die uitbreek van COVID-19 en die gevolge daarvan. Dit benodig maatskaplike beskermingsmeganismes en verskeie ander maatreëls soos belastingtoegewings en opleidingsprogramme om die ekonomiese krisis te probeer beredder.
Die gevolgtrekking in die verslag is dat COVID-19 kort- sowel as langtermyngevolge inhou in die land se stryd om armoede te verlig. Die koronavirus en die grendeltyd het ’n vernietigende invloed op veral enkelouers en arm mense gehad.
Die volledige verslag kan hier afgelaai word.
Buro: MvH