Miljoene blikkies blikkieskos moet vernietig word

  • 0

Foto: Tiger Brands, soos verskaf

Miljoene eenhede blikkieskos wat die afgelope twee jaar deur een van Suid-Afrika se grootste kosvervaardigers en bemarkers van blikkieskos vervaardig is, word van die mark onttrek en gaan vernietig word omdat daar ’n fout ingesluip het tydens die vervaardigingsproses.

Tiger Brands, onder wie se naam die blikkieskos vervaardig word, het Maandag op hulle webwerf en sosialemediaplatforms aangekondig dat sekere van hulle KOO- en Hugo’s- produkte onttrek word. Daar was glo tydens die vervaardigingsproses lekkasies by ’n klein aantal van die blikkies wat deur een van die maatskappy se verskaffers geblik word.

Sowat 20 miljoen blikkies van die KOO- en Hugo’s-handelsmerke is herroep. Die fout is tydens een van die maatskappy se interne gehaltebeheerprosesse ontdek. 

Die produkte wat onttrek word, is almal tussen 1 Mei 2019 en 5 Mei 2021 vervaardig. Volgens ’n verklaring deur Tiger Brands is ’n geringe aantal van die produkte defektief, maar daar is besluit om as voorsorgmaatreël alle produkte wat moontlik geraak kan word, te onttrek.

Die defektiewe blikkies het glo ’n fout op die soom wat kan veroorsaak dat dit begin lek. Die probleem is hoofsaaklik by KOO se gebakte bone. Ander produkte wat geraak word, sluit onder meer in gebakte bone in tamatiesous, botterbone, KOO Chakalaka en KOO se gemengde groente.

 ’n Volledige lys van die blikkies wat geraak word, is op Tiger Brands se webwerf beskikbaar.

Verbruikers wat van die produkte gekoop het, word aangeraai om dit na hulle naaste supermark of winkel te neem vir ’n terugbetaling.

Tiger Brands sê die finansiële impak van die herroeping word op tussen R500 miljoen en R650 miljoen geraam. Volgens hulle is die meeste lekkasies aangemeld voordat die finale etikette aangebring is.

Hulle sê in hulle verklaring daar is tot dusver nog geen voorval aangemeld van ’n defektiewe produk wat ’n gesondheidsprobleem veroorsaak het nie. “Hoewel daar ’n skrale moontlikheid is dat dit tot siekte of beserings kan lei, is die handhawing van kwaliteit en voedselveiligheid ’n absolute prioriteit vir Tiger Brands,” lui die verklaring. Daarom het hulle in konsultasie met die Nasionale Verbruikersraad besluit om as voorsorgmaatreël en in die beste belang van verbruikers op te tree en die blikkies wat moontlik defektief kan wees te onttrek.

Die geaffekteerde blikkies kan uitgeken word deur na die datum onder op die blikkies te kyk; daar is ’n stempel waarop die vervaardigingsdatum in die eerste ry verskyn, gevolg deur die letters MAN.

Verskeie verbruikers het op sosiale media kommer uitgespreek omdat dit so lank geneem het voordat die fout ontdek is. Hulle sê hulle het lankal reeds van die blikkieskos geëet wat 2019 se vervaardigingsdatum op het. “Wat moet ons nou doen, moet ons die leë blikkies vir julle stuur?” wou iemand op die groep se Facebookblad weet.

Tiger Brands het egter die versekering gegee dat daar tot dusver nog geen gesondheidsprobleme aangemeld is nie. ’n Woordvoerder van die maatskappy het op Facebook gesê ’n lekkasie in die blikkies hou ’n risiko van sekondêre mikrobiese besmetting in. Waar daar sulke besmetting voorkom, kan dit ’n lae moontlikheid van siekte tot gevolg hê as daar van die besmette kos geëet word.

Mense wat van die produkte het wat onder verdenking is, hoef nie meer die aankoopstrokie in hulle besit te hê om dit te terug te besorg nie. Hulle kan dit bloot na hulle naaste supermark of winkel neem, waar hulle daarvoor vergoed sal word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top