Miljoene dosisse COVID-19-entstowwe ter waarde van miljarde rand wat met geleende fondse vir Suid-Afrika aangekoop is, sal waarskynlik vernietig moet word.
Meer as agt miljoen dosisse van die Pfizer-entstof moet glo teen die einde van volgende maand vernietig word, terwyl ’n verdere voorraad entstof teen volgende jaar vernietig sal moet word.
Weens vertroulikheidsklousules in die verskaffersooreenkomste is die prys per dosis nie bekend nie, maar volgens die DA sal dit beteken dat byna R1,5 miljard in die drein weggespoel sal moet word. Dit sluit nie die voorraad van tien miljoen Johnson & Johnson-dosisse in wat teen die middel van volgende jaar ook sal verval nie.
Op 13 Junie vanjaar het die Wêreldbank ’n lening van 454,4 miljoen euro (R7,9 miljard of $480 miljoen) goedgekeur vir Suid-Afrika se COVID-19-noodreaksieprojek. Die lening is toegestaan na aanleiding van ’n versoek deur die Suid-Afrikaanse regering vir hulp met die finansiering van kontrakte vir die verkryging van entstof.
Die DA het Maandag in ’n verklaring met verontwaardiging reageer op die moontlike vernietiging van die entstof. Die party sê dit beklemtoon die regering se wanbestuur en versuim om die Covid-pandemie te hanteer.
The DA has noted with concern that the ANC government plans on destroying millions of Covid-19 vaccines.
We call on the government to ramp up its vaccination campaign so that the vaccines do not expire and to ensure more South Africans are vaccinated.https://t.co/pMN6xTTXTT
— Democratic Alliance (@Our_DA) September 19, 2022
“Die situasie laat ook vrae ontstaan oor die lot van ’n verdere 10,1 miljoen opgehoopte dosisse van die Johnson & Johnson-entstof wat tussen Junie en September 2023 sal verval.”
Slegs 32,6% van Suid-Afrikaners is ten volle ingeënt teen COVID-19; 37 miljoen dosisse is toegedien.
Die ANC-regering se reaksie op die pandemie is vertroebel deur korrupsie en wanbestuur wat baie lewens gekos het. Dit sluit onder andere die Digital Vibes-korrupsieskandaal van R80 miljoen in wat die voormalige minister van gesondheid, Zweli Mkhize, betrek het, asook persoonlikebeskermingstoerusting-korrupsie wat in die vroeë dae van die pandemie hoogty gevier het.
Die DA sê in hulle verklaring ten spyte hiervan wil die ANC die Nasionale Gesondheidversekering (NGV) deurdruk as ’n instrument vir verdere diefstal en wanadministrasie in plaas daarvan om die gesondheidsorgstelsel reg te stel en die basiese beginsels reg te kry.
Die DA het ’n beroep gedoen op die Departement van Gesondheid om sy inentingsveldtog op te skerp sodat die res van die entstowwe nie ook verval nie en om te verseker dat meer Suid-Afrikaners ingeënt word.
“Die vernietiging van hierdie entstowwe is ’n aanklag teen die departement. Hulle het duidelik die proses deurmekaargekrap. Die departement moet verseker dat daar geen verdere vermorsing van belastingbetalersgeld is as gevolg van die inname van entstowwe nie,” sê die party in hulle verklaring.
Suid-Afrika het die meeste koronavirusinfeksies en -sterftes op die Afrika-kontinent aangeteken, maar inentings het verlangsaam en as gevolg daarvan sit die land nou opgeskeep met miljoene dosisse ongebruikte entstof.
Daar is reeds vroeër vanjaar in die media bespiegel dat daar ’n risiko bestaan dat meer as 100 000 dosisse wat teen einde Maart sou verval, dalk weggegooi sou moes word.
Toe het die minister van gesondheid, Joe Phaahla, aan joernaliste gesê dit sal ’n hartseer dag wees as aansienlike hoeveelhede dosisse uiteindelik weggegooi moet word. “Ons hoop dit sal nie daardie stadium bereik nie.”
Hy het gesê die departement sal probeer om inentings op te skerp om te verhoed dat die entstofdosisse vernietig word.
David Harrison, uitvoerende hoof van die DG Murray Trust, sê in artikel wat hy Maandag vir die Daily Maverick geskryf het, dat hoewel dit op die oog af lyk na ’n monumentale mislukking deur die regering, dit eintlik nie so is nie. Hy sê dit is eerder die resultaat van ’n wyse keuse om voor te berei op die ergste in ’n tyd toe die toekomstige pad van die pandemie beide skrikwekkend en onseker was. Gelukkig, en nieteenstaande die verskriklike aantal sterftes, het die ergste scenario nie gerealiseer nie, sê Harrison.