Die amptelike opposisie in die parlement, die DA, is woedend oor die meer as R10 miljoen wat die regering spandeer het aan direkteurs-generaal in die staatsdiens wat die afgelope paar jaar met volle betaling geskors is en by die huis op hulle louere gesit en niks doen het nie.
Die DA sê in ’n verklaring terwyl die gemiddelde Suid-Afrikaanse belastingbetaler sukkel om uit te kom met hulle geld en swoeg om kos op die tafel te sit, het Cyril Ramaphosa toegelaat dat vyf geskorste direkteurs-generaal (DG’s) luuks by die huis sit en niks doen nie teen ’n massiewe koste van R10,5 miljoen vir die Suid-Afrikaner belastingbetaler.
Die onthulling van die miljoene rand wat aan die geskorste DG’s se salarisse spandeer is, het aan die lig gekom in ’n skriftelike parlementêre antwoord op ’n vraag van die DA. Die DA wou weet hoeveel spandeer is op die totale aantal DG’s wat in die 2020/21 met volle betaling geskors is, asook in die 2021/22- en 2022/23-boekjare.
Die antwoord identifiseer ’n totaal van vyf DG’s wat geskors is met volle betaling, insluitend die DG’s vir openbare ondernemings en internasionale betrekkinge.
Die salarisse wat aan hulle betaal word terwyl hulle geskors is, is volgens die presidensie verskuldig en betaalbaar ingevolge die land se arbeidswette.
Die DG van die Departement van Verdediging en Militêre Veterane (DMV), Irene Mpolweni, is steeds met volle betaling geskors, terwyl dit byna ’n jaar geneem het voordat die voormalige DG van openbare ondernemings, Kgathatso Tlhakudi, afgedank is.
Die parlement se regsadviseurs het vroeër gesê die parlement kon nie verdoemende bewerings ignoreer wat die geskorste Tlhakudi teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, gemaak het oor die verkoop van die SAL nie.
Die parlement moes eers ’n regsmening inwin oor Tlhakudi se bewerings en ’n oproep deur die EFF se hoofsweep, Floyd Shivambu, vir ’n parlementêre ondersoek.
Tlhakudi het aangevoer dat Takatso Consortium SAL-bates onderwaardeer het en Gordhan van onwettige optrede rakende die verkoop van SAL beskuldig.
’n Jaar na Mpolweni se skorsing het die DMV steeds ’n tussentydse DG in die persoon van Mosiwe Hlongwane, ’n afgetrede hoof van die Suid-Afrikaanse Vloot (SAN), in die pos.
Hlongwane is nie die eerste senior afgetrede offisier van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat in die warmstoel by die DMV-hoofkwartier beland nie. Mpolweni was DG van April 2021 tot haar skorsing in Maart 2023.
Die skorsing van die DG van die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur, Samuel Vukela, is eers ná twee jaar afgehandel.
Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Mimmy Gondwe, sê daar was ’n soortgelyke probleem in die staatsdiens waar staatsamptenare vir ’n onbepaalde tydperk geskors is. Sy sê daar was gevalle waar staatsamptenare vir tot meer as 10 jaar met volle betaling geskors is.
“Dus is ek nie verbaas dat die presidensie nie daarin slaag om dissiplinebestuur binne ’n redelike tyd op te los nie.”
Gondwe sê dit is belangrik om daarop te let dat al vyf DG’s wat geïdentifiseer is, se skorsing almal verband hou met bewerings van wangedrag.
Sy het ’n beroep op Ramaphosa gedoen om die voortslepende dissiplinêre saak van die DG van die DMV te finaliseer ter wille van die reeds swaar belaste belastingbetaler. “Dit is eenvoudig nie regverdig dat daar telkens van die Suid-Afrikaanse belastingbetaler verwag word om die finansiële las van president Ramaphosa se mislukte en sieklike openbare administrasie te dra nie, aangesien loopbaangeskille van DG’s ingevolge artikel 12 van die Staatsdienswet deur die president hanteer word.”