Miljoene leerlinge moet wag voordat hulle kan terugkeer skool toe

  • 0

............

“Hulle sê COVID-19 bereik nou eers sy hoogtepunt, en die feit dat dit in die middel van die winter is, maak dit baie riskant vir leerlinge om terug te keer skool toe.”

............

Miljoene skoliere wat Maandag sou terugkeer skool toe, sal nou eers later hulle skoolloopbane kan hervat as gevolg van kommer deur sommige ouers en onderwysvakbonde oor kinders en onderwysers se veiligheid as gevolg van COVID-19.

Van sowat ses miljoen kinders wat Maandag sou terugkeer, mag slegs enkele grade dit nou doen.

Weens wysigings deur die raad van onderwysministers mag slegs leerlinge in grade R, 6 en 11 nou op 6 Julie terugkeer. Die besluit volg ná ’n vergadering tussen die Departement van Onderwys en ander belanghebbendes.

Foto: Canva.com

Die res van die grade sal waarskynlik gedurende Julie stelselmatig in fases volg. Veral in die Wes-Kaap is daar heelwat ouers wat wil hê die skole moenie voor September open nie. Hulle sê COVID-19 bereik nou eers sy hoogtepunt, en die feit dat dit in die middel van die winter is, maak dit baie riskant vir leerlinge om terug te keer skool toe.

In ’n verklaring wat Donderdagmiddag uitgereik is, sê die Departement van Basiese Onderwys die gewysigde reëlings is in die beste belang van leerlinge, onderwysers en ouers.

Die woordvoerder vir die departement, Elijah Mhlanga, sê vyf verslae is by die vergadering ter tafel gelê, waarna die betrokke besluite geneem is. Hy sê die gewysigde reëlings sal die departement en skole in staat stel om die getal leerlinge by skole beter te bestuur as deel van die tweede fase van terugkeer.

Die vakbond Naptosa het reeds vroeër hulle kommer uitgespreek oor die risiko wat onderwysers loop om COVID-19 op te doen.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê hulle het volgens ’n meningsopname bepaal dat 60% van personeellede meen die ander grade moenie nou terugkeer nie.

SAOU sê hulle het saam met die ander onderwysvakbonde aan verskeie gesprekke met die Minister van Basiese Onderwys en die nege LUR’e vir Onderwys deelgeneem om met inagneming van realiteite die bes moontlike bedeling vir onderwyspersoneel en leerders te verseker

............

“Klopper sê daar moet ’n balans gevind word tussen die veiligheid van onderwysers en die belang van die onderwysstelsel, en dit is nie so maklik nie.”

............

Hulle het vroeër gesê die onderwysstelsel het reeds groot vordering getoon in terme van gereedheid om sekere grade leerders te kan ontvang. Daar is egter nog bepaalde geografiese streke en skole wat nie gereed is nie.

Die hoof van SAOU, Chris Klopper, sê die jongste uitstel kan toegeskryf word daaraan dat veral skole in provinsies soos die Oos-Kaap nie gereed is om te heropen nie.

Volgens SAOU se jongste meningspeiling, waaraan meer as 7 000 onderwysers deelgeneem het, is die meerderheid bekommerd oor die blootstelling wat die onderwysers by skole sal kry. Meer as 20% van die respondente het aangedui dat een van hulle kollegas reeds positief getoets is vir COVID-19.

Klopper sê daar moet ’n balans gevind word tussen die veiligheid van onderwysers en die belang van die onderwysstelsel, en dit is nie so maklik nie.

Volgens die verklaring van die Onderwysdepartement sal daar die naweek meer besonderhede oor die heropening verskaf word.

Die besluit om die volledige heropening van skole uit te stel en in fases te implementeer het gemengde reaksies by ouers uitgelok.

Thea Gerber het op Netwerk24 geskryf al waaroor die vakbond hulle bekommer, is die beheerraadposte. “Wat van die privaatskole (met duisende onderwysers) wat daagliks deur die ‘Circuit Managers’ geboelie word om nie oop te maak voor die staatskole nie, want almal moet dieselfde ding doen. Ons kan oopmaak, want alles en meer is by ons in plek, maar die CM boelie ons op elke manier. Kan die vakbonde nie asseblief onthou dat sommige van hulle lede by privaatskole is nie?”

Buro: MvH
  • 0
Top