Miljoene rand se onwettige sigarette vernietig

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het duisende onwettige sigarette ter waarde van meer as R17 miljoen vernietig.

Die sigarette wat vernietig is, is onwettig ingevoer of vervaardig in stryd met Suid-Afrika se Doeane- en Aksynswetgewing.

Die direkteur van doeane en aksyns, Beyers Theron, sê in ’n verklaring daar is in die 2020/2021-belastingjaar reeds op meer as 181 miljoen sigarette beslag gelê. Die handel in onwettige sigarette het die hoogte in geskiet gedurende die streng inperkingsregulasies toe die verkoop van tabakprodukte verbied is.

’n Ipsos-peiling wat in Maart gedoen is, het bevind dat 74% van kleinhandelaars in Gauteng, die Wes-Kaap en die Vrystaat openlik onwettige sigarette verkoop het. 

Die British America Tabakvereniging van Suid-Afrika (Batsa) het vroeër vanjaar gesê rolspelers in die tabakbedryf is woedend omdat onwettige sigarette volgens hulle die mark oorneem. 

Dit is die tweede keer die afgelope maand dat onwettige sigarette ter waarde van miljoene rande gekonfiskeer en vernietig word. Vroeër vandeesmaand het doeanebeamptes by Beitbrug, gesteun deur die Suid-Afrikaanse Polisie (SAPD) en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), onwettige sigarette ter waarde van meer as R30 miljoen vernietig.

Tydens ’n gesamentlike operasie van SAID-doeane, die SAPD, die Departement van Binnelandse Sake en die Metropolisie in Gauteng is daar ook vroeër dié maand 22 winkels in Kemptonpark en Johannesburg deursoek, waar daar onwettige sigarette ter waarde van R2,4 miljoen gekonfiskeer is.

Theron sê die beslaglegging op en vernietiging van onwettige goedere is ’n prestasie wat in ooreenstemming is met die regering se benadering om onwettige handel op ’n geïntegreerde en gekoördineerde manier te hanteer.

Kyk hier na videomateriaal wat deur SAID voorsien is hoe die sigarette vernietig word.

Ander sektore wat ernstig deur onwettige handel geraak word en wat deel uitmaak van die SAID-fokus, sluit in klere en tekstiele, leer en skoene, brandstof, pluimvee, tweedehandse voertuie, goud en skrootmetaal. Daar is ook ongeregistreerde geneesmiddels wat veronderstel is om verskillende kwale te behandel, maar wat nog nie wetenskaplik getoets is nie, het Theron bygevoeg.

Op grond van die doeanestatistiek was daar in die boekjaar 2020/2021 altesaam 1 150 beslagleggings op 181 668 974 sigarette met ’n geskatte waarde van R219 870 354. Dit verteenwoordig ’n geskatte BTW van meer as R163 miljoen wat Jan Taks sou toegekom het indien dit wettige handel was.

Dit was ’n toename van meer as 100% teenoor die vorige boekjaar, wat 445 beslagleggings opgelewer het met ’n waarde van R103,5 miljoen.

Beslagleggingstendense per toegangspoort vir die boekjaar 2020/2021 toon dat die meeste beslagleggings by die grensposte Beitbrug, Groblersbrug, Kopfontein, Lebombo en Skilpadshek plaasgevind het.

Theron sê die publiek moet let op die risiko's verbonde aan onwettige invoer.

Dit verminder die inkomste wat die land insamel en die inkomste wat nodig is om basiese dienste aan alle Suid-Afrikaners te lewer, insluitend die armes en weerloses. Dit vernietig ook plaaslike bedrywe, wat die sluiting van fabrieke, werkverliese en die verdere erosie van die belastingbasis tot gevolg het.

Sommige van hierdie onwettige goedere hou ook ’n gesondheidsgevaar in wat die gesondheidsorgstelsel benadeel.

Onwettige handel dra verder by tot hoër vlakke van misdadigheid, insluitend omkopery en korrupsie. Hierdie onwettige handel bevorder die werksaamhede van die verskillende sindikate van georganiseerde misdaad, dwelm- en wapensmokkelary en selfs mensehandel.

Die SAID het onlangs die National Rapid Response Team (NRRT) op die been gebring om die euwel van onwettige handel te help uitroei. Die eenheid staan ander wetstoepassingsowerhede by om makliker vinnige en buigsame ontplooiingsoperasies in hoërisikogebiede moontlik te maak.

Die NRRT is ook verantwoordelik vir vinnige ontplooiing by kontrolepunte van geïdentifiseerde brandpunte in provinsies en toegangspoorte. Die NRRT se ondersteuningrol het volgens SAID baie tot die beslaglegging op en vernietiging van die onwettige sigarette bygedra.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top