Miljoene rand vermors by onvoltooide hospitaal in Gauteng

  • 0

Miljoene rand is vermors tydens ’n bouprojek vir ’n hospitaal in Vereeniging wat daarop gemik was om die pasiëntkapasiteit te verdubbel.

Nie ’n enkele een van die nuwe sale by die Kopanong-hospitaal is voltooi nie en die Gautengse Gesondheidsdepartement het blykbaar geen plan vir wat om met die halfgeboude sale te doen nie.

Gauteng se LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê geen nuwe saal is voltooi nie.

Hy het bygevoeg: “Die Gautengse Gesondheidsdepartement het nog nie besluit wat om met die nuwe sale te doen as ’n nuwe kontrakteur gevind kan word om dit klaar te maak nie.”

Die projek, waarmee in 2020 begin is, sou die bou van ses splinternuwe sale vir intensiewe sorg behels het wat 156 pasiënte sou kon huisves, en vier hoësorgsale wat 144 pasiënte sou huisves.

Nkomo-Ralehoko het in antwoord op vrae van die DA in die Gautengse wetgewer gesê R115 miljoen is by die hospitaal bestee aan sale wat bedoel was om tydens die COVID-19-pandemie gebruik te word.

Volgens die LUR is die sale almal onvoltooid omdat die aangestelde diensverskaffer nie die projek kon voltooi nie en hul kontrak beëindig is.

Die oorspronklike plan in 2020 was om vinnig 300 intensiewesorgbeddens vir Covid-pasiënte te bou deur alternatiewe boutegnologie (ABT) te gebruik, maar die kontrakteurs het agter geraak en die werk is nooit voltooi nie.

Daar was ook omstredenheid omdat die kontrakteur versuim het om subkontrakteurs te betaal.

Nou sê die departement dat hulle “die struktuur hersien vir moontlike gebruik as kantoorruimte vir die distrik”.

Die DA sê in ’n verklaring: “Hierdie projek was ’n monsteragtige vermorsing van geld wat gebruik moes gewees het om bestaande openbare hospitale reg te maak.”

Volgens een van die party se parlementslede, Andrew Whitfield, is dit nog ’n voorbeeld van growwe onbevoegdheid deur die Gautengse Departement van Infrastruktuurontwikkeling wat gereeld swak kontrakteurs kies wat nie klaarmaak nie, maar steeds groot bedrae geld betaal word.

Whitfield sê soos gewoonlik word korrupsie vermoed en die LUR sê hulle ondersoek die kwessie.

Die DA sê hulle het nog geen werklike gevolge van hierdie nimmereindigende “ondersoeke” gesien nie.

Byna R2 miljard is altesaam vermors van die geld wat vir die COVID-19-pandemie vrygestel is, insluitend R500 miljoen op die verlate Anglo Ashanti-hospitaal aan die verre Wes-Rand.

Die media het reeds verlede jaar berig dat die kontrakteurs wat vir die werk betaal is, die projek laat vaar het. Die hospitaal is in ’n toestand van verval gelaat, met lang gras wat binne en buite die onvoltooide geboue groei. Sekuriteit is ook nêrens te vinde nie, het Sunday World destyds berig.

IOL het in November verlede jaar berig dat kleinsake-eienaars wat gesubkontrakteer is om intensiewesorgeenheid-beddens en hoësorgeenhede vir Covid-pasiënte by die Kopanong-hospitaal op te knap, sê hulle verdrink in skuld nadat die regering versuim het om hul uitstaande betalings te verwerk.

Die hospitaal se hoof- uitvoerende beampte, Mmaselloane Kgomojoo, het haar opgewondenheid uitgespreek toe Bandile Masuku, voormalige LUR van gesondheid in Gauteng, die hospitaal in 2020 besoek het, maar haar opgewondenheid was van korte duur.

Volgens mediaberigte was die hospitaal in ’n vervalle toestand toe ’n lid van die DA dit besoek het na klagtes oor die swak toestand daarvan. Die mediese personeel was glo ook bekommerd oor die gebrek aan sekuriteit en die verval van die ou hospitaal. Plafonne was stukkend en die vloere moes ook dringend herstel word.

Daar was na berig word geen veiligheidswagte by die vervalle hospitaal te sien nie, aangesien hulle ook nie betaal is nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top