Dit wil voorkom of Suid-Afrikaners vuur en vlam is om in volgende jaar se verkiesing te gaan stem.
Byna drie miljoen Suid-Afrikaners het die afgelope naweek as kiesers geregistreer of het gaan seker maak dat hulle besonderhede op die kieserslys nog in orde is indien hulle reeds geregistreer was.
Die kieserslys het nou 26,8 miljoen kiesers teenoor die 26,3 miljoen voor die naweek. Gauteng, wat die digsbevolkte provinsie in die land is, het die meeste geregistreerde kiesers, naamlik 6,2 miljoen.
Dit was veral jong persone tussen die ouderdomme van 16 en 29 wat die afgelope naweek geregistreer het. Voornemende kiesers moet minstens 16 jaar oud wees om te registreer, maar mag eers stem nadat hulle 18 geword het.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) sê 78,31% van nuutgeregistreerde kiesers is in die ouderdomsgroep 16 tot 29 jaar.
Hierdie kategorie verteenwoordig 445 089 van die 568 374 nuwe kiesers. Die OVK sê hulle sal aanhou met pogings om die registrasievlakke van die jeug te verbeter.
“Hierdie deelnamevlakke in die kiesersregistrasies wat verwerk is, demonstreer die verbintenis van Suid-Afrikaners tot verkiesingsdemokrasie,” het die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, gesê.
Die tendens dat daar meer vroue op die kieserslys is, duur voort. Van die nuwe registrasies was 298 500, of 52,52%, vroulik.
Die OVK sê in ’n verklaring die sukses van die registrasieveldtog tot dusver is tot ’n groot mate te danke aan die doeltreffendheid van die nuwe kieserbestuurstoestel wat gebruik word om kiesers te registreer.
Die OVK sê die spoed waarteen registrasie-aansoeke verwerk word, word deur die stelsel verhoog. Die besonderhede van kiesers wat die naweek by stemlokale opgedaag het, is reeds verwerk en adresbesonderhede op die kieserslys vasgelê.
Gauteng, KwaZulu-Natal en Oos-Kaap het die meeste registrasietransaksies aangeteken. Die provinsiale verdeling is soos volg:
- Gauteng: 610 948
- KwaZulu-Natal: 559 933
- Oos-Kaap: 516 547
- Limpopo: 332 557
- Mpumalanga: 225 074
- Wes-Kaap: 227 620
- Noordwes: 184 902
- Vrystaat: 173 612
- Noord-Kaap: 72 844.
Die provinsies met die hoogste aanlyn registrasies is Gauteng, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Die bywerking van die kommissie se databasis word egter vertraag omdat sommige aanlyn registrasies ’n "hangende" boodskap gegee het. Die "hangende" boodskap word deur kiesers ontvang in gevalle waar die ID-besonderhede wat hulle opgelaai het, nie deur die stelsel gelees of herken kan word nie, of waar ’n ander dokument as ’n ID opgelaai is. Die OVK het ’n beroep op kiesers gedoen om ekstra versigtig te wees en die stelselaanwysings te volg wanneer hulle hul ID oplaai.
Voor die bekendstelling van die nuwe stelsel sou dit maande geneem het om adresbesonderhede van kiesers vas te lê ná ’n registrasiegeleentheid. Die bestuurstoerusting het 834 474 regstreekse transaksies verwerk, terwyl 1 872 352 transaksies vasgelê is en later verwerk word.
“Dit is ’n bewys van die betroubaarheid daarvan om voorsiening te maak vir ’n modus wat die stelsel in staat stel om in verskillende omgewings te werk,” sê die OVK.
Meer as ’n halfmiljoen mense het die afgelope naweek vir die eerste keer geregistreer. Dit maak 19,57% van totale registrasie-aktiwiteit uit. Kiesers wat in dieselfde stemdistrik herregistreer het, was 1,4 miljoen, en diegene wat in ’n ander stemdistrikte herregistreer het, was 929 564.
Die OVK het Dinsdag ook die parlement se portefeuljekomitee oor binnelandse sake ingelig oor hul voorbereidings vir die nasionale en provinsiale verkiesing volgende jaar en die tweede-kwartaal-prestasie- en -uitgaweverslae vir die 2023–2024-boekjaar.
Portfolio Committee on Home Affairs, 21 November 2023: Briefing by the Electoral Commission on their preparations for the 2024 NPE and second quarter performance and expenditure reports for the 2023-24 financial year https://t.co/sAlusgRT0v via @YouTube
— IEC South Africa (@IECSouthAfrica) November 21, 2023
Die OVK het Suid-Afrikaners wat gehoor gegee het aan die oproep om te registreer, bedank. Baie mense het ook die SMS-lyn 32810 gebruik om hul registrasiestatus na te gaan.