Min gepla oor korona? En wat gebeur as die virus in ons gesig ontplof?

  • 0

Dit is vandag die eerste dag ná die inwerkingstelling gisternag van die 21 dae korona-inperkingsperiode wat Maandag deur pres Cyril Ramaphosa aangekondig is.

Hierdie drastiese stap is gedoen om die verspreiding van die virus in Suid-Afrika te vertraag. Om, in Ramaphosa se empatiese woorde, die besmetting van “honderdduisende” te voorkom.

Die tekens van hoe vinnig die virus versprei, was tog reeds daar: Binne slegs agt dae, het die President dit voorgehou aan almal wat na hom op televisie of die radio geluister het, het die koronagevalle in die land vanaf 60 tot meer as 400 gestyg.

Reeds vroeër het Ramaphosa in reaksie op die globale eksponensiële groei in koronagevalle, Suid-Afrika tot ’n ramptoestand verklaar en ’n aantal streng maatreëls aangekondig: Geen drankverkope ná sesuur in die aand nie; geen byeenkoms met meer as 100 mense teenwoordig nie. Leerders is vroeër vir die Paasvakansie huis toe gestuur; kerke, moskees en sinagoges moes hul deure sluit; ook gimnasiums en teaters moes toemaak, terwyl sport- en kultuurbyeenkomste die een ná die ander afgestel is – onder meer twee van die grootste Afrikaanse kunstefeeste: die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn en die Suidoosterfees in Kaapstad.

“Was jou hande, was jou hande!” was (en is stééds) die noodkreet; en “Hou jou afstand van ander mense!” Sosiale “afstandsbeheer” is nou aan die orde van die dag: Geen drukkies of handdrukke meer nie; nou moes jy jou elmboog of ’n Japannese kopknik as groetgebaar begin inspan; en oral het spuitkannetjies met sanitasiemiddels hul opwagting gemaak.

Dit het ’n aanduiding gegee van die erns waarmee die regering die situasie hanteer, en die President is geprys vir die wyse waarop hy – soos ’n staatsman gedurende oorlogstye, het Pieter du Toit van News24 dit gestel – hom van sy taak gekwyt het met die drastiese besluitneming en toe hy die land toegespreek het.

......

“Maar nogtans en ten spyte van: hierdie SMS van ’n luisteraar wat oor die radio voorgelees word: ‘In Mitchells Plain, Lentegeur, there is no lockdown and the police is just doing nothing’.”

......

In elkeen van die ander 198 geaffekteerde lande, spesifiek in Italië en Amerika, was derduisende mense op daardie stadium reeds positief vir die koronavirus getoets en het duisende ook reeds wêreldwyd daaraan gesterf. “Worldwide, it took 14 weeks to reach 125 000 cases,” het Sunday Times-lesers verlede naweek in ’n kommentaarstuk herinner, “and just nine days for the next 125 000 people to be infected.”

Lees die getalle soos dit was met die skryf van hierdie artikel, stadig – sodat dit behoorlik kan insink: Altesame 537 331 is sover vir die virus getoets, waarvan 24 136 gesterf het; en van die 388 744 sogenaamde aktiewe gevalle word 369 020 se toestand as minder ernstig aangedui en 19 724 as ernstig of kritiek.

“We can take some comfort from the fact that our healthcare professionals have years of experience in combating HIV/Aids and tuberculosis, which will stand them in good stead,” het die Sunday Times ook geskryf.

Dit het die kollig onbedoeld geplaas op die feit dat Suid-Afrika een van die hoogste MIV- en TB-infeksiekoerse in die wêreld het (wat niks goeds voorspel vir ’n veldtog om ’n nuwe respiratoriese virus hok te slaan nie). Wat eersgenoemde betref, is vergelykings ook getref tussen die wyse waarop oudpres Thabo Mbeki gedurende sy ampstermyn die MIV-krisis gehanteer het – en wat sou lei tot tussen 300 000 en 400 000 sterftes – teenoor die leierskap wat Ramaphosa nou met die koronaramptoestand toon.

In Suid-Afrika, waar die koronagetal gisteraand die 900-merk oorgesteek het, was daar verligting dat geen sterftes tot met die inwerkingstelling van die inperkingsperiode om middernag aangekondig is nie.

Maar in die nuus vanoggend: “This morning, we wake South Africans up with sad news that we now have our first deaths resulting from COVID-19,” lui ’n mediaverklaring wat deur dr Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, uitgereik is.

Dit lig die land in dat twee persone aan die virus ontkom het, albei in die Wes-Kaap: die een in ’n private hospitaal en die ander een in ’n staatshospitaal. (Nie die gesondheidsfasiliteit waar jy behandel word of jou nasionaliteit of jou velkleur of jou ouderdom of jou geslag of inkomstevlak vrywaar jou teen korona-infeksie nie.) Die Minister se mediaverklaring het – onrusbarend – ook bekend gemaak dat die aantal plaaslike koronagevalle oornag die 1 000-merk bereik het.

Tot nou was talle van die land se burgers louwarm oor die erns van hierdie pandemie. Dit was byna, soos Inge Kuhne, senior joernalis van Rapport, gisteraand op die aktualiteitsprogram KN Verslag gesê het, asof mense vir die eerste koronasterfte wag. Miskien sou dít hulle die volle omvang van die siekte laat besef, want as die styging in getalle van Suid-Afrikaners wat positief vir COVID-19 toets, hulle nie laat kennis neem nie, wát sou dan?

En hier ís dit nou, soos aangekondig deur Mkhize, hy wat die regering se voorloper-kommunikeerder oor die virus is – dit is, naas Ramaphosa.

Sowel die Minister as die President hoop dat die polisie en die weermag se teenwoordigheid sal help om mense van die straat af te hou; sal help om die verspreiding van die virus na “honderdduisende” te verhoed, soos Ramaphosa dit gestel het. Ook het hy juis dié twee gewapende magte spesiaal toegespreek om hul verantwoordelik in hierdie tye te beklemtoon: “Dis nie nou tyd vir skop en donner nie; dis nie tyd vir skiet en donner nie,” het hy gesê. “Dis nou tyd om lewens te red.”

Wat egter bepaald ook nodig sou wees, was die samewerking van landsburgers – gehoorsaamheid in werklikheid – om binne die perke van die inperkingsmaatreëls op te tree.

Maar nogtans en ten spyte van: hierdie SMS van ’n luisteraar wat oor die radio voorgelees word: “In Mitchells Plain, Lentegeur, there is no lockdown and the police is just doing nothing.” Nóg sulke brokkies nuus versprei op sosiale media van mense wat hulle weinig aan die inperking steur, wat straataf loop, by bure gaan kuier, onwettige drankplekke besoek en kinders wat buite dwaal.

Die vorige dag reeds het televisiebeelde ook gewys hoedat honderde mense vir ure in toue by supermarkte staan om inkopies te doen voordat die winkels sluit en die inperking begin. Hulle het aan die TV-verslaggewer vertel dat hulle gister hulle maand se salaris ontvang het, maar dit was onduidelik of hulle bewus is daarvan dat hulle gedurende die inperkingsperiode wel steeds inkopies vir kos en medisyne mag doen.

Ander mense is duidelik net só gewoond aan die reëls oortree, hulle afvee aan die vereistes van wet en orde, dat hulle moeiteloos daarmee voortgaan.

Die koronavirus sal uiteindelik help om hierdie kleinskaalse wetteloosheid se borrel te laat bars. Of dit sal ons land soos nooit tevore nie by die afgrond bring as die verspreiding van die virus in ons gesig begin ontplof!

Oor die volgende 20 dae sal ons weet waar ons staan.

Hierdie artikel word vervolg ...

Buro: MvH
  • 0
Top