Opposisiepartye is bekommerd dat die minister van finansies, Tito Mboweni, die belastingbetalers se sakke weer gaan skud om die staat se boeke te laat klop wanneer hy Woensdag sy mediumtermynbegroting indien. Daar word ook gevrees dat nog geld op sukkelende staatsinstellings, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), vermors gaan word.
Die DA het ’n beroep op Mboweni gedoen om die land se skuld op ’n volhoubare vlak te kry en fiskale dissipline weer in te stel. Die DA sê wanneer Mboweni Woensdag die mediumtermynbegrotingsraamwerk voorlê, moet hy voorkom dat noodsaaklike diensleweringsfunksies deur skerp besnoeiing aan begrotings belemmer word.
Die DA se finansiële woordvoerder, Geordin Hill-Lewis, sê indien verdere geld op sukkelende staatsinstelling, soos die SAL, bestee word, is daar nie genoeg geld in die staatskas om noodsaaklike dienste te lewer nie. Hy sê daar moet ’n hersiening van staatsbesteding wees.
Volgens die DA het die ANC versuim om strukturele ekonomiese hervorming te implementeer en verkies hulle om eerder die status quo te behou.
🔻| The ANC has refused to implement economic structural reform, choosing instead to retain the status quo.
Today our DA finance team outlines our expectations for the upcoming medium-term budget policy statement by Tito Mboweni.
📹| Watch it live now: https://t.co/e0Gm6lUYZJ pic.twitter.com/YVYPcb2lkE
— Democratic Alliance (@Our_DA) October 26, 2020
Die VF Plus se hoofwoordvoerder van finansies, Wouter Wessels, sê gegewe die huidige ekonomiese krisis en die onsekerheid wat daarom ontstaan, sal ’n mediumtermynbegroting vir die volgende vyf jaar baie onrealisties wees.
Wessels sê in ’n mediaverklaring nuwe bestanddele is nodig vir ekonomiese groei, maar die regering sal waarskynlik klou aan ’n ou en mislukte resep in die mediumtermynbegroting.
Die VF Plus is bekommerd oor verhoogde belastings wat aanstaande jaar geïmplementeer kan word in ’n poging om staatsinkomste te verhoog. Die party sê in ’n verklaring dit sal die teenoorgestelde effek hê en sal eerder ’n demper op ekonomiese groei plaas.
“Teen die agtergrond van die resessie waarin die land verkeer en met ander onvoorspelbare faktore, soos ’n pandemie, is die poging om vir die volgende vyf jaar te begroot volgens die VF Plus grootliks sinneloos.”
Die VF Plus sê hulle sal nogtans wil sien dat Mboweni werklike strukturele hervormings aankondig, dat werklike planne rakende Eskom aangekondig word, dat maatreëls in plek gestel word om staatskuld en -besteding te verminder, dat beleidsekerheid aangespreek word en dat planne aangekondig word om persoonlike- en maatskappybelasting te verlig, aangesien besteebare inkomste geskep moet word om die ekonomie om te keer. Die privaatsektor moet, volgens die VF Plus, in staat gestel word om te belê in die ekonomie en werk te skep.
“Beleidsekerheid is belangrik om beleggingsekerheid te skep vir werkskepping en ekonomiese groei, en die staat se salarisrekening moet nou daadwerklik aangespreek word. Die regering maak jaar na jaar beloftes oor ’n verminderde salarisrekening van die staat, maar dit realiseer bloot nie.”
Wessels sê die VF Plus sal veral wil sien dat geen verdere geld gegee word aan mislukte staatsondernemings soos die SAL nie, maar die party voorsien dat die hoop op wesenlike veranderings weereens gaan beskaam en dat die minister soos gewoonlik ou planne gaan opdis sonder enige hoop op ekonomiese herstel.
“Die ANC-regering kan nie toelaat dat hy langer gyselaar gehou word deur sy alliansievennote nie, in besonder die vakbonde wat weier dat daar aan die staat se salarisrekening gesny word. Die ekonomie het nou ’n punt bereik waar die regering feitlik nie meer ’n keuse sal hê as om hier te besnoei nie,” het Wessels gesê.