Minder as helfte van Afrika-leiers na Rusland vir beraad

  • 0

Slegs 17 van Afrika se staatshoofde woon vanjaar die Rusland-Afrika-beraad by wat Donderdag in St Petersburg begin het.

Dit is baie minder as by die 2019-konferensie, wat in Oktober 2019 in Sotsji, Rusland, plaasgevind het toe meer as 40 staatshoofde en regeringsleiers uit Afrika die byeenkoms bygewoon het.

Die beraad is ’n platform waar Russiese leiers en leiers van Afrika-lande bymekaar kom om gemeenskaplike sake te bespreek en saam te werk oor sake van gemeenskaplike belang.

Volgens internasionale mediaberigte blameer Rusland “Westerse inmenging” daarvoor dat meer as die helfte minder staatshoofde vanjaar se beraad bywoon.

Vanjaar se beraad, wat tot vandag (Vrydag) duur, vind plaas teen die agtergrond van Rusland se inval in Oekraïne. Altesaam 49 Afrika-afvaardigings, maar slegs 17 staatshoofde, sal aan die tweedaagse beraad en ekonomiese forum deelneem.

President Cyril Ramaphosa is een van die 17 staatshoofde uit Afrika wat wel die beraad bywoon. Hy het Woensdag in Rusland aangekom.

Die Amerikaanse ambassadeur by Navo, Julianne Smith,  beskou die afwesigheid van soveel lande se staatshoofde as ’n teken van ongemak met Rusland se oorlog in Oekraïne.

Die webwerf Africa News berig dat Smith sê sommige leiers in Afrika voel verplig om nie die beraad by te woon nie, om hulle kommer oor Rusland se onuitgelokte aggressie in Oekraïne te kenne te gee.

Naas die oorlog in Oekraïne sal voedselsekerheid hoog op die agenda van die beraad wees, veral nadat Rusland verlede week besluit het om aan ’n internasionale graanooreenkoms te onttrek. Dit het baie lande in Afrika ontsenu gelaat.

Een van die groot vrae oor die beraad is of enige van die Afrika-leiers Poetin sal kan oorreed om sy besluit van verlede week, om uit die Swart See-graaninisiatief te onttrek, terug te trek.

Een van die belangrikste kwessies wat na verwagting bespreek gaan word naas voedselsekerheid, is die Wagner-groep se toekoms op die vasteland.

Met die voortslepende oorlog in Oekraïne is president Wladimir Poetin onder druk om sy land se toewyding aan die Afrika-kontinent te wys, wat toenemend selfgeldend op die wêreldtoneel is.

Moskou soek ook meer bondgenote uit die streek.

By die beraad kan daar ook hernude pogings deur Afrika-leiers wees om vrede in Oekraïne te bewerkstellig.

Die beraad het onder meer ten doel om ekonomiese, politieke en kulturele bande tussen Rusland en Afrika te versterk. Dit fokus veral op temas soos handel, beleggings, ekonomiese samewerking, energie, mynbou, landbou, kulturele ooreenkomste, vrede, veiligheid en internasionale sake. Die doel is om gesamentlike projekte te bevorder en die samehorigheid tussen Rusland en die Afrika-lande te versterk.

Die beraad volg kort nadat Ramaphosa en ’n handjievol ander Afrika-leiers onlangs president Wolodimir Zelenski in Oekraïne en Poetin in Rusland ontmoet het op die sogenaamde Afrika-vredesending.

Die Suid-Afrikaanse publikasie Daily Maverick berig dat sy akkreditasie om die beraad in St Petersburg te dek, kort voor sy spesialisverslaggewer, Peter Fabricius, se vertrek sonder verduideliking deur Rusland herroep is.

Dit was nadat Fabricius vroeër akkreditasie gekry het om vir die beraad na Rusland te reis. Hy is op Dinsdag 18 Julie skriftelik ingelig dat hy akkreditasie vir die geleentheid ontvang het.

Fabricius is egter op Maandag 24 Julie ingelig dat die beraad se reëlingskomitee sy akkreditasie vir die beraad gekanselleer het. Toe Daily Maverick die reëlingskomitee versoek om die besluit te heroorweeg, is daar gesê dat “hersiening nie moontlik is nie”.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top