Daar is moontlik ’n lig aan die einde van die donker tonnel vir vuisvoos Suid-Afrikaners wat die afgelope tyd onder stygende brandstofpryse en aanhoudende beurtkrag deurgeloop het.
Midmaandse data van die Sentrale Energiefonds (SEF) dui daarop dat daar moontlike petrol- en dieselprysverligting in die vooruitsig kan wees vir volgende maand. Dit is weens die laer oliepryse, wat tans die grootste voordeel vir energieverbruikers inhou.
Ander goeie nuus op die energiefront is dat Kusile se Eenheid 1 hierdie week vir die eerste keer in byna ’n jaar weer begin krag opwek het. Die eenheid voeg ’n bykomende 800 MW tot die netwerk toe. Kusile se Eenheid 3 is op 30 September weer in diens geneem en het 800 MW gelewer. Die twee eenhede voeg dus saam 1 600 MW terug in die netwerk.
Vrese dat die oorlog in die Midde-Ooste die prys van brandstof verder die hoogte kan laat inskiet, lyk voorlopig ongegrond. Die SEF se data dui op ’n daling in petrolpryse van sowat R1,90 per liter, terwyl diesel se prys moontlik met tot 75 sent per liter kan daal.
"Ons verwelkom die herindiensstelling van Kusile Eenheid 1, vroeër as verwag. Die terugkeer van Eenheid 1 sal die stabiliteit van Eskom se opwekkingsprestasie verder versterk," het die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, gesê. Hy het aangedui dat vier eenhede wat by die Kusile-kragstasie buite werking was, teen die einde van die jaar weer in diens sal wees.
We welcome the return to service of Kusile Unit 1, ahead of schedule. The return of unit 1 continues to strengthen the stability of generation performance and adds 800MW into the grid.
— Dr Kgosientsho Ramokgopa (@Kgosientsho_R) October 16, 2023
Eenheid 1, 3 en 4 is reeds weer gekoppel. Volgens die minister se voorspellings sal Eenheid 5 ook weer aan die einde van vanjaar in diens wees.
Dit beteken dat die kragsentrale se opwekkingskapasiteit aansienlik sal verbeter, wat hopelik veel laer beurtkragfases tot gevolg sal hê.
BREAKING NEWS | @Eskom_SA - Kusile Power Station Unit 1 is now on load
"We welcome the return to service of Kusile Unit 1, ahead of schedule. The return of unit 1 continues to strengthen the stability of generation performance & adds 800MW into the grid." Dr @Kgosientsho_R pic.twitter.com/tLLmNVfczT
— South African Government (@GovernmentZA) October 16, 2023
Baie Suid-Afrikaners is egter steeds baie skepties oor Eskom se optimisme dat die einde van beurtkrag dalk in sig is. Sommige het op die sosiale platform X teen Ramokgopa uitgevaar. Van hulle het gesê daar moes in die eerste plek nooit beurtkrag gewees het nie en dat die gemors voor die politici wat aan bewind is, se deur gelê moet word.
Voetsek, there should be no loadshedding in the first place,your mess with your politicians now we must congratulate you for the mess enayenza ningazosdakelwa nina and you getting paid handsomely for it so again voetsek
— Sbu (@mlangenimabura) October 17, 2023
Wat brandsrofpryse betref, kan motoriste en ander brandstofgebruikers na die eerste verlagings in drie tot vier maande uitsien indien die huidige oorverhalings tot die einde van die maand voortduur.
Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het tydens hulle afgelope vergadering ook hulle diep kommer uitgespreek oor die feit dat gewone Suid-Afrikaners ernstig gebuk moet gaan onder die hoë impak van al hoe duurder voedselpryse en die voortdurende styging in die brandstofprys.
Hulle wys daarop dat die mededingingskommissie onlangs bevind het dat plaaslike kleinhandelaars nie kosteverminderings wat deur dalende produsentepryse verkry is, aan verbruikers deurgegee het nie.
Die ANC het die regering versoek om die kleinhandelsektor te betrek om saam te werk om te verseker dat Suid-Afrikaners en veral die werkersklas nie uitgebuit word nie.
The NEC expressed deep concern that ordinary South Africans continue to feel the impact of high food prices and the continuing rise in the fuel price.⁰⁰Most recently, the Competition Commission has found that local retailers have not been passing on cost reductions obtained… https://t.co/eepHeGYFHD
— Cyril Ramaphosa ???????? (@CyrilRamaphosa) October 16, 2023
Motoriste moet egter nie te gou bly word nie. Daar is nog meer as twee weke oor voordat die nuwe brandstofpryse vasgestel word. Brandstofpryse word eers op 1 November aangepas.
Suid-Afrikaanse brandstofpryse word grootliks deur internasionale oliekoste en die randwisselkoers bepaal, aangesien olie in dollars geprys word. Oliepryse was in die afgelope tyd uiters wisselvallig, omdat gevegte tussen Israel en Hamas-militante in Gaza steeds voortduur.
Indien die oorlog in die olieryke Midde-Ooste sou uitkring, bestaan die risiko steeds dat dit ’n wesenlike invloed op olievoorrade kan hê, wat pryse kan opstoot. Aan die ander kant kan ’n oorlog volgens sommige waarnemers ook die wêreldekonomie in ’n resessie dompel, wat die vraag na brandstof kan laat daal.
Dit bly dus in vele opsigte steeds ’n raaisel of Suid-Afrikaners ’n goedkoper of duurder Kersfees te wagte kan wees.