Minder praatjies en meer optrede is nodig tydens vanjaar se 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Ware aktivisme gaan oor aksie, sê Kaylynn Palm van Action Society.
Hierdie wêreldwye 16 dae van aktivisme is ’n belangrike internasionale oomblik om te vra vir ’n einde aan geweld teen vroue en kinders. Dit strek vanaf 25 November (die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Geweld teen Vroue) tot 10 Desember, Menseregtedag.
Parlementslede het verlede week in ’n debat oor hierdie 16 dae van aktivisme hul onderskeie partye se perspektief gestel oor wat gedoen behoort te word om hierdie plaag wat Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie bedreig, uit te roei.
Action Society is ’n burgerregte-organisasie wat die regering aanspreeklik hou vir die versuim om Suid-Afrikaanse burgers te beskerm.
In verlede week se parlementêre debat het die adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, John Jeffery, gesê die gevolge van geweld teen vroue en kinders is ’n pynlike aanklag teen die Suid-Afrikaanse samelewing. “Die hoë vlakke van geslags- en seksuele geweld skeur ons gemeenskappe uitmekaar. Ongelukkig word hulle dikwels gepleeg deur mense wat aan die slagoffer bekend is, ’n onderwyser, ’n vriend of ’n buurman.”
Die oplossing, volgens die minister, is om met mans en seuns te praat om hierdie dominante patriargale praktyke en perspektiewe te ontwortel. Hy was optimisties dat die nuwe wetgewing wat onlangs aangeneem is, die argitektoniese raamwerk van reg en geregtigheid wat met hierdie soort geweld handel, sal verander. Hy het onder meer die Wetsontwerp op die Nasionale Raad teen Geslagsgeweld en Vrouemoord verwelkom wat onlangs deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is. Die raad is getaak om voorkomende maatreëls en ’n strategiese raamwerk te skep om ’n holistiese benadering vir die probleem te volg.
Volgens Action Society sal daar gedurende vanjaar se veldtog 48 kinders en 160 vroue vermoor word; 64 kinders en 272 vroue sal ternouernood die dood vryspring weens poging tot moord en 320 kinders en 2 560 vroue sal aangerand word met die doel om hulle ernstig te beseer.
[THREAD]#16DaysofActivism: Action society continues court oversight and support for victims of sexual violence and the families of murder victims.https://t.co/TZ1D7yyIUE
— Action Society (@ActionSocietySA) December 4, 2023
Action Society het die families van twee moordslagoffers en ’n oorlewende van verkragting verlede week ondersteun toe die man wat daarvan beskuldig word dat hy Candice Robertson verwurg het, die twee verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle Alfredo April se keel afgesny het, en die sogenaamde Fotograafverkragter in die hof verskyn het.
Ettiene van der Merwe, die man wat van Candice Robertson se moord aangekla word, het verlede week in die Kaapstadse landdroshof verskyn en is op borgtog met streng voorwaardes vrygelaat. Hy sal op 19 Desember in die Kaapstadse streekhof verskyn.
Candice is op 30 April 2022 dood aangetref in die kamer wat die egpaar in Groenpunt, Kaapstad, gedeel het. Luidens berigte het Van der Merwe na bewering die eienaar van die gastehuis gebel om te rapporteer dat Robertson blykbaar selfmoord in die kamer gepleeg het. Toe owerhede en medici by die toneel aankom, was daar egter twyfel oor of sy selfmoord gepleeg het, wat tot Van der Merwe se inhegtenisneming gelei het. Borgtog van R6 000 is aan hom toegestaan
Die twee mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Alfredo April op 29 Junie 2023 vermoor het, het verlede week in die Malmesbury-landdroshof verskyn. April het die paar oorblywende sekondes van sy lewe gebruik om om hulp te skree terwyl hy sy mus gebruik het om die vloei van bloed uit sy nek te keer ná die wrede aanranding. Die saak is tot 19 Januarie vir ’n streekhofdatum uitgestel. Albei mans bly in aanhouding.
Alfredo April: Throat slit and left for dead
(28 November 2023: Malmesbury Magistrates Court)
The case was postponed to 19 January for a regional court date. Fortunately both men remain in custody. pic.twitter.com/CUG9xPL35r
— Action Society (@ActionSocietySA) December 4, 2023
Action Society was Maandag ook by die Paarl-streekhof vir die saak teen die “Fotograafverkragter”. Die saak is vlugtig van die hofrol geskrap weens ’n vermiste dossier. Die dossier is twee uur later gevind, en die saak is tot 11 Desember 2023 uitgestel. Die beskuldigde bly in aanhouding in verband met nog ’n verkragtingsklag. Die fotograaf het na bewering sy beroep gebruik om die jong vrou wat ’n aspirantmodel was, te lok en te verkrag.