Die minibustaxibedryf in Suid-Afrika se belastingbydrae in die land is slegs ’n druppel in die staatskas se emmer, omdat die meeste eienaars van minibustaxi’s skynbaar geen belasting verklaar nie.
Dit blyk uit ’n antwoord op ’n vraag wat die DA se skaduminister van finansies, Geordin Hill-Lewis, in die parlement aan die minister van finansies, Tito Mboweni, gestel het. Mboweni het in antwoord op die vraag die omvang van die belastingontduiking bekendgemaak.
Terwyl die minibustaxibedryf aandring op regeringsubsidies, betaal die hele bedryf volgens die Minister altesaam jaarliks slegs R5 miljoen belasting.
A DA Parliamentary question has revealed that the taxi industry paid only R5 million in taxes.
In 2019, the industry generated R90 billion in revenue and continue to make calls for subsidies.
SARS must act against this and brief Parliament urgently. https://t.co/oJLQ33zCjV
— Democratic Alliance (@Our_DA) May 12, 2021
Die DA het ’n beroep gedoen op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) om op te tree teen belastingontduikers in die taxibedryf en toe te sien dat die keiser kry wat hom toekom en hierdie winsgewende bedryf ook hulle billike deel van belasting betaal.
Die DA sê in ’n verklaring noudat hulle bevestiging van die Minister gekry het van hierdie grootskaalse belastingontduiking deur die eienaars van minibustaxi’s, gaan hulle vra dat die inkomstediens die parlement dringend inlig wat hulle gaan doen om seker te maak dat hierdie belastingontduiking gestop word.
In 2019 het Mail & Guardian rapporteer dat die minibustaxibedryf se jaarlikse omset in die omgewing van R90 miljard per jaar is. Die DA sê in ’n verklaring dit beteken die oorgrote meerderheid taxi-operateurs en -eienaars van minibustaxi’s verklaar hoegenaamd geen korporatiewe belasting nie en ook geen loonbelasting vir hulle bestuurders of ander werknemers nie, wat natuurlik ’n misdaad ingevolge die land se belastingwette is en met tot twee jaar tronkstraf strafbaar is.
Volgens die DA is dit ook onbillik teenoor die wetsgehoorsame burgers wat hulle inkomste eerlik aan die staat verklaar en elke jaar getrou belasting betaal. Die party sê dit ondermyn die hele land se belastingmoraliteit. “Suid-Afrikaners kan met reg begin vra waarom hulle belasting moet betaal as ander daarmee kan wegkom om nie te betaal nie.”
Die Minister het in sy antwoord sekere proaktiewe stappe uiteengesit wat deur die inkomstediens beoog word om die probleem aan te spreek. Die DA meen egter die maatreëls wat beoog word, fokus slegs op opvoeding en vrywillige betaling en handel nie met die afdwing van betalings deur diegene wat doelbewus belasting ontduik nie.
Die party sê die probleem sal nie opgelos word, of die regering se geldkoffers gevul word, indien winsgewende industrieë eenvoudig enige belastingbetalings in totaliteit boikot nie. “Dit skep ’n gevaarlike presedent vir die toekoms. Ons doen ’n beroep op SARS om die parlement so gou as wat dit prakties moontlik is in te lig wat aan die saak gedoen gaan word.”
Intussen blyk dit dat die taxibedryf weer sterk herstel het sedert die inperkings die land se ekonomie ernstig geknou het. Dit is ook een van die min bedrywe wat gedurende inperking kon aanhou funksioneer, al was dit op kleiner skaal.
Die taxibelangegroep Transaction Capital sê in hulle jaarverslag van 2020 die gewildheid van minibustaxi’s het die afgelope vyf jaar verder toegeneem. Daar is ongeveer 15 miljoen pendelaars in die land wat elke dag van die diens gebruik maak. Dit is toe te skryf aan ’n al hoe groter wordende ontevredenheid onder die publiek met die land se busvervoerdiens en al swakker wordende spoorvervoer.
SA Taxi sê ten spyte van die bedryf se groeiende aantal gebruikers word dit al hoe duurder om ’n taxi in Suid-Afrika te besit. Die verslag toon dat die kleinhandelprys van minibusse sedert Oktober verlede jaar met 3,5% gestyg het, terwyl daar ’n verdere styging later vanjaar verwag word.
Die volledige verklaring van Transaction Capital oor die stand van sake in die taxibedryf kan hier gelees word.