Die skuld vir Suid-Afrikaanse kinders se onvermoë om met begrip te lees moet nie net voor die deur van die Departement van Basiese Onderwys gelê word nie, sê die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga. Sy het die afgelope naweek tydens ’n media-inligtingsessie gesê ’n leeskultuur moet reeds van kleins af in gesinsverband gekweek word.
Sy het ook die Covid-pandemie in ’n verklaring blameer vir die swak leesvermoë van leerders.
Motshekga het erken dat die departement ’n groot rol in die ontwikkeling van leerders speel, maar het ook gesinne aangemoedig om ’n leeskultuur by die huis te kweek.
Suid-Afrika het een van die swakste resultate opgelewer in die jongste Progress in International Reading Literacy Studie (PIRLS).
Die assessering wat met graad 4-leerlinge gedoen is, toon dat 81% van Suid-Afrikaanse nie met begrip kan lees nie.
Volgens Motshekga het ouers en versorgers ’n kritieke rol om te speel, aangesien hulle ’n kind se eerste, en belangrikste, onderwysers gedurende hul vroeë jare is.
“Terwyl die Departement van Basiese Onderwys ’n beduidende rol speel om vroeë geletterdheidsvaardighede te ondersteun en kinders te leer hoe om te lees, moet die hele ekosisteem betrek word.
"Skole speel ’n deurslaggewende rol in die verskaffing van leesmateriaal, veral vir gesinne wat uitsluitlik daarop staatmaak. Ek sien uit na ’n dieper ontleding van die PIRLS-data deur navorsers binne en buite die regering," het Motshekga gesê.
Motshekga sê leerverliese – of verliese in skoolure – as gevolg van Covid het die leesgeletterdheidsvlakke van leerders in Suid-Afrika ernstig beïnvloed.
Die minister het Sondag die media toegespreek ná die vrystelling verlede maand van die PIRLS-verslag, waarvolgens Suid-Afrikaanse leerders laaste gekom het in ’n leesvermoëstudie wat 50 lande ingesluit het.
Motshekga: As we observe #YouthMonth let's collaborate in equipping youth with skills necessary to secure a bright future for our country. We also have a responsibility to create employment opportunities particularly for the youth who are not in employment, education or training. pic.twitter.com/TDARUTscq5
— Dep. Basic Education (@DBE_SA) June 18, 2023
“Die omvang van ons afname met betrekking tot die pandemie kom nie as ’n verrassing nie. Suid-Afrika was een van die lande wat die impak op leeruitkomste gedurende die pandemie die meeste gepeil het en die resultate wat ons nou in PIRLS sien, stem ooreen met die vroeëre bevindings wat ons wel as die departement gesê het,” het sy gesê.
Die DA sê egter die Covid-pandemie is slegs verantwoordelik vir ’n fraksie van die kinders se leesprobleme en dis tyd dat die minister die opvoeding van kinders ernstig opneem.
Die DA-skaduminister van basiese onderwys, Bax Nodada, sê in ’n verklaring dit is ontstellend dat die minister en haar departement nie die dilemma van nege- en tienjariges besef wat nie kan verstaan wat die letters op die bladsy en die klanke wat hulle maak, beteken nie. “As jy nie verstaan wat jy lees nie, kan jy nie lees nie.”
Nodada sê Motshekga het ook deurgaans versuim om die feit aan te spreek dat 56% van graad 6-leerders nie eers graad 4-vlak se werk met begrip kan lees nie.
“Ten spyte van die DA se talle versoeke het die minister nie die nodige lees- of inhaalplanne verskaf nie. Slegs die Wes-Kaap het vir inhaal- en leesplanne begroot en dit ter tafel gelê, naamlik altesaam R1,2 miljard, met R111 miljoen vir lees, veral in Xhosa- en Afrikaanse skole.
Volgens die laaste verslag van die Nasionale Onderwysinfrastruktuurbestuurstelsel (NEIMS) het meer as 69% van Suid-Afrikaanse skole nie biblioteke nie, Van die 30% skole wat wel biblioteke het, is daar in slegs 17% van die biblioteke voorraad, wat die aantal biblioteke in wese tot ’n skamele 14% verlaag.
Die minister het ook aangedui dat leerders wat in hulle moedertaal onderrig ontvang het, beter resultate behaal het as diegene wat in ’n tweede taal leer.
Die DA sê in hulle verklaring gegewe die feit dat dit weer eens demonstreer hoe belangrik moedertaalonderrig is, dit onbegryplik is dat die minister en haar departement aandring op die implementering van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela). Die wet poog onder andere om die betrokkenheid van ouers en gemeenskappe by hul kinders se opvoeding te verminder deur skoolbeheerliggame te ontmagtig om toelatings- en taalbeleide vir hul skole te maak, en kan gebruik word om moedertaalskole te teiken.