Minister in spervuur oor vlag- en Taalmonument

  • 0

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het Suid-Afrikaners die harnas in met sy planne om ’n vlagmonument teen ’n bedrag van R22 miljoen op te rig en om die Afrikaanse Taalmonument se naam te wil verander.

Die minister word daarvan beskuldig dat hy die belastingbetalers se geld wil mors met die reuse vlagpaal en besig is met ’n aanslag teen die taal- en kultuurregte van die Afrikaanssprekende gemeenskap met planne om “Afrikaans” te probeer verwyder uit die Afrikaanse Taalmonument en -museum in die Paarl.

Die reuse vlagpaal wat die minister se departement by Freedom Park wil oprig word uit talle oorde skerp gekritiseer terwyl hy volgens sy kritici min doen om kunstenaars en sportlui te help.

Die EFF het ’n beroep op Mthethwa gedoen om die geld wat hy beplan het om op sy “skandelike vlagprojek” te gebruik eerder aan te wend om plaaslike sport te ontwikkel deur in vrouesokker te belê. Die EFF beskuldig die minister daarvan dat hy die land se kollektiewe intelligensie beledig met sy planne vir die vlagpaal.

Mthethwa het sy departement se besluit om ’n vlagmonument van R22 miljoen te bou, die afgelope week in die parlement verdedig. Verskeie parlementslede was egter min beïndruk met sy verduidelikings waarom daar miljoene rand spandeer moet word aan ’n vlagpaal terwyl die land se kunstenaars moet sukkel om die mas op te kom.

Mthethwa het gesê Suid-Afrika herdenk sy demokrasie en die monumentvlag sal mense glo leer oor die land se demokrasie en hoe dit bereik is.

“Dit dien ook as baken van ’n breuk met die koloniale en apartheidsverlede. Dit toon demokratiese waardes van nierassigheid en nie-seksisme. Dit opper ons fundamentele beginsels van ons demokrasie soos verskans in ons grondwet,” het hy gesê.

Hy sê die monument moet ’n herinnering wees van dit waarvoor ons voorvaders gestaan, baklei en gesterf het.

In ’n onderhoud met JJ Tabane op eNCA oor die voordele van die beoogde vlagpaal het die minister onder andere gesê die 100 meter vlagpaal wat hy ten bedrae van R22 miljoen wil oprig sal die staalnywerheid bevoordeel, want dit gaan baie staal gebruik asook die hyskraanbedyrf, want hulle sal met die bouwerk moet help en dat dit snags ook verlig sal word, sodat dit dag en nag kan onderrig (educate).

Op 19 Mei het die minister se kantoor getwiet dat hulle die vlagpaal sal hersien.

Wat die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl betref, is die minister volgens die DA reeds besig met ’n proses om die “Afrikaans” te probeer verwyder uit die Afrikaanse Taalmonument en -museum in die Paarl se naam.

Mthethwa het glo onlangs op ’n openbare vergadering onomwonde gesê dat dit “ononderhandelbaar” is dat die monument se naam verander moet word omdat dit “uitsluitend” sou wees.

Die DA sê in ’n verklaring as die ANC enige iets geweet het oor Afrikaans en die Taalmonument, sou hulle verstaan het dat dit juis ’n simboliese viering is van die uiteenlopende invloede vanuit Afrika en dwarsoor die wêreld wat gelei het tot die vorming van hierdie unieke taal.

Na minister Blade Nzimande se poging om Afrikaans as ’n uitheemse taal  te klassifiseer, is hierdie jongste stap deur die ANC-regering volgens die DA-parlementslid, Leon Schreiber, ’n verdere verskerping van die aanslag teen taaldiversiteit in die algemeen, en spesifiek teen die plek van Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika.

Schreiber sê in ’n verklaring die implikasie is dat, onder die ANC, daar géén ruimte mag bestaan vir die land se uiteenlopende taal- en kultuurgemeenskappe om hul erfenis te vier nie. “Die ANC sal duidelik nie rus totdat diversiteit op alle gebiede van die samelewing vervang is met ANC-beheerde sentralisering nie”.

Hy sê die DA moedig alle Suid-Afrikaners aan wat die land se ryke en diverse taalerfenis koester om protes aan te teken teen die ANC se pogings om Afrikaans selfs uit die Afrikaanse Taalmonument te verwyder en sal binnekort verdere stappe in hierdie verband aankondig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top