Minister pleit vir meer moedertaalonderrig

  • 0

Een van die grootste redes waarom die meeste skoolkinders in ons land sulke swak leesbegripsvaardighede het, is dat hulle meestal in Engels, vir hulle ’n “vreemde taal”, en nie in hul moedertaal nie, onderrig word.

Dié ongewone erkenning is deur die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, gemaak tydens ’n parlementêre vraag-en-antwoord-sessie in die parlement.

Motshekga sê haar departement beplan groot veranderinge in taalonderrig in Suid-Afrikaanse skole om die probleem aan te spreek. Sy sê haar departement sal voortgegaan met hul planne om alle bestaande moedertale by die land se skole in te sluit.

Sy het gesê dat die regering reeds suksesvolle moedertaalloodsprojekte in die Oos-Kaap gehou het en dit wil uitbrei na skole in ander provinsies.

As deel van die loodsprojek gebruik 2 015 skole reeds Xhosa en Sesotho as die taal van leer en onderrig (TLO) buite die grondslagfase. Leerders in hierdie skole word in vakke soos wiskunde, natuurwetenskap en tegnologie in hul huistale, Xhosa en Sesotho, onderrig. “Die kern van die saak is dat ons moedertaalonderrig in Suid-Afrika moet aanneem,” het sy gesê.

“Onderwysers is die anker van die onderrigstelsel,” sê Motshekga.

Sy het egter erken dat daar probleme is met die oorskakeling na ’n suiwer moedertaalgebaseerde stelsel. Volgens haar sal dit waarskynlik onmoontlik wees  om ’n klas in suiwer Sotho of Xhosa in Gauteng te hê soos wat daar soortgelyke klasse in die Oos-Kaap is.

Sy sê onderwysers gebruik verskillende tale in klasse om kinders te help om te leer en hul punt oor te dra. Wanneer dit egter kom by assesserings – wat tipies in Engels gedoen word – word hulle weer gedwing om te worstel met ’n taal wat hulle nie verstaan ​​het terwyl hulle geleer het nie.

“Hulle word nie meer getoets aan hul kognitiewe ontwikkeling of begrip (of die werk nie). Jy toets nou hul taalvermoëns, wat ’n probleem is.”

Die regering het reeds met die proses begin om dit te verander. Die volgende stap is om hulle te assesseer in die taal waarin hulle geleer word – sodat ons prestasie kan assesseer en nie taalvaardigheid nie, het die minister gesê.

Sy het bygevoeg dat die regering tegnologie en ander stelsels sal moet gebruik om ingewikkelde wetenskaplike en wiskundige konsepte effektief te vertaal in tale wat nie noodwendig dieselfde terminologie het nie.

Opvoedkundiges pleit al jare lank vir die terugkeer na moedertaalonderrig. In ’n artikel wat reeds in 2016 op LitNet verskyn het, sê Christo Viljoen daar is internasionaal (behalwe in Suid-Afrika) ’n toenemende bewuswording van die pedagogiese waarde van moedertaalonderrig, en ’n stadige terugkeer daarna.

Hy sê Suid-Afrika het na 1994 ’n grootskaalse wegbeweeg van moedertaalonderrig ervaar vanweë vele sosiale en politieke oorwegings, maar veral vanweë ’n wanpersepsie dat onderrig deur middel van Engels vir Engels-tweedetaalsprekers beduidende voordele sou inhou. Dit het gepaard gegaan met in ’n sterk toename in die getal eerstegeslag-Engels-”huistaalsprekers”.

Verskeie studies toon volgens Viljoen onteenseglik dat twee dekades van hierdie benadering misluk het, veral ten opsigte van onderrig in wiskunde en die natuurwetenskappe – noodsaaklike vakke vir die welvaartskeppende beroepe.

Terwyl die wêreld verlede maand Internasionale Moedertaaldag gevier het, het bitter min Suid-Afrikaners die voorreg om te kies in watter een van die  land se 11 amptelike tale hulle onderrig wil ontvang, ten spyte daarvan dat al 11 amptelike tale gelyke status in die Grondwet het.

Volgens die  Verenigde Nasies (VN) is dit is belangrik om kulture en tale te bewaar om respek te bevorder.

Moedertaalonderrig word deur Unesco (die VN se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) beskryf as “opvoeding wat ’n persoon se moedertaal as onderrigmedium gebruik”. Dit is die taal wat mense in hul kinderjare aangeleer het en wat hulle natuurlike manier van dink en kommunikeer geword het.

Die ATKV sê op hulle webwerf die onus rus egter nie net op die onderwysdepartement nie, maar op elke Afrikaanssprekende ouer om die Afrikaanse onderwys in stand te hou. Deur hul kinders na Afrikaanse skole te stuur, is ouers nie net besig om aan Afrikaans as akademiese taal ’n guns te bewys nie, maar ook aan hul kinders. 

Vir meer inligting oor die ATKV se moedertaalonderrigprojekte kliek hier of kontak  die ATKV by atkv@atkv.org.za of 011 919 9000. 

Die afgelope week se volledige vraag-en-antwoord-sessie in die parlement waar moedertaalonderrig ter sprake gekom het, kan hier gesien word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top