Minister privaat vervolg vir dieremishandeling

  • 0

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) gaan die minister van verdediging en voormalige speaker van die parlement, Thandi Modise, nou privaat laat vervolg nadat sy verlede jaar onskuldig bevind is op verskeie aanklagte van dieremishandeling.

Die NDBV sê in ’n verklaring dit maak ’n bespotting van die regstelsel dat geregtigheid vir die lyding van honderde diere sedert 2014 voortdurend vertraag is.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid behartig die privaat vervolging van Modise namens die NDBV. Dit sal volgende jaar op 10 Maart in die Hooggeregshof in Mmabatho aangehoor word. Dit volg nadat landdros Ben Mtebele haar op 30 April 2021 onskuldig bevind het.

’n Woordvoerder van die NDBV, Marcelle Meredith, sê wanneer hulle volgende jaar na die hof terugkeer vir hierdie saak, sal dit byna nege jaar wees sedert die NDBV se stryd om geregtigheid vir hierdie diere begin het.

Sy sê dit is tragies dat geregtigheid vir die lyding van honderde diere sedert 2014 voortdurend vertraag is. “Die appèl is ’n baie duidelike aanduiding van die NDBV se vasberadenheid om te verseker dat geregtigheid geskied vir die lyding van daardie diere, dit maak nie saak hoe lank dit neem nie.”

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het op 25 Oktober 2022 kragtens artikel 174 van die Strafproseswet hofstukke beteken vir die appèl teen die Potchefstroomse Streekhof se ontslag van Modise.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hierdie appèl benadruk die feit dat hulle sal aanhou om die stryd vir geregtigheid voort te sit en privaat vervolging sal inspan om te verseker dat almal gelyk is voor die reg.

“Daar is volgens ons ’n goeie saak daargestel en Modise behoort die geleentheid te kry om haar kant van die saak te stel,” het hy gesê.

Die privaatvervolgingseenheid en die NDBV voer in hul stukke aan dat die landdros fouteer het in sy bevinding deurdat hy getuienis oorweeg het wat nie deel was van die hofrekord nie en ook nie behoorlik die relevante getuienis wat voor die hof geplaas is, in aanmerking geneem het nie. Dit sluit in dat die Streekhof nie die opinies van deskundige getuies in ag geneem het nie en terselfdertyd te veel waarde geheg het aan die opinie van ’n lekegetuie oor die hoeveelheid voer wat vir die diere beskikbaar was.

Die organisasies voer verder in hul stukke aan dat landdros Mtebele fouteer het deur te bevind dat die bestuur van die plaas toevertrou was aan die “werknemers” van Modise terwyl sy volgens die hof in Kaapstad was. Hierdie bevinding was nie gebaseer op getuienis wat deur die vervolging gelei is nie en dit word ook deur die beskuldigde ontken dat hierdie persone ooit in haar diens was.

Daar is glo ook geen bewyse voor die hof geplaas dat Modise wel vir hierdie tydperk in Kaapstad was nie. Verder het die Streekhof ook nie oorweging geskenk aan die feit dat Modise se regspan geen pleitverduideliking verskaf het nie en haar weergawe van gebeure is ook nooit aan die getuies voorgehou nie.

“Die hof het nie bloot vir Modise ontslaan nie, maar ook die sogenaamde plaaswerkers as sondebokke geïdentifiseer, al dui die getuienis daarop dat hulle geen manier gehad het om die diere te voer nie. Ons lei hieruit af dat die hof wel aanvaar dat die diere verwaarloos was en gevrek het as gevolg van ’n tekort aan voer en water. Die hof het staatgemaak op die redelike afwesigheid van die beskuldigde, maar geen getuienis is ooit gelei om dit te bewys nie” het Leask gesê.

Indien die appèl in die Hooggeregshof slaag, sal die saak terugverwys word na die Streekhof, waar Modise se regspan dan haar saak ter verdediging voor landdros Mtebele sal moet stel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top