Minister se seksglips maak opslae

  • 0

Malusi Gigaba
Foto: YouTube

Dit gons behoorlik op sosiale media oor wie verantwoordelik was vir die verspreiding van ’n seksvideo wat die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, rooi van skaamte het.

Die video het Gigaba, wat self ’n ywerige deelnemer op Twitter is, in ’n yslike verleentheid gedompel toe sy seksfliek uitgelek het. Die video waarop hy skynbaar alleen verskyn en wat op sy selfoon was, het wye en uiteenlopende reaksies onder die publiek uitgelok.

Sommige kommentators meen hy moet bedank, ander dryf goedig en tong in die kies die spot daarmee en party bid vir hom.

Daar was selfs diegene wat grappenderwys teleurgesteld was omdat die video nie voldoen aan die verwagtings wat mens van ’n seksvideo verwag het nie.

“Ek het die Gigaba-relletjie so met een oog dopgehou. Suid-Afrikaners se morele kompas is so gef*k dat ons nie eers meer ’n behoorlike seksvideo-skandaal kan afpull nie. Ek het vroegoggend half aangeneem Malusi is vasgelê gesig eerste in 'n berg kokaïen omring deur ’n koortjie fuiwende skamel (indien enigsins) geklede nagklubdanseresse wat swaardgevegte namaak met lang slap dildo's. Turns out dit was net 'n selfie,” skryf iemand op Facebook, terwyl ’n ander persoon sê die feit dat Malusi Gigaba enigsins 'n seksvideo het, is die enigste ding van hom waarvan hy tot dusver hou.

Vir Gigaba en sy familie is die uitlek van die video egter ’n yslike verleentheid. Hy het hom tot Twitter gewend en die land en sy familie om verskoning gevra vir die verleentheid. “Ek wil van die geleentheid gebruik maak om by voorbaat in die openbaar verskoning te vra aan die res van my familie – veral aan my kinders, my ma en skoonouers – en die Suid-Afrikaanse publiek vir die pyn en verleentheid wat die verspreiding van hierdie privaat materiaal kan veroorsaak,” het Gigaba in ’n lang reeks tweets op Twitter geskryf.

Die video op sy werkfoon was glo vir sy vrou bedoel. Dit is na bewering deur ’n kuberkraker in die hande gekry wat hom daarmee wou afpers. Die minister het geweier om afpersgeld te betaal waarna sy afpersers wou hê dat hy vir hulle sekere “sakegeleenthede” in die Tesourie moes ontsluit wat glo miljoene rand vir hulle in die sak sou bring. In daardie stadium was hy die minister van finansies.

Toe die minister dit óók nie wou doen nie, het diegene wat die video bekom het begin om dit na sekere politici uit te lek.

Gigaba het reeds in Mei toe hy nog minister van finansies was ’n speurder aangestel om vas te stel wie die afpersers is omdat hy toe reeds vermoed het dit sal een of ander tyd uitlek. Die skuldiges kon nog nie vasgetrek word nie.

Sy woordvoerder, Vuyo Mkhize, het op Twitter gesê die video is deur ’n opposisieleier gelek aan die media wat dit van ’n parlementslid gekry het wat dit op sý beurt bekom het van die persoon wat die minister sonder sukses wou afpers daarmee.

Gigaba het op Twitter gesê hy hoop die land sal eendag konstruktief praat oor die vraag of dit eties is om die growwe inbreuk van iemand se privaatheid goed te praat en inligting daaroor te versprei, veral as dit duidelik nie in die openbare belang is nie.

Die afpersing asook die onwettige misbruik van sy elektroniese toerusting soos sy rekenaar of selfoon is reeds deur die minister aan al die betrokke wetstoepassingsagente gerapporteer wat die saak ondersoek.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top