Minister skets somber prentjie oor Suid-Afrika se finansies

  • 0

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het ’n somber prentjie geskets oor die land se finansiële posisie tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) die afgelope week in die parlement.

Ekonome is diep onrustig oor die staat se toenemende skuldlas, terwyl die Organisasie teen belastingmisbruik (Outa) meen dit is sagkens gestel om te sê die prentjie van die land se finansies is sorgwekkend somber.

Staatskuld beloop R5 000 miljard en beslaan nou 75% van die land se totale BBP. Die finansieringskoste hiervan is R354 miljard per jaar. Dit is meer as die jaarlikse begroting vir die polisie, die onderwys en gesondheid.

Opposisiepartye het die land se finansiële verknorsing vierkantig op die ANC-regering se skouers gepak.

Die Vryheidsfront Plus sê Woensdag se MTBR onderstreep die feit dat die ANC Suid-Afrika tot bankrotskap regeer het.

Die DA het gesê dit is nog ’n aanduiding dat die regering geen doeltreffende plan het om ekonomiese groei te versnel, meedoënlose kragonderbrekings op te los, skuld te stabiliseer en kwesbare Suid-Afrikaners te ondersteun of korrupsie te bekamp nie.

Outa sê in hulle verklaring die MTBR wys dat die regering meer bestee aan skulddienskoste (van R340,5 miljard tot R354,5 miljard wat vir 2023/24 geprojekteer word) as aan enige ander enkele saak. Die toename in die skulddienskoste in die aangepaste begroting (sowat R14 miljard) is meer as die individuele toekennings vir 27 van die 41 items in die begroting.

Belangrike kwessies soos onderwys en gesondheid het aansienlike begrotingsbesnoeiings ervaar. Die Nasionale Vervolgingsgesag en die Spesiale Ondersoekeenheid se geldkrane is ook stywer toegedraai, terwyl dit eintlik meer befondsing verg om misdaad en korrupsie aan te pak om die land op lang termyn te red.

Outa sê hierdie MTBR beklemtoon hoe swak Suid-Afrika ​​vaar in die bestuur en instandhouding van die land se infrastruktuur, tesame met die gebrek aan aanspreeklikheid vir diegene wat die spoornetwerke en -stelsels by Transnet en Prasa vernietig.

Die regering wil hê ons moet bly wees oor die bykomende fondse wat toegewys is om reg te maak wat in die eerste plek nooit gebreek moes gewees het nie, sê Outa.

Die klein bietjie goeie nuus in die begroting is, volgens Outa, die uitbreiding van die toewysing vir maatskaplikenoodleniging wat nou as ’n permanente lynitem bygevoeg word, en verhoogde befondsing vir die SAID om verbeterde inkomste-invorderings uit onwettige handel en ander gebiede te bewerkstellig, tesame met bykomende fondse vir provinsiale regerings.

“Ons waardeer ook die verskerpte voorwaardes vir die Eskom-reddingsboei en dié wat toegeskryf word aan munisipale skuldafskrywings.” Outa sê in die verlede het dit egter net by praatjies gebly en het daar niks van gekom nie.

Die DA se skaduminister van finansies, Dion George, sê in ’n verklaring hierdie MTBR was ’n bevestiging dat die regering eenvoudig nie omgee vir die lot van sukkelende Suid-Afrikaanse huishoudings wat nie genoeg kos op hul tafels kan sit nie. Daar was geen sprake van die sogenaamde voedselsekerheidsaksieplan om verbruikers teen die las van die uiters hoë voedselpryse te beskerm nie.

Hy sê die minister kon baie maklik die nul-BTW-gegradeerde mandjie kos uitgebrei het om onmiddellike verligting vir Suid-Afrikaanse huishoudings te bring. Hy kon ook die belasting en heffings op brandstof verminder het, wat verdere verligting sou verskaf het.

Wouter Wessels van die Vryheidsfront Plus sê in sy verklaring net die stembus kan Suid-Afrika van totale ineenstorting red. Hy sê staatskuld is ’n wegholtrein, munisipaliteite en staatsondernemings se skuldlas raak onhoudbaar, en die staat se salarisrekening is totaal buite beheer weens die druk van vakbonde en ’n opgeblase staatsdiens.

“Tans is daar nie genoeg fondse om die land se infrastruktuur te herstel en te ontwikkel nie. Nogtans sal geen ekonomiese plan of ingryping enigiets aan hierdie sombere situasie verander nie. Solank as wat die ANC regeer, is dit onomkeerbaar,” het Wessels gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top