Minister sluk winde oor tolgeld

  • 0

Die minister van finansies, Tito Mboweni, wat daarop aandring dat alle padgebruikers tolgeld moet betaal en uitgevaar het teen die wanbetalers, betaal na bewering self nie ’n sent tolgeld nie vanweë sy ministeriële voordele.

Dit is die belastingbetalers wat moet opdok vir sy tolgeld, brandstof en verskeie ander voorregte waarvoor gewone padgebruikers moet betaal.

Dit blyk uit die reaksie op ’n navraag wat die Organisasie teen Belastingmisbruik (OUTA) gerig het na aanleiding van die minister se aandrang dat almal tolgeld moet betaal.

Mboweni was die afgelope weke in ’n venynige woordewisseling gewikkel met lede van sy eie party wat wil hê die e-tolstelsel moet geskrap word. Hy het onder meer op Twitter uitgevaar teen diegene wat nie e-tol betaal nie en getwiet dat alle gebruikers vir e-tol moet betaal ongeag wie hulle is.

Netwerk24 berig die minister tel waarskynlik nou sy woorde nadat dit aan die lig gekom het dat hy vanweë sy ministeriële voordele self nie e-tol betaal nie.

Mboweni en die Gautengse premier, Dawi Makhura, het die afgelope week in so ’n hewige bekgeveg op Twitter betrokke geraak dat selfs president Cyril Ramaphosa hulle voor stok moes kry en beveel om hulle openbare twis te staak.

Na die skrobbering het Mboweni die meeste van die twiets van sy twitter-profiel verwyder. In van sy twiets het hy kaalvuis onder Makhua ingeklim. Hy het hom gewaarsku dat die premier versigtig moet wees om nie ’n geveg met die Minister van Finansies aan te knoop nie. In ’n kwalik-bedekte dreigement het Mboweni aan Makhura gesê hy behoort te weet waar sy finansiële toekennings vandaan kom. “Ek sou versigtig wees as ek hy was,” het die minister getwiet en bygevoeg die gebruiker moet vir sy tolgeld betaal. Mboweni het ook hierdie twiet verwyder maar skermgrepe daarvan was toe reeds oral op sosiale media versprei.

Verskeie mense soos die vakbondleier Zwelinzima Vavi het hulle verkneukel aan die openbare twis tussen die senior ANC-leiers terwyl spotprenttekenaars soos Zapiro ook die spot gedryf het daarmee.

https://twitter.com/Zwelinzima1/status/1148888839949303808

Makhura het op sy beurt getwiet dat hy die hele e-tolkwessie na President Ramaphosa verwys het vir ’n finale beslissing. Mboweni kan maar twiet soos wat hy lus kry het Makhura teruggekap. “Hy is ’n minister en nie die president nie,” het Makhura getwiet met die hutsmerk #NoTurningBack aan die einde.

In ’n poging om die vure dood te slaan het President Ramaphosa die Minister van Vervoer, Fikile Mbalula, Mboweni en Makhura opdrag gegee om voorstelle vir ’n oplossing oor die e-tol kwessie aan die kabinet voor te lê voor die einde van Augustus.

Hy het die openbare uitval tussen Mboweni en Makhura as uiters ongelukkig bestempel en hulle in ’n verklaring gemaan om nie hulle vete op sosiale media voort te sit nie.

Ramaphosa het toegegee dat die e-tol-stelsel in Gauteng in sy huidige vorm “uitdagings” bied en die hoop uitgespreek dat daar ’n werkbare oplossing vir die probleem gevind sal word.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top