Minister van justisie by VBS-skandaal betrek

  • 0

Die DA, wat die ANC se grootste vennoot in die RNE is, eis dat die minister van justisie, Thembi Simelane, aan die parlement rekenskap moet gee oor bewerings dat sy by die VBS-plunderskandaal betrokke was.

Dit volg na ’n gesamentlike ondersoek deur Daily Maverick en News24 dat Simelane ’n lening van meer as ’n halfmiljoen rand ontvang het van ’n maatskappy wat na bewering onwettige beleggings van R349 miljoen deur die Polokwane Munisipaliteit by VBS Mutual Bank bemiddel het terwyl sy in 2016 burgemeester van die stad was.

Die DA sê in ’n verklaring hulle is diep bekommerd oor die ontstellende onthullings rondom Simelane. Dit het na bewering aan die lig gekom dat sy in 2016 ’n “lening” van R575 600 van Gundo Wealth Solutions ontvang het, ’n maatskappy wat direk gekoppel is aan die onwettige beleggings van munisipale fondse in die nou ontbinde VBS Bank tydens haar ampstermyn as die burgemeester van Polokwane.

ActionSA het op hulle beurt ’n dringende klag by die openbare beskermer teen  Simelane ingedien na aanleiding van die onthullings.

ActionSA sê indien die openbare beskermer genoeg bewyse van wangedrag vind, sal hulle aan president Cyril Ramaphosa skryf om te eis dat Simelane onmiddellik uit haar pos as minister van justisie verwyder word.

Die DA het ’n versoek by die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee van justisie ingedien dat die minister voor die komitee moet verskyn om op hierdie bewerings te antwoord.

Die DA se woordvoerder oor justisie en konstitusionele ontwikkeling, Glynnis Breytenbach, sê die minister moet ten minste voor die parlementêre komitee verskyn om te verduidelik watter maatreëls sy van plan is om in werking te stel om die skreiende botsing van belange tussen haar, as minister van justisie, en haar rol wat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sou kon beïnvloed, te bestuur.

Simelane het die finale verantwoordelikheid oor die NVG.

Die VBS-plunderskandaal het in 2018 op die lappe gekom en amptenare binne die bank, asook politici, insluitend persone wat nou senior leiers in die EFF en onlangs gevormde MKP is, is daarby betrek.

Breytenbach sê dit het weer eens op die private sektor en joernaliste se skouers geval om die volle omvang van die VBS-plundery te ontbloot.

“Die VBS-plundering het die arm, gemarginaliseerde en kwesbare slagoffers geraak wat hulle hele lewe se spaargeld belê het in die hoop om ’n beter lewe te bou, maar ongelukkig alles verloor het in die hande van korrupte en gierige politici. Hierdie slagoffers ly steeds sonder enige terugvoer terwyl geregtigheid nie geskied nie.”

Sy sê hierdie bewerings laat ernstige vrae ontstaan ​​oor die minister se integriteit en haar vermoë om die kritieke rol van die handhawing van geregtigheid in Suid-Afrika te vervul. “Ons eis dat die NVG voortgaan om sy mandaat uit te oefen sonder vrees, guns of vooroordeel, ten spyte van die bewerings wat na vore gekom het teen die persoon wat oor die liggaam toesig hou.”

ActionSA sê in hulle verklaring die vraag wat beantwoord moet word, is of Suid-Afrika se minister van justisie moontlik die ontvanger en begunstigde van onwettige VBS-kontant is, soos die beskikbare inligting na bewering aandui.

“Gevolglik is dit ’n saak van ernstige kommer dat minister Simelane, wat nou toesig hou oor die Departement van Justisie en wat ’n beduidende invloed oor die NVG het, die einste persoon is wat verantwoordelik is vir die instelling wat verantwoordelik is om diegene wat skuldig is aan korrupsie te vervolg.”

ActionSA glo dit is duidelike ’n geval van ooglopende botsing van belange en dat die integriteit van die regstelsel onder haar rentmeesterskap op die spel is. “Dit is eenvoudig onhoudbaar dat die einste persoon wat toevertrou is om te verseker dat geregtigheid in Suid-Afrika gehandhaaf word, self in die gedrang kan kom, wat op sy beurt ’n skadu werp oor die NVG se vermoë om sy mandaat onpartydig en sonder guns uit te voer.”

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top