Die minister van polisie, Bheki Cele, het oorlog verklaar teen die dwelmsmouse in die bendegeteisterde Westbury in Johannesburg. Dit volg nadat inwoners die afgelope week keelvol geword het vir die bendegeweld waarmee hulle daagliks gekonfronteer word. Dit is veral die polisie se trae optrede teen bendegeweld en dwelmhandel wat hulle frustreer.
Cele moes die afgelope week persoonlik ingryp nadat gemeenskapslede met grootskaalse protesoptrede begin het om die probleem in die kollig te plaas. Dit volg op die dood van ’n vrou wat verlede week in kruisvuur tussen twee strydende bendes doodgeskiet is. ’n Kind is in die voorval gewond.
Cele het ’n span van die polisie se Taktiese Reaksie-eenheid Donderdag aan die gemeenskap van Westbury bekendgestel. Die eenheid is deel van die polisie se uitgebreide plan om die vlaag dwelm- en bendeverwante geweld in die gebied te stuit. Cele het die inwoners verseker dat die reaksie-eenheid hulle sal beskerm.
Foto's: YouTube
Cele sê die reaksie-eenheid, ook bekend as die Amaberete, sal met skerppuntammunisie gewapen wees.
“Ons het die polisie nie rubberkoeëls gegee nie, maar die regte goed. Die dwelmbase kan nou uitkom. Ons is gereed vir hulle,” het die Minister gedreig.
Hy het die waarskuwing gerig toe hy inwoners van die gebied op die tweede agtereenvolgende dag toegespreek het.
Hy het aan die inwoners gesê daar is 143 wetstoepassers in die woonbuurt ontplooi om die vrede te herstel en stabiliteit te bring.
Duisende mense wat keelvol is vir die bendebedrywighede in hul woonbuurte beplan ook om ’n aantal bruin gemeenskappe in Gauteng vandag (Vrydag) tot stilstand te bring.
Die Shutdown-beweging het Donderdag vergader om die nodige reëlings te tref. Die beweging voer aan dat die regering bruin gemeenskappe uitsluit van ekonomiese geleenthede en nie bendegeweld hokslaan nie. Een van die organiseerders, Anthony Williams, het aan RSG gesê na verwagting sal inwoners van Ennerdale, Riverlea, Noordgesig en Westbury by hulle aansluit.
Williams het vroeër die week gesê grootskaalse optrede word beplan. Hy het gewaarsku dat mense in die Oos-Rand, Wes-Rand, Sentraal-Johannesburg en selfs Eersterus in Tswane hulle by die Shutdown-beweging wil aansluit in solidariteit met die mense van Westbury. Williams sê gesprekke is ook met verteenwoordigers van Reiger Park en Eden Park in Ekurhuleni gevoer.
“Ons het genoeg gehad van die blatante en duidelike onderdrukking in Suid-Afrika. Dit word doelbewus gedoen en dis geen toeval dat ons so in die koue gelaat word nie,” het hy gesê.
Die Shutdown-beweging sê hulle gaan niemand toelaat om in die gebiede in te gaan of dit te verlaat nie.
The Citizen berig kenners waarsku dat die groeiende frustrasie onder die bruin gemeenskappe ’n plofbare stadium bereik het en dat dit landwyd tot grootskaalse protes kan uitkring. Hulle sê die polisie moet daadwerklik optree om die bendebedrywighede en dwelmhandel hok te slaan.
Die politieke ontleder André Duvenhage het aan die koerant gesê die ANC vervreem homself toenemend van die bruin gemeenskap en dit dra by tot rassepolarisasie. Volgens Duvenhage kan dit die gemarginaliseerde gemeenskappe in die aanloop tot volgende jaar se algemene verkiesing tot kookpunt dryf.
Hy sê die huidige mobilisering van ontstoke gemeenskappe kan ’n sneeubaleffek hê, soos destyds in die Vrystaat toe daar soortgelyke protesoptrede was.
Dit is nie net die ANC wat onder skoot is nie. Die sosioloog Roger Southall het aan die media gesê selfs in die DA-beheerde Wes-Kaap is die politici, volgens hom, besig om hulself van die bruin gemeenskap te vervreem.
Buro: MvH