Suid-Afrika se minister van polisie, Bheki Cele, droom van ’n land sonder vuurwapens, maar gewone Suid-Afrikaners sê hulle droom van ’n land sonder misdaad.
Cele het vroeër die week op ’n nuuskonferensie in Johannesburg gesê daar is baie minder moorde in lande waar individue nie vuurwapens mag besit nie. Hy het onder andere lande soos Japan en Suid-Korea as voorbeelde genoem.
Foto: YouTube
Een van die kommentators op sosiale media het gesê hy droom weer van ’n dag dat ons nie narre as ministers het nie en die polisie hulle werk doen.
Cele se pleidooi vir ’n wapenlose land geskied teen die agtergrond van die groot aantal misdade in die land wat met gesteelde of onwettige wapens gepleeg word. Cele sê die meeste mense wat in Suid-Afrika vermoor word, word met gesteelde vuurwapens geskiet.
Bheki Cele: South Africans should not own firearms https://t.co/i5BM7L6UNk
— xolani mtoba (@xmtoba) January 15, 2020
Talle Suid-Afrikaners wat van hulle vuurwapens ontslae wil raak, maak tans gebruik van die amnestie-aanbod waartydens hulle ongelisensieerde wapens by die polisie kan ingee sonder om vervolg te word.
Meer as 2 000 vuurwapens en meer as 31 000 patrone is reeds sedert die begin van Desember by polisiekantore landwyd ingehandig as deel van die jongste amnestieveldtog. Cele sê die amnestie is ’n groot sukses en elke wapen wat ingelewer word, is een minder vuurwapen wat vir misdaad gebruik kan word.
Almal deel egter nie die minister sentimente nie. Elize de Villiers het op Netwerk24 se kommentaarblad geskryf dit is die regering wat verantwoordelik is vir die hoë misdaadsyfer. Sy sê as iemand wil moor, sal hy selfs ’n klip gebruik om dit te doen en het nie ’n vuurwapen nodig nie. “Jy kan nie Suid-Afrika vergelyk net Japan of Korea nie. Die leiers en burgers van daardie lande is gedissiplineerd en die wette in die land word gehandhaaf.”
Die polisie het ook skerp onder kritiek deurgeloop by die publiek en selfs in die parlement omdat baie van die wapens wat ingegee word, of deur die polisie gekonfiskeer word, nie behoorlik beveilig word nie. Daar word gevrees dat korrupsie en nalatigheid aan die polisie se kant eerder daartoe sal bydra dat baie van die wapens wat vrywillig ingegee word, in die verkeerde hande beland.
Cele sê egter die wapens wat ingegee word, sal op veilige plekke in elk van die nege provinsies bewaar word en nie by die polisiekantore nie. Hy het ook die versekering gegee dat die polisie die stelsel vir die veilige bewaring van vuurwapens verbeter het.
Intussen het die polisie en die Nasionale Jag-en-Sportskietvereniging (NHSA) Dinsdag ’n skikking oor die vuurwapenamnestie bereik in die Pretoriase Hooggeregshof. Dit volg na ’n dringende aansoek van die NHSA waarin op sekere probleme in die amnestieproses gewys is.
Die organisasie Gun Free SA sê in ’n verklaring hulle verwelkom die NHSA se besluit om die dringende aansoek terug te trek. Die uitvoerende direkteur van Gun Free SA, Adèle Kirsten, sê tydens die vorige amnestietydperke in 1994, 2005 en 2010 is meer as 120 000 vuurwapens en 1,8 miljoen patrone ingelewer.
Sy sê dit is ’n bewys dat amnestietydperke suksesvol is. Daar is verlede jaar meer as 9 600 vuurwapens gesteel of het verlore geraak waarvan 607 aan die polisie behoort.
Since 1 December 2019, more than 2,000 firearms have been surrendered and the number is growing each day, according to Police Minister Bheki Cele. #EndGunViolenceSA #FirearmAmnesty pic.twitter.com/2N3CcRiyNd
— Gun Free SA (@GunFreeSA) January 15, 2020
Die meeste wapens wat ingevolge die huidige amnestie-program ingehandig is was in Gauteng waar daar 527 vuurwapens ingehandig is gevolg deur die Wes-Kaap met 514 vuurwapens wat vrywillig ingehandig is. In die ander provinsies is die getalle KwaZulu-Natal (309), Limpopo (252) Oos-Kaap (189), Vrystaat (163), Noordwes (91) en Noord-Kaap (48)
Cele het ’n beroep gedoen op wapeneienaars om ten volle gebruik te maak van die amnestieperiode of met die volle mag van die wet te doen te kry wanneer dit in Mei 2020 verstryk.
Buro: MvH