Ministers gryp in na dekade se gesloer oor Sarah Baartman sentrum

  • 0

Die Sarah Baartman-sentrum van herinnering in die Oos-Kaap, wat byna 10 jaar gelede al voltooi moes gewees het, is nog nie eers halfpad klaar nie, dit terwyl daar reeds miljoene rand aan die projek bestee is.

Die onlangs aangestelde minister van openbare werke en infrastruktuur, Dean Macpherson, en Gayton McKenzie, die minister van sport, kuns en kultuur, wat ook onlangs in die RNE aangestel is, is nou keelvol vir die gesloer.

Konstruksie van die wêrelderfenisprojek het in Augustus 2014 begin. Die sentrum sou na verwagting teen Oktober 2016 operasioneel gewees het teen ’n koste van R164 miljoen. Die koste het intussen tot sowat R280 miljoen opgeskiet.

Die Sarah Baartman-sentrum word al byna 10 jaar lank geteister deur vertragings sedert ’n tender vir die konstruksie daarvan in April 2014 uitgereik is.

Daar is reeds miljoene rand aan die projek bestee, maar slegs 37% van die konstruksie is tot dusver voltooi.

Die regering het in 2019 onderneem dat die sentrum van herinnering in Hankey nog in dieselfde jaar voltooi sou word. Van die vorige minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se belofte om dit daardie jaar te voltooi het daar egter dadels van gekom.

Die sentrum word opgerig ter ere van Sarah Baartman, ’n Khoi-vrou wat in die 19de eeu in Europa uitgestal is. Sy was oorspronklik van die Gamtoosvallei naby Hankey.

Baartman is wreed in Europa uitgebuit deur as ’n fratsaantrekking uitgestal te word weens haar prominente boude. Ná haar dood is haar lyk vir meer as 100 jaar in ’n Parys-museum vertoon.

Macpherson het die afgelope week ’n gesamentlike verslag deur die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur oor die voltooiing van die sentrum verwerp.

Die verslag is Dinsdag aan die portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur oorhandig.

Macpherson sê in ’n verklaring hy sal binnekort met McKenzie vergader om ’n pad vorentoe te bepaal.

“In my gesprekke met minister McKenzie stem ons albei saam dat die vordering wat in die sentrum behaal is, heeltemal onvoldoende bly en dat ernstige stappe gedoen moet word om enige verdere vermorsing van belastingbetalersgeld te beperk.”

Hy sê nie net het albei departemente versuim om die onderskeie ministers in te lig oor die verslag wat aan die parlement voorgelê is nie, maar dit is verder eenvoudig onaanvaarbaar dat ten spyte van drie kontrakteurs wat oor ’n tydperk van 10 jaar by die projek betrokke was, bouwerk nog nie eers halfpad voltooi is nie, met verdere vertragings wat nog verwag word.

“Die lewe van Sarah Baartman bly ’n belangrike herinnering aan ons pynlike verlede, en daarom is dit noodsaaklik dat ons haar die respek en waardigheid gee wat sy verdien. Die werk wat tot dusver by die herinneringsentrum gedoen is, slaag egter nie daarin om haar nagedagtenis te eer nie en het eerder ’n probleem geword wat belastingbetalers steeds miljoene kos. Dit moet eenvoudig eindig,”  het Macpherson gesê.

Hy het beklemtoon dat ’n vergadering met McKenzie sal help om enige bekommernisse op te los terwyl ’n gesamentlike visie ontwikkel word van hoe die projek in die kortste moontlike tyd voltooi kan word en sodoende moontlik oplossings kan verskaf wat by ander gedenkprojekte regoor Suid-Afrika herhaal kan word. 

“Vir te lank het die Suid-Afrikaanse staat en die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur as implementeringsagente miljoene bestee aan gedenkprojekte, terwyl die projekte onvoltooid bly of in ’n toestand van verval beland. Hierdie era van hierdie vrugtelose uitgawes moet tot ’n einde kom, en ek weet dat beide ek en minister McKenzie daartoe verbind is om hierdie doelwit te bereik. Kom ons bou Suid-Afrika.”

Lubbe Construction (Edms) Bpk, wat die aanvanklike tender gekry het, is in Desember 2017 deur Transtruct Building and Civil Contractors vervang nadat verskeie betogings deur werkers en woedende inwoners die projek vertraag het.

Die konstruksiefase was veronderstel om sowat 1 000 werksgeleenthede vir beide geskoolde en halfgeskoolde werkers te skep, van wie die meeste van die Gamtoos-dorpe Hankey, Patensie, Loerie en Thornhill moes gewees het. Dit het na bewering ook nie gebeur nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top