Ministers spring beurtkrag vry, maar hospitale nie

  • 0

Suid-Afrikaners wat reeds meer as twee weke onophoudelik onder beurtkrag gebuk gaan, is woedend omdat hulle in die donker moet tas terwyl ministers se wonings in Pretoria beurtkrag vryspring.

Terwyl die res van die land Maandag moes hoor hulle moet hul gereedmaak vir ten minste nog 10 dae van intense beurtkrag, is daar geen sprake van beurtkrag in Bryntirion, Pretoria waar die President en die ministers se ampswonings is nie.

Selfs hospitale loop landswyd onder beurtkrag deur terwyl kabinetslede se ligte aanhou brand.

Die DA het Dinsdag in ’n verklaring gesê dit is skandalig dat die Bryntirion-landgoed, ’n klein woonbuurt in Pretoria waar die amptelike wonings van Ramaphosa se kabinet geleë is, vrygestel is van beurtkrag terwyl hospitale nie is nie.

Volgens die Nasionale Standaard Regulerende Beurtkrag (NRS 048-9:2019) is hospitale van die nasionale sleutelpunte wat gelys word onder instansies wat “geskeduleer is vir beurtkrag”. Hoewel hospitale volgens wet verplig word om rugsteunkragbronne te hê en sommige munisipaliteite, soos die Stad Kaapstad, hulle vrystel van beurtkrag, is die DA sterk van mening dat die NRS dit nie opsioneel moet maak vir hospitale om van beurtkrag vrygestel te word nie.

Die DA sê hulle gaan aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika skryf en vir ’n onmiddellike hersiening van die NRS-regulasies vra. “Hospitale moet dringend vrygestel word van beurtkrag terwyl die kabinet se Bryntirion-landgoed net soos almal op beurtkragskedules geplaas moet word.”

Die party se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, en die party se skaduminister van gesondheid, Michele Clarke, sê in ’n gesamentlike verklaring dit is moreel verkeerd dat die “argitekte van die voortdurende beurtkragkrisis” ononderbroke kragtoevoer het terwyl hospitale, wat dikwels in ’n wedloop teen tyd is om lewens te red, te kampe het met verlies aan krag en onbetroubare kragopwekkers.

Hulle sê met die jaar 2022 wat besig is om die ergste beurtkragjaar op rekord te word, het Ramaphosa se kabinet geen idee hoe om hierdie dringende nasionale krisis op te los nie.

“Die ekonomie het honderde miljarde rande verloor en miljoene Suid-Afrikaners het hul werk verloor weens beurtkrag, maar tog kry die ministers se enklawe in Bryntirion  steeds ononderbroke kragtoevoer.”

Volgens die DA was dit van die begin af ’n ondeurdagte besluit om hospitale nie vry te stel van beurtkrag nie. Die DA sê hulle sal elke hulpmiddel tot hul beskikking gebruik om hierdie oordeelsfout reg te stel en hospitale teen die ongerief van beurtkrag te beskerm.

Rapport het Sondag berig dat slegs die Uniegebou in Pretoria en parlement in Kaapstad in Nersa se dokument vrygestel word van beurtkrag. Selfs hospitale kry nie spesiale behandeling nie, hoewel daar ’n diskresie in die reëls is om uitsonderings te maak soos byvoorbeeld vir groot sportgebeurtenisse.

Toesigbesoeke wat die DA aan staatshospitale gedoen het om die impak van beurtkrag op die voorsiening van gesondheidsorg te bepaal, het aan die lig gebring dat die meeste van hierdie gesondheidsinstellings nie die nodige hulpbronne het om ’n stabiele kragtoevoer tydens beurtkrag te handhaaf nie. Een van die hospitale, Raheema Moosa in Johannesburg, het onbetroubare kragopwekkers en het dikwels probleme met dieselvoorraad om die kragopwekkers aan te dryf.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen ’n Openbare toegang tot inligting-aansoek (PAIA) op Eskom beteken. In die aansoek eis AfriForum inligting oor aktiewe kontrakte wat die nasionale kragvoorsiener tans met verskeie diensverskaffers het, insluitend steenkoolverskaffers asook vervoermaatskappye wat die steenkool aanry.

Volgens die organisasie laat die regering se rekord met betrekking tot die bestuur van staatsbeheerde maatskappye veel te wense oor.

AfriForum sê in ’n verklaring staatsbeheerde maatskappye het nou al sinoniem met korrupsie en wanbestuur geword en hulle sal glad nie verbaas wees as die uitdeel van kontrakte aan onbevoegde diensverskaffers met politieke bande een van die groot bydraende faktore tot die land se beurtkragkrisis is nie.

Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake, sê die inligting wat hulle met hierdie aansoek probeer bekom, sal hulle in staat stel om verdere stappe teen korrupte en onbevoegde amptenare en diensverskaffers te doen. Ondanks beurtkrag behoort Eskom as staatsentiteit nie Suid-Afrika in die duister te hou oor hoe hy kontrakte en tenders uitdeel nie,” het Mostert gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top