Misdaad en korrupsie bedreig Suid-Afrika se waardestelsel

  • 0

Die skade wat georganiseerde misdaad aan Suid-Afrika aangerig het, is enorm en hy weet nie of dit weer reggemaak kan word nie, so het die politieke ontleder Piet Croucamp Woensdagaand tydens ’n byeenkoms van die gespreksgroep DiNK in die Strand gewaarsku

Croucamp het ’n somber prentjie oor die land se huidige toestand geskets. Hy het onder andere verwys na luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi se bewerings van grootskaalse korrupsie tot op die hoogste vlak in die polisie en ander departemente. As dit wat Mkhwanazi sê, korrek is en die land se waardestelsel terminale skade gely het, weet hy nie of dit herstel kan word nie.

Hy sê die probleem in die land is nie tussen rasse nie, maar dit is al wat Ramaphosa ken. Daar is minder wantroue tussen wit en swart as wat daar wantroue in die staat is. Mense kyk na die werkloosheid, die ekonomie en verskeie ander sake, sê hy.

Miskien moet ons liewer vra hoekom daar nie ekonomiese groei is nie. “Iets sê vir my ons moet liewer iets doen om die ekonomie aan die gang te kry eerder as om kumbaya-geprekke te hou oor rekonsiliasie.”

Ons moet ook wonder wat gaan regtig aan in Suid-Afrika as mens kyk na die gemeenskaplike waardes wat in die Grondwet staan. Hoe moes hulle ontwikkel gewees het? “Die vraag wat mens jou vandag afvra, is wat het geword van die ooreenkoms wat die land met die skryf van ons Grondwet aangegaan het om ’n sekere stel spelreëls daar te stel wat vir almal sou geld?

“As dit wat Mkhwanazi gesê het, die kenmerk van die stelsel is waar die mag gesetel is, en hoe die bindweefsel tussen die samelewing en die staat lyk, ook tussen die ekonomie en die staat, watter impak het dit op die waardestelsel van die groter kompromis wat ons moet bereik in Suid-Afrika?

“Maar nog belangriker is die vraag of die waardestelsel weer reggemaak kan word as dit terminale skade gely het en of Suid-Afrika weer reggemaak kan word.

“Ek weet nie, want die skade is enorm. Die mate waartoe ekonomiese verhoudings gekriminaliseer is, is enorm. Ons kan nog vrede maak met korrupsie, want korrupsie kan aangepreek word as daar ’n soort van lojaliteit teenoor die stelsel is by die polisie, die nasionale vervolgingsgesag, ensovoorts. As jy egter by die punt kom waar georganiseerde misdaad begin militariseer, is dit ’n ander saak, en dit is ongelukkig waar ons nou is, en ek dink dis wat Mkhwanazi gesê het.”

Croucamp se opmerkings kom in dieselfde week waarin die Nasionale Veiligheistrategie-verslag vir 2024 tot 2028 bekendgestel is.

Die verslag beskryf Suid-Afrika as ’n stabiele en veilige land, ondanks bedreigings soos ’n moontlike staatsgreep, talle sluipmoorde, sabotasie, korrupsie en terrorisme.

Die Nasionale Veiligheidstrategie 2024–2028, tesame met die Nasionale Intelligensie-raming 2019–2024 en die Nasionale Intelligensie-prioriteite, is Dinsdag 15 Julie 2025 deur die minister vir staatsveiligheid in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, vrygestel.

Dit definieer strategiese prioriteite om Suid-Afrika se soewereiniteit, veiligheid en welvaart teen interne en eksterne bedreigings te beskerm.

Die bedreigings van sluipmoorde en sabotasie word gekoppel aan georganiseerde misdaad, politieke onstabiliteit, en moontlike pogings om ekonomiese infrastruktuur te ondermyn.

Die Nasionale Veilheidstrategie erken in hulle verslag korrupsie as ’n nasionale-veiligheid-risiko, veral na die bevindings van die Zondo-kommissie, wat beweerde misbruik van SSA-fondse en polities gemotiveerde operasies onthul het. SSA-fondse is die finansiële hulpbronne wat toegewys word aan die Staatsveiligheidsagentskap van Suid-Afrika. Die SSA is die land se primêre intelligensiediens, verantwoordelik vir die versameling en ontleding van inligting om nasionale veiligheid teen interne en eksterne bedreigings te beskerm.

Ondanks die Zondo-kommissie se aanbevelings oor korrupsie het geen betekenisvolle vervolging plaasgevind nie, wat kommer wek oor die regering se verbintenis tot hervorming.

Die Nasionale Veilheidstrategie beklemtoon die noodsaaklikheid van maatreëls vir die beskerming van die ekonomiese infrastruktuur, versterking van kuberveiligheid en weerstand teen terreurfinansiering en georganiseerde misdaad.

Kritici meen egter dat aanhoudende onderbefondsing en vaardigheidstekorte die intelligensiedienste se vermoë beperk, en dat swak beleidsbesluite nasionale veiligheid verder verswak.

Die vermelding van ’n moontlike staatsgreep het beduidende aandag getrek. Sommige beskou dit as ’n oordrewe of roekelose stelling wat moontlik bedoel is om politieke teenstanders te diskrediteer, of om die publiek se aandag van ander kwessies af te lei.

  • Fotografie: Jean Oosthuizen
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top