Misdaad in Suid-Afrika neem steeds toe

  • 0

Suid-Afrika het die afgelope paar jaar toenemende vlakke van misdaad ervaar. Al hoe minder mense voel veilig om ná donker selfs in hulle eie woonbuurte rond te loop.

Die kwessie van misdaad is een wat byna alle burgers ervaar, ongeag hul ekonomiese status of waar hulle woon. Dit blyk uit die jongste data wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is.

Volgens die nuwe data het huishoudelike misdade, met die uitsondering van diefstal van motorvoertuie, toegeneem vergeleke met die vorige jaar.

Individuele ervaring van misdaad het ook toegeneem, met die uitsondering van straatroof, wat in 2021/22 afgeneem het. Volgens die Governance, Public Safety, and Justice Survey (GPSJS) 2021/22 het die persentasie volwassenes van 16 jaar en ouer wat veilig gevoel het om bedags alleen in hul woonbuurte te loop, van 84,8% in 2020/21 tot 81,3% in 2021/22 afgeneem.

Meer as twee miljoen huishoudings in Suid-Afrika het die afgelope vyf jaar onder inbrake deurgeloop. Volgens die statistikus-generaal, Risenga Maluleke, se verslag oor slagoffers van misdaad het dit tussen verlede jaar en vanjaar met 14% toegeneem.

Die verslag fokus op spesifieke tipes misdaad wat huishoudings en individue ondervind het, asook die aanmeld van misdaad. Mense wat rooftogte ervaar het, het teenoor verlede jaar met 26% toegeneem.

Slegs 36% het veilig gevoel om gedurende die nag alleen in hul woonbuurt te stap. Vroue het in die algemeen veiliger gevoel om alleen in hul omgewing te loop as mans gedurende die dag.

Plattelandse inwoners het ook 'n groter gevoel van veiligheid gehad om alleen in hul gebiede te loop wanneer dit donker is as inwoners in stedelike gebiede. Sowat 48% (47,7%) het aangedui dat hulle iets gedoen het om hulself te beskerm. Sowat 30,4% van die bevolking het aangedui dat hulle net gedurende veiliger ure loop en 28,8% het aangedui dat hulle fisiese beskermingsmaatreëls vir hul huis getref het as die belangrikste ding wat hulle gedoen het om hulself teen misdaad te beskerm.

Slegs 3,8% het aangedui dat hulle 'n wapen (geweer, mes, skroewedraaier of lem) dra as die belangrikste ding wat hulle gedoen het om hulself teen misdaad te beskerm.

Byna die helfte van individue wat nie maatreëls getref het om hulself te beskerm nie, sê óf hulle meen daar is niks wat hulle kan doen nie (28%) óf hulle weet nie wat om te doen nie (21%).

Huisbraak is die mees algemene misdaad wat deur huishoudings in Suid-Afrika ervaar word. Altesaam 983 000 huishoudings het in die 2021/22-tydperk huisbraakvoorvalle ervaar. Die tweede mees algemene tipe misdaad wat deur huishoudings ervaar word, is huisroof, wat 155 000 huishoudings geraak het.

Aanranding is die derde mees algemene soort misdaad, wat 99 000 huishoudings raak. Data toon dat die ervaring van misdaad deur huishoudings toegeneem het vir huisbraak, huisroof, aanranding en moord. Motordiefstal in huishoudings het drasties afgeneem van 81 000 in 2020/21 tot 42 000 in 2021/22.

In Suid-Afrika word meer as 40% van huishoudings deur vroue gelei. Volgens die GPSJS is huisbraak meestal deur huishoudings met ‘n vroulike hoof en huishoudings in landelike gebiede ervaar.

Altesaam 99 000 huishoudings het in 2021/22 aanranding ervaar; dit is amper dubbel die 2020/21-syfers.

Kyk mens na ‘n uiteensetting van die syfers in die verskillende kategorieë vind mens daar het tydens die vorige boekjaar, 2021/22, 'n geraamde 1,4 miljoen gevalle van huisbraak voorgekom.

Die aantal voorvalle van moord het drasties toegeneem van 11 000 in 2020/21 tot 20 000 in 2021/22.

Diefstal van persoonlike eiendom is die mees algemene misdaad wat deur individue van 16 jaar en ouer in Suid-Afrika ervaar word. Dit het van 732 000 in 2020/21 tot 1,1 miljoen in 2021/22 toegeneem.

Vroue, persone tussen die ouderdomme van 16 en 34 jaar en diegene wat in stedelike gebiede woon, was die meeste geneig om diefstal van persoonlike eiendom te ervaar. Oor die algemeen het die meeste slagoffers (69,2%) van diefstal van persoonlike eiendom nie die voorvalle by die polisie aangemeld nie.

Daar was ook 'n aansienlike toename in kapings tussen 2020/21 en 2021/22, met ongeveer 330 000 persone wat kaping ervaar het gedurende die afgelope vyf jaar.

Oor die algemeen het gevoelens van veiligheid sedert 2019/20 afgeneem.

Vir meer inligting, laai die volledige verslag hier af.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top